Pages

Saturday, May 11, 2013

Graaff-Reinet

Ons roete van Bloemfontein na Graaff Reinet was regtig pragtig. Ek was verbaas oor die mooi pad! Ons heel eerste missie in Graaff Reinet was om Feitjie se ma en pa se grafte te probeer kry. Heinrich Frederich Papenfus en Catharina Boshof (haar moeder was eers met 'n Boshof getroud, en toe met 'n Muller - haar nooiensvan was Rogge) was die twee wie ons na gesoek het.

My GPS het net een begraafplaas gekry, en ons kon dadelik sien dat daar nie ou grafte daar was nie. Ons het op en af gestap in elke ry grafte, maar die oudste grafte was klaar in die vroëe 1900's en dit is te "onlangs" vir ons soektog. Dit was erg - om so ver te ry en so teleurgesteld te voel. Ons gaan boek toe maar in by ons gastehuisie, "The Red Geranium", drink 'n ou teetjie, en praat mekaar moed in.



Graaff Reinet is 'n pragtige dorpie. Daar is heelwat erfenis-terreine wat alles baie goed opgepas word. Ons begin toe by die ou kerkie, en vra toe sommer daar of daar nie 'n ouer begraafplaas is nie. Die antwoord was toe ook redelik mismoedig. Elke kerk het blykbaar sy eie begraafplaas, en die een waar ons reeds was is die enigste een van die NG Kerk in Graaff Reinet.

Nouja - toe is ons erg teleurgesteld..

Net voor ons vertrek uit Daleside, het my skoonsus, Yolanda my gebel en gesê hoe baie sy ons eerste boek geniet het, en my bemoedig om in Graaff Reinet 'n boekwinkel te soek en die boek daar te probeer bemark, juis omdat as mense van die eerste boek hou - sal hulle waarskynlik die opvolgende boeke ook koop.

Ons parkeer toe in kerk straat, en daar is toe 'n boekwinkeltjie. In ons mismoedige toestand, spoor ons mekaar toe aan om daar in te stap en uit te vind of hulle sou belangstel in ons boek. Ons is toe nie een baie dapper na ons teleurstelling nie, maar ons stap toe in en vind toe dat 'n juweel van 'n winkeltjie is.

My ma skep toe genoeg moed - net toe ek buitentoe vlug met my woelwater-kleuter om spasie te probeer kry, en sy knoop toe 'n gesprek aan oor die boek. Nouja - blykbaar leef Gideon Scheepers se storie voort in Graaff Reinet, en toe daar besef word dat ons afstammelinge is van die Scheeperse, toe is hulle baie opgewonde! Hulle het toe 10 van ons boeke vir die boekwinkel geneem EN hulle vertel toe vir ons waar die oudste begraafplaas in Graaff Reinet is!

Tussen Craddock straat en Stockenstroom straat lê die begraafplaas!





Ons was BAIE opgewonde! En die begraafplaas was alles wat so ou juweel in jou verbeelding moet wees - oorgroei, grafstene wat al omgeval het, agter slot en grendel en amper vergete agter hoë mure.



Ons kry toe Regina se graf - sy was Feitjie se oudste suster - wie met 'n Bedford getrou het.


Ons kry toe ook iemand wie lyk soos Regina se dogter, wie miskien met haar nefie getrou het?


Maar daar was geen teken van Heinrich en Catharina nie. Daar was groot oop stukke waar grafte weggesak het, en BAIE grafstene wat onleesbaar geraak het na al die jare. Hulle is definitief daar begrawe - ons kan net nie meer hulle "labels" lees nie!

Die ongelooflike ding is dat Ouma Rogge - Catharina se ma (Feitjie se ouma) se graf nog daar is:




Nouja - toe voel ons sommer weer vrolik en ons gaan sien toe die volgende op die lysie - Gideon se gedenksteen. Sommer so langs die pad, en blykbaar die plek van 'n jaarlikse samekoms.



Ons is toe reg om sommer die dag te vier met lekker karoo-lam, en die Pioneer restaurant was net die regte plek om dit te doen.

Die volgende oggend het ons gebruik om die Ou residensie, die ou sending- of oefeninghuis en die Reinet-huis te gaan sien. Dit alles "feature" in ons eerste boek "Skrywertjie", hoewel ons nou met soveel meer insig na seker dinge kon kyk. Ons sal so paar geringe veranderinge maak met die volgende druk!







Dit was 'n heerlike avontuur saam met my ma, en oppad George toe het sy sommer weer groot dele uit "Skrywertjie" vir my voorgelees. Ek het net weer besef hoe lekker die hele proses is, en hoe mooi die storie regtig is vir my! Ek kan nie meer WAG vir ons volgende boek se druk en uitgee nie. Sy naam is "Moedertjie", en dit sal gaan oor Sophia Charlotte Scheepers (nee van der Merwe). Sy was Gideon Scheepers se ma.

Die res van my foto's is op faceobook - gaan kyk gerus!
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151445261248981.1073741831.715933980&type=1&l=cad0f9c599

1 comment:

  1. Buy Tipton Titanium 750ml Pot - Tioga Casino
    Buy Tipton Titanium 750ml Pot for does titanium have nickel in it only $10.00 ford escape titanium for sale shipping in our store. Tipton Titanium 750ml Pot - ecm titanium Tioga stiletto titanium hammer Casino. titanium bicycle

    ReplyDelete