Pages

Sunday, October 20, 2013

Weer 'n boekbekendstelling!

Sjoe, die tyd vlieg! Ek het 'n maand laas iets gepos op hierdie blog, hoewel ek darem bietjie navorsing gedoen kon kry. Ek sukkel my nog morsdood om ons derde Sophia Charlotte se nageslag (direkte) op te spoor. Ek het nou al foto's gekry van haar kinders en kleinkinders, ek weet waar haar graf is, en haar man s'n. Ek weet selfs waar haar een dogter afgetree het.

Maar daar is nog soveel vrae!

Intussen moet ek my fokus nou weer terugskuif na ons volgende boekbekendstelling toe. Ons boek is klaar en gereed vir 'n lekker aand. Ek weet van niemand anders wat so vinnig 'n reeks boeke skryf nie, maar nouja, as daai Sophia Charlotte bloed in jou are vloei, is dit seker maar hoe dit werk!

Hier is ons uitnodiging:





Liewe Familie en Vriende (en blog-lesers!),
Baie dankie vir elkeen se ondersteuning met die bekendstelling van ons eerste boek, Skrywertjie. Dit was baie dapper van jou om geld uit te gee om dit te koop, nie wetende wat om te verwag nie. Dankie vir dié van julle wat my met mooi woorde aangemoedig het omdat jy met vriendelike oë ons boekie gelees het.


Indien daar nie ‘n ‘Errata’ papiertjie agterin jou boek geplak is nie, let asseblief op die volgende:
SKRYWERTJIE ERRATA
Bl.70      Prinses Charlotte se brief, vierde lyn: George ipv Charles
Bl. 84,  3de paragraaf, 3de lyn: Paradysvoëlblom
Bl. 132, 5de paragraaf: wonderlike nuus
Bl. 145, 9de paragraaf, 4de lyn: Oujaan
Bl 152, 6de paragraaf: om koffie te maak


               
 
Jammer vir die foutjies wat deurgeglip het.
Hierdie is om jou te laat weet dat die tweede boek in die reeks Moedertjie gedruk is en gereed is vir verspreiding. Dit handel oor die volgende Sophia Charlotte in die lyn, naamlik my Oumagrootjie wat gedurende haar leeftyd albei die Vryheidsoorloë sowel as die Wêreldoorloë in ‘n mindere of meerde mate beleef het. Soos in die eerste boek, is die verhaal rondom geskiedenisgebeure en familieverbintenisse en –verhoudings geweef.  In hierdie boek kon ons heelwat foto’s gebruik, asook weer ‘n paar pragtige sketse deur Fourie Ackermann. Die voorblad is ook weer deur Fourie gedoen met ‘n ou foto van my Oumagrootjie as basis. My dogter Rut het weer uitstekende navorsingswerk gedoen wat heelwat verrassings opgelewer het. Weereens was dit opwindend om die fiktiewe vertelling te verweef met die werklike gebeure.
Indien jy belangstel om dit te koop (die prys is weer R150), kan jy dit op een van drie maniere doen: woon die bekendstelling op 1 November 2013 in Randvaal, of op 15 November in Alkantrant  by, in die sysaal van die biblioteek om 10 uur(albei kere) en kry dit daar by ons (dit sal lekker wees om jou weer te sien); of bestel een by ons per e-pos, sms, of foonoproep, dan pos ons dit vir jou; of, indien jy in die Vaaldriehoek of Pretoria woon en nie ‘n bekendstelling kan bywoon of posgeld wil betaal nie, kontak my of Rut om ‘n reëling te tref vir die afhaal van die boek. Die posgeld is R30 na enige plek in Suid Afrika.
Laat weet asseblief indien jy een van die bekendstellings kan bywoon, ter wille van getalle.
Vriendelike groete,
Charlotte en Rut
NS. Daar is nog enkele vriende wat ‘Skrywertjie’ se geld verskuldig is, hulle sal weet wie hulle is. Ons herinner jou dat jy die R150 kan inbetaal by:
S.C.Stapelberg, Capitec Bank ,
Spaarrekening  nr. 1306298782
Takkode 470010
 
....met JOU NAAM as verwysing asseblief. Indien jy nie regkry om ‘n verwysing by te sit nie, sms my net en sê op watter datum jy dit inbetaal het, dan kan ek die naam by die betaling sit. Dankie, C.
Charlotte 083 945 0202         Rut 082 553 1710