Pages

Friday, January 25, 2013

Die vrou van die voortrekker-tyd

http://www.tatham.org.za/0522.html - webtuiste met pragtige kunswerke!

Dit is darem maar nie maklik om 'n vrou te wees nie! Dink jou net in dat jou man en al sy vriende opgewonde is oor 'n reuse-avontuur, almal praat van die "beloofde land" anderkant die berg, daar waar die gevaar minder is en die grasvelde groot en oop is. Maar jy is lief vir jou huisie in die dorp, en die mense om jou en die gemak van alles. Nou staar jy dit in die gesig om vir maande aaneen dalk in 'n wa te woon. In ons terme sou dit seker 'n karavaan gewees het, of 'n "Camper".

Selfs vandag is daar vroue vir wie dit net een te veel sou wees. Ander sou dit sien as 'n wonderlike avontuur! Maar tog, wanneer jy begin kinders kry, is avonture nie wat dit eens op 'n tyd was nie. Mens is maar bietjie meer versigtig as vroëer, en neem nie maklik risiko's of gevaarlike besluite nie.

Dit is hoe ek myself indink dit moes gewees het in daardie tyd. Sommiges was vuur en vlam vir die besluit om te trek, en ander was maar sku. Baie mense het getrek, maar daar was ook maar baie wie agter gebly het weens baie redes.

Wat sou ons doen as ons daardie tyd gelewe het? Ek het gelees dat ons dorpe regtig pragtig was - selfs toe. Graaff Reinet was 'n gemaklike dorp met 'n mooi kerk en 'n goeie gemeenskap mense. Die mamma's het klein kindertjies gehad wat sommer maklik kon wegraak in die lang grasse wat soos 'n see gelê het voor die waens uit. Daar was derduisende dier wat saamgetrek het, en blykbaar was daar lank daarna nog 'n brëe pad wat oopgetrap is na die Trekkers in Desember 1836 daar uit Graaff Reinet getrek het.

Winburg was  die eerste oorstaanplek. Naderhand was dit seker so 'n gemaklike dorp, en ook later verklaar as 'n nuwe distrik, dat mense soontoe getrek het van Graaff Reinet en ander distrikte uit die Kaap-kolonie.

Ek kan myself net indink hoe die vrouens die nuutste modes nagevolg het uit die Kaap, en hoe die wie al 'n rukkie lank in Winburg gewoon het, opgewonde gewag het as daar mense van Graaff Reinet en uit die Kaap uit aangekom het. Hulle was sekerlik van kop tot tone deurkyk om te sien hoe lyk die nuwe lappe en pragtige kant.

Die kappies wat hulle gedra het was met die hand gemaak en kon maande neem om klaar te maak. Dink net hoe lank daardie pragtige rokke dan sou neem! Om dan dalk net dit te dra en dan te besef dat die mode weer verander het! Miskien het die tyd darem ook nie so vinnig geloop dat dit sou gebeur het nie.

Net soos nou, was daar toe mense met buitengewone vermoeëns om te skep. Skilders, musikante, naaldwerksters. Blykbaar het elke gegoede Afrikaanse huis 'n klavier gehad. Mense het meubels en plaasgereedskap van oorsee af ingevoer en die offisiële taal was eintlik Engels, hoewel meeste mense nog Afrikaans gepraat het, gemeng met hulle oorspronklike taal - Duits, Hollands of selfs Frans. Baie gesinne het hulle kinders oorsee gestuur om verder te gaan leer, maar die kinders het gewoonlik teruggekom en in Suid Afrika 'n lewe gemaak.

Die vrouens was egter, soos in die res van die wêreld, die moeders en tuiste skeppers. Hulle was altyd maar bedrywig met huislike takies en om om te sien na ander wie siek of honger was. Hulle was slim met hulle werk, en het ook, as hulle welaf was - huisbediendes gehad om te kon help.

Die Afrikaner vrou was onderdanig aan haar man, en sou hom volg - selfs op die Groot Trek. En sy sou by hom bly en hom ondersteun, omdat sy ook 'n gevoel van patriotisme gehad het. Later in ons geskiedenis, was dit gesê, was die Afrikaner vrou - meer as die man - bereid om te sterf en op te offer vir volk en vaderland.

Sunday, January 20, 2013

'n "Sneak-peek"!

Hier is 'n uittreksel uit ons boek, met een van die sketse wat klaar is -


Fourie Ackerman se werk is pragtig! Hierdie is oom Joel Berman in sy winkel in Graaff Reinet




Wanneer hulle oor die skemer drumpel tree van oom Joel Berman se Algemene Handelaar voel sy sommer stukke beter. Binne is al die bekende geure.
“Herzliche goeie mittag Frau Papenfus en die kleine Mädchen,” groet oom Joel vriendelik.
“Goeiemiddag, Joel,” groet Moeder.
“En wat doen ik vandag voor u?” vra oom Joel sy gewone vraag. “Mischien een saal voor miester Papenfus se paard? Ik heb vandaag nieuwe gekryg von miester Bain. Of mischien nieuwe scherpe naalden voor die naaldewerk?”
“Nee, Joel, net die gewone kruideniersgoed. Meel, suiker, sout, boerseep as jy het, en kerse en lampolie, asseblief. Hier is my houers.” Catharina haal glas- en blikhouers uit haar groot mandjie en oorhandig dit aan die kort mannetjie.
“Sekerlik, sekerlik, miesies Papenfus.” Oom Joel begin werskaf met die skepbak in die sakke agter in die hoek van die winkel. “Miester Papenfus het al gehoor van die ammunisieverbod?”
“Watter ammunisieverbod, Joel?”
“Governor D’Urban wat geproklameer het ons mag geen lood of kruit meer aan trekboere verkoop nie.”
“Waarom sou hy so ‘n nare ding doen, Joel?”
“Om die trek na die bieneland te stop. Die beste boere trek, ook geleerde manne en vakmanne. Die regering wil diet stop. Wat sal nog verder gebeur, wie weet?”
Oom Joel weeg sorvuldig elke ding terwyl hy gesels. Hy dra die gevulde houers aan na die toonbank toe.
“Soja, hier is die meel, die sout, die suiker. Net ein oomblik, dan haalde ik die boerseep en lampolie en kerse.”
Feitjie kyk die kort mannetjie agterna terwyl hy haastig met sy krom beentjies en die lampolieblik in sy hand na die donkerte van die agterste rakke verdwyn. Sy wonder oor die koddige ronde dotjie wat hy agterop sy kop dra en die wit fraaiings wat onder sy baadjie uithang. Sy besluit om later vir Vader daaroor uit te vra. 
Moeder laat oom Joel alles opskryf in sy boek, want Vader kom hom betaal aan die einde van die maand. Oom Joel kwetter nog aan oor die nuwe wette, dan groet Moeder al en hulle stap terug in die koel agtermiddag met hul mandjies propvol.

Saturday, January 19, 2013

Skrywertjie - ons eerste boek!

Ons eerste boek se manuskrip is nou weggestuur, en DIT IS SO OPWINDEND!! Die titel is  

"Die Sophia Charlotte Verhaal - Skrywertjie".

Ons wag nou nog vir die kunstenaar (Fourie Ackerman) se pensketse en skildery. Die skildery sal vir die voorblad gebruik word en die pensketse kom vooraan elke hoofstuk. Dit gaan vreeslik mooi lyk!

Fourie skilder meestal "murals", as julle ooit kans het, gaan kyk na die "murals" wat hy gedoen het by die Pretoria se dieretuin, of as julle bietjie verder ry - by Memel se museum. Dit is juis hoe my ma op hom afgekom het - hulle was oppad na ons toe op my skoonpa se plaas naby Newcastle en toe hulle deur Memel ry sien sy (my ma) toe die "murals" by die museum. Hulle stop toe om te gaan kyk en daar is Fourie toe toevallig. Sy vertel hom toe sommer dadelik van die boek en hy stem toe in om vir ons die tekeninge en die voorblad te doen.

Ek sal ook teen die middel van volgende maand ons winkel "web-site" finaliseer vir die verkope van die boek, sodat julle solank julle bestellings kan plaas. Ons kan nie WAG nie!

Ons sal iewers in die week die pensketse ontvang en dan sal ons dit ook kan inscan en stuur vir die uitgewers. Dan moet ons nog so week kans gee vir die skildery! Ek sal dit op die blog sit sodra ons dit het!

Watse oulike idees kan julle aan dink vir die boek se bekendstelling?

Monday, January 7, 2013

"Rewind" gou bietjie, asb! (die plaas Roodepoort)

Toe ek nou uiteindelik my blog post oor die 2 dae se avontuur, besef ek dat ek nooit vertel het regtig van ons avontuur toe ons die plaas Roodepoort gesoek het nie.

Ek het natuurlik my goeie vriend - Google - gevra waar die plek is, en kry dit toe op "eggsa" se website. (http://www.eggsa.org/library/main.php?g2_itemId=1390234) -met GPS koordinate en alles! BAIE opgewonde, neem ek toe my kans waar toe ons in die middel van laasjaar na my klein-niggie se verjaardag toe gegaan het in Nelspruit. Ek reken toe dat ons oppad soontoe, net die koordinate in kan sleutel in ons GPS, en "gou-gou" gaan kyk hoe lyk die plaas nou!

Vreeslik opgewonde, het ons toe dit gedoen, maar "ons" is toe ek, my seuntjie - Declan, my sussie, en haar drie kindertjies (Nikolai, Miane en DW) en ook my ma. En die kindertjies is almal 5 jaar oud en jonger.... Nouja - dit is toe nie SOVEEL pret om met 'n kar vol kindertjies 'n plaas te soek nie, en soos ons verder ry, was dit ook darem BAIE duidelik dat meeste van die plase daar, opgekoop is deur die myne. Nouja, na 'n paar keer se "lost satelite reception", en "recalculating" van die GPS se kant af, besluit ons toe - moedeloos, om die soektog te stop en Nelspruit toe te gaan.

'n Hele rukkie daarna, in een van my verwoede Google-soektogte, kom ek toe op 'n facebook-page af wat die VF+ gemaak het (let wel ek "promote" geen politieke party of sieninge deur die blog nie!!) oor Gideon Scheepers. (sien die page - https://www.facebook.com/notes/vryheidsfront-plus-freedom-front-plus/gideon-scheepers-afrikaner-held-/489283809179) en daar lees ek toe Talita se kommentaar op die brokkie inligting oor Gideon Scheepers! Dit is die presiese plaas wat ek soek! Na baie probeer, kry ek haar toe in die hande, en sy verduidelik my presies hoe om daar te kom!

Die keer was dit ek, my ma, tannie Babsie en my dogtertjie wat saam was, enw at 'n wonderlike ervaring was dit nie gewees nie!

Nouja - die res weet julle seker nou al, behalwe dit wat ek nog nie vertel het nie!

Sunday, January 6, 2013

Botshabelo - 'n hartseer storie!

Ons laaste stop op ons avontuur (sien die post "twee dae se pret") was by die sendingdorpie - Botshabelo. Die Sendingstasie is gestig deur twee Duitse sendelinge - Alexander Merensky en Heinrich Grutzner in 1865. Merensky het die plaas Boschhoek van Jan Abraham Joubert gekoop, en dit is waar hy die Sendingstasie ontwikkel het. Daar was 'n Fort gebou om hulle mense te beskerm nadat hulle vorige sendingstasie aangeval was deur die Pedi's onder leiding van Sekhukhune. 

Die "dorpie" het vinnig ontwikkel en het landerye, tuine, winkels, huisies en selfs 'n skool gehad. Daar was 'n steenmakery, 'n bakkery en wit en swartmense het saamgeleef soos die post-apartheid Suid Afrika seker maar net van kon droom. 

In 1873 is die groot kerk gebou (op die foto) - die eerste en vir baie lank die grootste kerkgebou in Transvaal. In dieselfde jaar was daar ook 'n skool vir die kinders gestig en in 1878, 'n skool vir evangeliste. Teen hierdie tyd was Botshabelo se bevolking groter as Middelburg s'n! In 1906 was daar 'n opleidingskool vir onderwysers gestig. In die 1930's was daar 'n verdere lareskool gebou en in 1940 'n hoërskool met 'n koshuis. 

Teen 1873 was daar reeds 1360 mense wat op Botshabelo gebly het.

In 1962 het die Berlynse Sending Organisasie (wie vir Merensky en Grutzner gestuur het) begin ontrek uit Suid Afrika weens finansiele druk, en in April 1971 het die ou kerkklok gekraak gedurende 'n kerkdiens. Die mense het dit gesien as 'n slegte teken en het binne 'n jaar begin wegtrek.

Volgens 'n verslag wat die Kommisaris van die "land-claims" vir die minister van "agriculture and land affairs" geskryf het in 2003 is Botshabelo en 8 plase rondom se mense in 1938 verklaar as "squatters". In 1960 was daar toe besluit dat hierdie "squatters" moes hervestig word in die afgebakende dele waar swartmense mag gewoon het. In Augustus 1970 het die Berlynse Sending organisasie Botshabelo verkoop aan die Middelburgse Munisipaliteit en in daardie selfde jaar is 160 famlies geskuif na Motetema.

Na 'n suksesvolle "land-claim" in 2002 is daar nou vir 700 huishoudings grond teruggegee wat Botshabelo en die 8 plase rondom insluit.

Ons besoek was egter ontsaglik hartseer. Daar gaan duidelik niks aan nie. Die mense wie nou op die grond woon sien nie na die omgewing om nie, en dit is basies nou 'n spook-dorpie.

Die ou huis waar Merensky en sy gesin gewoon het, staan oop, en oudhede lê elke vetrek se vloer vol gestrooi. Foto-albums, klere, en huis gereedskap. Maar ons moes toegangsfooie betaal om in te gaan!

Die ou winkelstjies staan almal toe, die perde by die perdry-ritte is weg, die gras groei oral deur en die mense waarsku ons om nie by al die plekke rond te loop nie, want daar is slange en perdebye!

Ag, so wat sal mense daarvan sê?

Die konsep daarvan om land terug te gee vir mense wie onder die apartheids-wette geforseer is om iewers anders te gaan bly, is goed en reg. Die hartseer lê seker maar net daarin dat die plekke dan gewoonlik afgeskeep en tot niet gaan. Ons kan nie toelaat dat ons emosioneel raak daaroor nie, want dit is die verloop van die lewe. In elke land, en in elke volk se geskiedenis het daar uiteindelik 'n tyd gekom waar die wie onderdruk was hulle kans waarneem en enige herinnering wil uitroei van die wie hulle onderduk het (nie dat almal nou so voel noodwendig nie, maar dit lyk tog of dit so gebeur).

Die goeie ding is dat ons darem nog 'n beurt gehad het om dit te kon sien. Ons het foto's geneem, en dit sal ook in ons boek "feature" en so bewaar ons darem so 'n stukkie van wat nou verlore is.

Die werk wat die sendelinge daar gedoen het is ewig, en dit wat ons op aarde het is tydelik. Daarom hoef ons nie hartseer te wees oor die verwoesting wat nou plaasvind nie - ons het nogsteeds stories om te vertel om te kan onthou.

Kyk gerus al die foto's op my facebook profile - 
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151204901088981.467235.715933980&type=3     


 

Saturday, January 5, 2013

twee dae se pret!

Sjoe! Wat 'n avontuur was dit nie gewees nie. Ek voel of ek nou 'n "speech" moet maak en eers almal moet bedank wie dit moontlik gemaak het en 'n glasie moet klink tot hulle eer!

Ek wonder wat is dit met 'n mens dat ons so 'n gevoel van heimwee kry as mens loop op dieselfde grond wat mense wie jy iets van weet geloop het. Soos al die mense wie elke jaar na Israel stroom, om te loop waar Jesus geloop het, of die mense wie na die Aztec tempels gaan kyk of die Romeinse ryk se amfiteaters en ruïnes.

Dit is so bietjie hoe ek gevoel het toe ek en my boetie die eerste plaas-afdraai neem. "Generaalsdraai" was die plaas se naam, en ek het geweet dat dit grens aan die plaas wat ons soek, net omdat ek laasweek kaarte op die internet gekry het wat dit so mooi uitmerk.

Die storie van die plaas is dat Generaal Piet Joubert oppad was om met die boere te gesels en hulle te kalmeer sodat hulle nie in opstand kom nie, en toe het hulle op die plaas aangekom en oornag daar. Die volgende oggend vroeg het die bode egter die nuus gebring dat alles onder beheer is en dat die Genl maar kan omdraai huistoe. Dit is toe nou waar die Generaal gedraai het - vandaar "Generaalsdraai".

Oom Herculus - wie huidiglik die einenaar is van Generaalsdraai het ons so vriendelik ontvang en ons vreeslike interessante stories vertel van die geskiedenis wat hy ken. Hy self is net so 'n interessante oom, en ek dink ons was omtrent 2 ure lank besig by hom!

Oom Hercu vertel iets interessants

Daar is soveel goed wat ons daar uitgevind het. Ek sit al klaar weer aan die anderkant van die land op my skoonpa se plaas anderkant Newcastle, en my notaboek lê by die huis, so hierdie blog sal net sulke "bits and pieces" wees van ons ervaring.

Blykbaar het die grootste deel van die plase aan die Bekkers behoort destyds. Hulle was 'n skatryk familie wat onder andere op Generaalsdraai gebly het. Daar is twee interessante Bekker-grafte op die plaas, die een was die Bekker-dogter wie getrou het met 'n Marais, wie haar toe verdink het in die dam op die plaas. Sy was maar 21. Die Bekker-seun se graf is ook op die plaas, en hy het selfmoord gepleeg nadat sy pa hom belet het om by die bywoner se dogter te gaan kuier.

Aletta Susanna Marais gebore Bekker 29 Maart 1872 - 4 Sept 1893


Oom Hercu het toe ook vir ons presies vertel hoe om op die spore te bly sodat ons nie vassit in die modderpaaie nie, en ook hoe om tot by Wintershoek te ry!

By Hendrik Bekker se graf

Hendrik Jacobus Bekker gebore 1 Mei 1846 - 18 April 1893

Die grafskrif vir Hendrik se graf
Ons het toe nie so maklik die plaas gekry nie, seker omdat hy nie meer so prominent gemerk word nie. Om Hercu het darem ook vir ons die huidige eienaars se name en nommers gegee en ons kom toe aan by Oom Hennie Marais op die plaas Nelgrif.

Nelgrif kom van die Nel dogter wat met die Griffiths-seun getrou het, en dit lyk asof dit oorsponklik deel van Wintershoek moes gewees het. (My kaart hier onder is nie so duidelik nie, maar Nelgrif is die een wat so stukkie van uitsteek tussen Generaalsdraai en Witklip.


In elk geval - daar kry ons toe 3 stelle murasies (op Wintershoek) en ons is nie heeltemal seker wie daar gebly het nie, behalwe van die een waar die Beukes-familiegrafte is.

Hierdie huis was so entjie weg van oom Hennie Marais se huis af, en dit lyk asof dit 'n pragtige ou kliphuis was met sy eie fontein wat gelei is na die huis toe en ook afgelei is na 'n dam toe. Daar staan massiewe ou vrugte-bome rondom die huis en baie bome het ook in die huis begin groei!


Kyk hoe mooi is die mure gebou - die een kant is met klei en die anderkant met sement - miskien dui dit maar net daarop dat dit latere jare reggemaak / versterk is?


Die natuur se wraak op die ou plekkie - dit lyk so mooi!


Kyk hoe groot is die vrugtebome al!


Hierdie was 'n pragtige ou huis met baie bome en 'n goeie vrugteboord. Ek wonder hoe dit gelyk het in sy fleur!


Kyk die soliede klip wat gebruik is as lintels.


Die volgende plekkie waarna ons gaan kyk het was waar die kerkhof was van die Beukesse. Beukes is verbind aan ons karakter want, dit was haar dogter wat met 'n Beukes getrou het. Ek glo dat dit is die huis waar ons tweede Sophia Charlotte oorlede is (dit was toe haar dogter se huis). Ek sal wel met tannie Babsie bevestig of die huis wel met klein bakstene gebou is, met hoë mure, en drie akkerbome voor die huis was.

Hierdie is die kerkhof

Ant Lettie se graf - dit was Sophia Charlotte Scheepers se dogter

Ooms Awie se graf - Ant Lettie se man

Ant Lettie se seuntjie wat oorlede is toe hy maar 12 jaar oud was. Tannie Babsie kan nog onthou dat haar ma-hulle deurgery het om hom te kom haal om hospitaal toe te neem, maar hulle was te laat. As ek reg kan onthou het sy blindederm gebars.











Die "view " van die plek waar die huis was van die kerkhof se kant af.

Die murasie van naderby

Ek dink hierdie was dalk die huis se kelder



Hierdie huis se mure was baie hoog



Nouja, die laaste klomp murasies waar ons toe gaan rondloop het, was in 'n groot Populier-bos waar net 'n stukkie van 'n windpomp uitsteek van die pad se kant af.

 Hierdie is die windpomp wat uitsteek en hier onder is 'n datum wat nie te oud is nie, want dit is al darem in die 1900's.

 Hier begin die huis - wat ons gesien het is dat hy 'n stoep gehad het- met trappies aan die regterkant en aan die linkerkant.
 Hierdie lyk al klaar groter as wat die gewone grootte huis is van daardie tyd, maar tog is die klippe-boustyl dieselfde.
 Die vertrekke in die huis is ook heelwat groter as normaalweg, ons het selfs pype teen die mure gesien wat wys dat daar lopende water moes gewees het? Was dit dalk maar later aangebring of was ons boer-mense so slim dat hulle dit al in die 1800's kon uitwerk?

Soos mens deur die een vertrek na die volgende gaan, is daar net nog en nog en nog van die huis. Dit was werklik 'n MASSIEWE huis!


Hierdie was 'n entjie boontoe van die huis af - dit lyk darem asof dit krale was.


Na die ekspidiesie het die boer Kobus Marais, ons gehelp met die pap wiel wat ons opgedoen het toe ons met hulle oprit opgery het.


Van daar af het ons nog 'n hele lang lys mense gehad om nog te gaan soek, wat Oom Hercu vir ons gegee het, maar dit was toe al 4-uur gewees en ons ry toe maar in die rigting van die gastehuis op Boschpoort, maar stop toe eers by die Lambrechts.

En hoe lekker het ons toe nie DAAR gekuier nie! Christo en Annatjie is sulke gasvrye mense, koffie en beskuit was vollop en gesels nog meer volop! My boetie Johan het gehelp met die bou van 'n legkaart waaraan hulle gewerk het in die sitkamer, maar dit was omtrent al bydra wat ons kon maak terwyl ons daar gekuier het! Naderhand is dit toe al 8-uur en hulle se toe dat hulle dink die gastehuis is nie meer in werking nie, en dat ons daar by hulle kan oorbly! Dit was wonderlik!

Die volgende oggend, na 'n lekker boere-ontbyt, is ons toe weer oppad na Roodepoort (die plaas naby Wintershoek). Die doel daarvoor was om te kyk hoe ver Wintershoek, waar Ant Lettie gewoon het, van Roodepoort is, waar my oupagrootjie Botha gewoon het. Nouja - miskien soos die kraai vlieg, is dit tussen 8 en 10 km, maar soos die pad gekronkel het, was dit 17km!

Op Roodepoort het ons al 'n vorige keer vir Talita ontmoet, en sy het ons toe vinnig weer gekry by die Scheepers famlilie-kerkhof. Geelbooi was ook daar en het ons gewys waar die Scheepers-huis was en ook die Botha-huis. Ons sal maar op 'n ander keer daar moet gaan stop, want die mense wie nou daar bly was nie baie opgewonde om ons te sien nie, want dit is mos maar kersfeestyd en drinktyd :-). Blykbaar het dit witmense dikwels soontoe gekom en vir Geelbooi belowe hulle sal hom betaal om die kerkhof skoon te hou, maar hulle het nooit gekom om hom te betaal daarna nie, en dis hoekom dit nou lyk soos dit lyk.

foto geneem van Sophia Charlotte Liebenberg, nee Scheepers (links) en Sophia Charlotte van der Merwe, nee Papenfus (regs) se grafte

Oorsig - geneem die vorige keer toe ons daar was!


Middelburg was volgende, en ons het eers gou die wiel (my kar se wiel wat 'n gat ingekry het op Wintershoek) laat regmaak en toe by die witkerk gaan stop. Wat 'n mooi ou kerkie. Dit was natuurlik toe gewees, so ons sal maar eendag moet draai daar om die binnekant te kan sien. Hulle het nogal interessante geskiendenis op hulle website - www.witkerk.co.za


Vir nog foto's kyk gerus op my facebook profile:
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151205759918981.467351.715933980&type=1

Nouja - dis nogal 'n mondvol vir eers.

Om te "re-cap" op wat ons nou eintlik gekry het - ons weet nou presies waar die plase was, is redelik seker in watter huise ons karakters gebly het, en hoe die weer en omstandighede moontlik was in daardie tyd. Daar is egter soveel vrae wat bygekom het - soos meer inligting oor die Bekkers, en of hulle mekaar geken het, en hoe ons karakters inmekaar geweef was.

Ons sal natuurlik die antwoorde kry, maar julle sal moet wag totdat die boek(e) gepubliseer is en te koop is!