Pages

Sunday, May 19, 2013

Scheepers - die familie-trots

Ek wonder hoeveel mense sal kan raai wie die man op die foto is? As mens nou so 50 jaar of dalk meer terug die foto rondgewys het, was dit dalk 'n ander storie - dan sou mense dalk vinniger geweet het wie dit was. Aan die ander kant, was daar nie TV's en internet en vinnige-foto's-aanstuur-tegnologie soos vandag nie, so mense het dalk die NAAM geken, maar nie die gesig nie.

Ek was seker so 10 jaar oud toe ek eendag tussen my ouma se interessante boeke afgekom het op 'n klein boekie oor Gideon Scheepers. Ek onthou nog daardie tyd - hoe trots ek gevoel het dat daar iemand so bekend in ons familielyn was. Ek onthou ook hoe ek toe daarna opgewonde geraak het toe ek uitwerk dat Sarel Cilliers - die bekende trekleier - dan ook verweg familie van my ma (wie se nooiensvan Cilliers is) moes wees. Hierdie patriotisme het redelik sy draaie gemaak in ons gesin en my ma-hulle het altyd vol glimlagte vertel hoe my oudste boetie op 'n stadium geweier het om engels te praat nadat hy die deel van ons Afrikaner-geskiedenis geleer het waar die Engelse die varke in die verhaal was.

Nouja, 'n hele paar jaar later is ek baie minder patrioties as toe, en het ek darem ook nie meer 'n wrok in my hart teenoor die Engelse nie ;-). Maar, dit is nogsteeds interessant en soms verskriklik hartseer om weer te lees of te hoor oor die tyd van 1899 - 1902, toe daar in Suid-Afrika oorlog was tussen die Boere en die Engelse. Die groot geveg het maar basies daaroor gegaan dat Engeland die rykdomme wat ontdek is aan die Rand, wou he. Gideon Scheepers het 'n groot rol gespeel in daardie tyd, veral ten opsigte daarvan om die Engelse se kommunikasie te verbreek en spoorlyne op te blaas. Hy is gevang nadat hy te siek geword het om eers op te staan en is toe gevonnis as 'n rebel, asof hy 'n burger van Engeland was (die kaapkolonie was deel van Brittanje). Hy is doodgeskiet deur die Engelse en sy lyk is weggesteek, en daaroor is daar selfs nou nog baie spekulasie oor wat die rede daarvoor sou kon wees. Tot vandag toe nog het niemand sy graf gekry nie. Daar word oor die algemeen gedink dat hy le waar die dam in Graaff Reinet gebou is.

Hoe is dit nou gekonnekteer met ONS storie, hoop ek is wat julle wonder? Ons volgende karakter - die van der Merwe, het met 'n Scheepers getrou, en hulle eerste seun was die Gideon Scheepers. Die boereheld. Daar is vir hom 'n gedenkteken opgerig in Graaff-Reinet wat nog baie gewild is,



 maar daar is ook op die familieplaas naby Middelburg in die familie-kerkhof 'n standbeeld opgerig vir hom.



Hierdie oudste seun van Sophia Charlotte Scheepers, wie sy oupa se naam - Gideon Jacobus Scheepers gehad het, was sekerlik haar trots. Hy was ook 'n held onder die boere. Hy is al vergelyk met William Wallace, en net soos is "Braveheart" het stories oor Gideon se oorwinnings almal bereik (in effense groter en beter vorm natuurlik!). Nadat sy ma gehoor het van sy dood, het sy elke nou en dan woord ontvang van iewers in die land dat iemand hom gesien het. Of dat daar iemand is wie sĂȘ dat hy Gideon is. Dan het sy gewoonlik die lang pad aangedurf om te gaan kyk of dit nie miskien hy is nie, maar het dan elke keer teleurgesteld teruggekeer na die plaas. Sy het nie geglo dat hy dood is nie, en het tot op haar 100ste verjaardag nog gewag dat hy moet huistoe kom. Sy is 4 maande na haar 100ste verjaardag oorlede. Sy het tot aan die einde geglo dat Gideon nog eendag sal huistoe kom.

No comments:

Post a Comment