Pages

Wednesday, May 8, 2013

Dag een - Winburg en Bloemfontein (updated)

Ons sit nou in ons kamer by die "Angel's Haven" gastehuis in Bloemfontein na 'n lekker vol dag van geskiedenis. Ek dink nie ek het ooit geweet dit sal SO lekker wees om so rond te ry en "ou" goed te bekyk nie!

Ons het 6h00 vetrek vanuit Daleside, by my ma-hulle se huis, en dit was pragtig mistig tot anderkant Sasolburg.



Die kaal velde van die Vrystaat het vinnig begin verby ons vlieg en voor ons mooi agterkom dat ons al so ver ry, is ons toe in Winburg. 

Dit lyk asof dit 'n pragtige dorpie was. Mooi, ou huise en geboue is oral te siene. 




Ons het eerste die Voortrekkermonument gesoek en hom ook gekry, maar alles was toe agter slot en grendel. Ek dink Estelle het gesĂȘ dat die Erfenisstigting die plek nou sal oorneem, mens kan sien dat daar iets in die ou museum met "bubble-wrap" gedoen word, maar verder is die grasse lank, enige iets wat tekens van koper gehad het is afgebreek, uitgehaal en weggevat. 

Hier was 'n koper-plaat op, wat uitgekap is

al die beligting en kabels is uitgeruk


Dit is regtig 'n indrukwekkende plek, wat definitief pragtig moes wees.







President Steyn se geboorteplek was destds 'n museum. Die bord is nog daar,en die ou kliphuisie, maar die deur is oopgebreek en die huisie is leeg.



Net buitekant die monument-gronde is die Wessels-familiekerkhof met pragtige ou grafte van die Voortrekker tyd.



Ons het toe ook natuurlik die konsentrasie-kamp grafte gaan soek, en dit is toe mooi op die vullis-gronde! Hoe verskriklik! Mens kan darem ook sien dat daar onlangs skoongemaak is - seker ook die erfenisstigting se harde werk gewees?




Laastens het ons gou na die Winburg-kerkie gaan kyk. Hier het Feitjie en Schalk (in "Skrywertjie") gewoon en  Gideon Scheepers se ma is gebore, voordat hulle op die plaas Wonderfontein gaan bly het naderkant Middelburg.






Hierdie was moontlik die Dominee wie by die kerk geleer het toe Feitjie en Schalk daar gewoon het


Dit is hoe die kerkie gelyk het toe Schalk en Feitjie in Winburg gewoon het




Charmatjie het haar baie mooi gedra en was die hele pad baie soet en oulik!

Van Winburg af het ons Bloemfontein toe gery, en natuurlik was die groot doel om die Vrouemonument te gaan sien met die mooi standbeelde! En dit is regtig asemrowend mooi! 




Ongelukkig was die museums, die restaurant en basies alles on renovasies, wat 'n bietjie van 'n teleurstelling was. Johan van Zyl was darem so gaaf om ons die nuwe kinder-museum te wys. Blykbaar gaan hulle 'n groot seremonie hou op die 9de Augustus en alles weer oopmaak. Op vrouedag en die dag sal handel oor die lyding van vroue en kinders. Klink heerlik! Hier is gedenkstene van sommige van die konsentrasie-kampe waar ons Sophia Charlotte's in was.





Die Banneling:
 Die bitter-einder



Toe raak die dag bietjie lank vir my klein Charma-kind, en sy is toe nie lus om na die Bram Fischer-huis, of die ou presidensie of enige van die ander mooi ou geboue te gaan kyk nie. Ons het darem Hendrik Frederik Dietlof Papenfus se graf gekry in die "Brand-kerkhof". President Brand se dogter het met hom getrou.



Laastens het ons toe na die gebou by die stasie gaan kyk waar Milner en Kruger die besprekings gehou het voor die Anglo-boereoorlog toe hulle wou kyk of hulle nog die oorlog kon vermy. Dit was die enigste gebou in Bloemfontein wat 'n groot genoeg ronde tafel en saal gehad het vir al die afgevaardigdes om te ontmoet.

Nouja - nou is my popsie honger en dors en sy moet gebad en in die bed gesit word. More is dit Graaff Reinet!

No comments:

Post a Comment