Pages

Thursday, February 20, 2014

Misterieuse Karakters


Ons derde Sophia is 'n donker perd. Niemand kan haar onthou nie. Ons oudste lewende bron van inligting was nog nie eers gebore teen die tyd dat ons Sophia dood is nie. Al wat sy weet is dat sy (ons Sophia)'n baie hartseer lewe gehad het.

Ons weet nie hoe sy lyk nie, of hoe sy was nie. Al wat ons weet is dat sy in 1876 gebore is op Oshoek in Ermelo en dat sy dood is en begrawe is op ons (nou al bekende) Roodepoort. Sy is begrawe reg langs ouma Feitjie in 1915. Sy is in dieselfde jaar dood as haar jonger sussie Ellie. Ellie is langs haar ouma Elsje begrawe, ook op Roodepoort. Hennie het reeds 3 kinders gehad teen die tyd wat hy met Sophia getrou het. Daarna het sy nog 8 kinders van haar eie gehad. 

Toe kry ek die foto. Dit is beslis my oupagrootjie Salmon Botha en oumagrootjie Kate Scheepers regs op die foto. Hulle troudatum is 14 Desember 1903.  Wat ek uitgevind het op wikitree deur Wilhelm Pretorius is dat oupagrootjie Salmon saam met sy broer Piet op dieselfde dag getrou het. Piet het op die plaas Grootlaagte geboer en Salmon het verskeie plase gehad, die een wat ons die beste ken is Roodepoort. Regs agter is verseker Biel (Schalk Willem) Scheepers, Gideon Scheepers se broer. Maar WIE is links agter??

Kan dit ons Sophia Charlotte wees wie met Hendrik Liebenberg getrou het?


Hier is 'n foto wat geneem is jare later (1934) op oupa Koos Scheepers se verjaardag op Roodepoort. (Die huisie in die agtergrond is die een wat ons gekry het laas toe ons op Roodepoort was!)

As dit Hendrik en Sophia is op die troufoto, het Hendrik (of Hennie, soos hy genoem is) nogsteeds dieselfde hoed gehad!


Sunday, February 16, 2014

'n Lewe vol avontuur

Ons het een Saterdag einde laasjaar weer gaan rondry op die plase, en net die laaste paar vrae beantwoord. Dit was betowerend - om die minste te sĂȘ. Die keer het ons ook op Grootlaagte gaan draai maak ook. Dit was 'n Botha-plaas, en behoort nou ('n gedeelte daarvan) aan Gawie van Rensburg.

Oom Kobie verduidelik vir ons waar die lanings bloekombome was wat Emily Hobhouse aangeplant het om te help met die opbouing van die Boere republieke na die oorlog
Gawie en oom Kobie het ons rondgewys op Wonderfontein - waar die plaas-skooltjie was en waar my ouma ook 'n ruk lank skool gegaan het. Ons het die Visser, Marx'e en 'n ongemerkte Engelsman se graf daar gaan kyk, en heerlik gedroom oor wat was.
In hierdie gang is die Engelsman doodgeskiet

Hierdie was die Engelsman se graf wat my oupagrootjie Botha (of een van sy broers) doodgeskiet het in hulle huis.


Wintershoek was ook lekker om te besoek, want Almarie was saam met ons gewees.

Almarie staan by haar ouma Lettie se graf op Wintershoek


Almarie is die dogter van ons "Moedertjie" - Sophia Charlotte Scheepers, se dogter Aletta Maria Beukes, se dogter Sophia Charlotte Schoeman (Charl). Vir alle praktiese doeleindes was dit vir haar soos om terug te gaan huistoe, want sy was so lief vir hulle plaas. Dit was heerlik. Charl en Pieter (Almarie se ouers) het vir ons kaarte geteken van waar alles was toe Ant Lettie-hulle nog op die plaas gebly het. Dit is darem maar regtig mooi wereld daar, en mens kan verstaan hoekom ons voorgeslagte daar sou wou woon.

'n stukkie wat oor is van Ant Lettie se huis

Die hoogtepunt van die dag was egter toe ons weer terug gegaan het Roodepoort toe, en die huis gaan soek het waar oumagrootjie Scheepers gewoon het ("Moedertjie"). En danksy oom Pieter se kaart en Almarie se neus :-) het ons die huisie gekry! Dit was te wonderlik!

Oumagrootjie Scheepers se huis - hier is baie familiefoto's geneem
Nouja, dit was ook nie die einde nie, want met die bakens op oom Pieter se kaart wat so bymekaar gekom het, weet ons toe ook presies waar my oupagrootjie Botha se huis moes gewes het, en hy staan nog daar in sy volle glorie:

My oupagrootjie Botha se huis op Roodepoort

Die een-dag trippie was genoeg om my en my ma weer vuur en vlam te maak vir die boek. Dit maak so 'n verskil as jy 'n idee het van die omgewing en hoe die huisies gelyk het, om jou beter te kan inleef in die boek in.

Die eerste twee boeke is nou beskikbaar om te koop, en die derde boek is sterk oppad!

Kontak gerus vir my of my ma indien jy die boeke wil koop.