Op die erfenisstigting se facebook page, post Riana-hulle soveel mooi foto's en het al soveel mooies opgesit van die Boere-oorlog. Al die foto's wat ek op die laaste paar blog-posts gesit het, het ek van daar af gekry.
Die paar foto's hier onder, het ek egter op die volgende webblaaie gekry:
'n Mens kan amper nie glo dat daar 'n tyd was toe die haat vir die Engelse die hoof-besprekeing was in Suid Afrika nie. In die tyd van die Boere-oorlog was daar 'n term wat gebruik was vir die gevoel wat die Britte teenoor enige ander volk gehad het - "jingoism". Hulle het 'n absolute gevoel van meerderwaardigheid gehad, en is Suid Afrika was dit dieselfde. Afrikaners is beskou as 'n lae-klas mens, en swartmense nog laer as die afrikaners.
Natuurlik was dit nie almal nie, baie Engelse het hulle geskaam vir die houding, en name soos Olive Schreiner en Emily Hobhouse kom dadelik op. Maar uit die onderstaande sal mens sien dat daar nie baie was wie hulle geskaam het daarvoor nie.
Mej. M Els
…Onder ons was daar ‘n mev. Coetzee; sy het ag kinders
gehad, en nou was vier al dood. Eendag gaan ek verby haar tent, en daar op die
grond op die kakiekomberse sien ek drie seuntjies lê, en die miere wemel oor
hulle. Die moeder wat kraamkoors gehad het – haar pasgebore seuntjie was al
dood – lê op ‘n kateltjie. Naas haar lê ‘n meisie van sewe jaar, ook siek. Om
hulle ellende te vererger was die tent vol kakieluise.
(sy het verder vertel van die opstand wat toe in die
Brandfort konsentrasie kamp begin het op 25 November 1901.)
Aletta Maria du Toit, Welgedacht, Fauresmith, OVS
…Gedurig het ‘n mens die gehoes en die gekerm van die siekes
gehoor. Hier hoor ek iemand van pyn kerm, daar hoor ek ‘n ander ween by ‘n
sterwende, op ‘n ander plek bid iemand, weer êrens anders roep iemand om hulp
en nog een smeek om ‘n lig, want sy wou sien of haar kind nie al dood was nie.
Menige dierbare het so in die donker gesterwe. Partymaal het ‘n moeder haar
kind buitentoe gedra om by die lig van die maan te sien of hy nog leef. Gaan
ons die nodigste goed vra, dan word ons beledig… Twee maal in die week, Dinsdag
en Vrydag, mog die mense hule dierbares besoek (in die hospitaal). As ‘n kind
aan sterwe was word die moeder geroep; partymaal was die kindjie al dood as sy
daar aankom.
Mev Anna Botha, Breipaal, Smithfield.
Op 4 Oktober 1901 is ek met my vyf kinders gevange geneem.
Toe ons ‘n klein afstand van ons huis was, bars my vyf-jarige seuntjie in trane
uit:”Ag, mammie”, sê hy, “sal ons dan nie almal in die kamp doodgaan nie?” Dit
was vir my te veel! Op die oomblik kon ek hom nie troos nie, maar later het ek
aan hom gesê:”My kind, ons moet nou die liewe Heer om troos en krag vra. As dit
nie Sy wil is nie, dan sal ons nie sterf nie.”
Op 6 Oktober kom ons vermoeid en half dood van die honger in
die kamp op Bethulie aan. Iemand slaan met ‘n stok op my tent. Ek vra wat dit
dan beteken en kry as antwoord dat k
vlees moes gaan haal. Ek het na die groot tent gegaan en toe ek by die deur kom
slaan die damp van bederfde vlees in my neus op. Ag, wat moes ek sien! Al die
skaapvlees was bederwe, vol maaiers en wurms. In my tent het ek die vlees goed
deurgekyk, maar het g’n enkele stukkie wat bruikbaar was, gekry nie. So het dit
ag dae lank geduur voordat ek ‘n stukkie gekry het wat ek kon kook. Toe ek dit
klaargemaak het, was dit oneetbaar van die dipstof.
Dieselfde dag is my dogtertjie hospitaal-toe gestuur, en dit
het vier maande en vyftien dae geduur eer sy weer teruggekom het. Onderwyl het ek met al my
kinders siek geword. Die dokter het gesê dat ek hospitaal-toe moes gaan. Ek kon
geen mens kry by wie ek die ander kinders kon laat nie. Met my sterwende kind,
amper nakend, is ek na die ander kant van die draadheining gebring. Daar was ek
‘n dag en ‘n half en toe sterf my kind.
Dink tog hoe swaar dit vir my was! Ek was so siek dat ek my
oë byna nie oop kon hou nie en daar was niemand wat my kon help nie. Hoe swaar
was dit nie om haar ogies toe te druk nie, haar uit te trek en die lykie toe te
speld nie! Dit was nie in eie krag date k dit kon doen nie, maar in die krag
van die liewe Heer.
Toe alles klaar was moes ek by die draadheining staan om my
seuntjie van nege jaar te roep. Daar kom een van die “hensoppers” en hy neem
die lykie van my. Ek gee hom toe drie sjielings met die versoek om ‘n kassie te
koop en ‘n doodskissie te maak.
Om eenuur is die lykie van my liefling weggedra, en om
twee-uur is ‘n paar lyke begrawe, want dit het tweemal per dag plaasgevind. Ek
het gemeen dat die lykie eers die volgende dag begrawe sou word, maar die
polisiedienaar kom terug, gee my die geld terug en sê dat die kommandant orders
gegee het dat my kind dadelik begrawe moes word, want sy is aan ‘n besmetlike
siekte dood en mag nie oorlê nie. “Ek het beloof” sê die man “dat ek heeltemal
alleen die lykie sou begrawe net so gou die kissie klaar was, want ek het vir
jou jammer gevoel, maar die kommandant het geweier en wou nie ‘n minuut langer
wag nie.”
Ek was rasend van droefheid, maar dit het nie gehelp nie.
Die lykie, wat vir my so dierbaar was, moes in ‘n kakiekombers in die graffie
gelê word! En my kindjie was aan die kroep dood. Gedurende die siekte het ek
nooit een nag ‘n liggie gehad nie!
Dit was toe Desember, en ses dae na die dood van my
dogtertjie, word die seuntjie van vyf jaar oud siek. Ek moes dit rapporteer, en
die volgende dag kom die dokter en ‘n verpleegster. Hy moes sy tongetjie
uitsteek. “Ja, die kind moes hospitaal-toe.” Amper elkeen wat na die hospitaal
gedra is, het ‘n prooi van die dood geword. Ek bars hard in trane uit; ek moes
al een kindjie afgee en ‘n ander een lê in die hospitaal. “Ag dokter, smeek ek,
“laat my kind tog maar by my bly!” Al my gesoebat het nie gehelp nie. Dit was
nie ‘n uur later nie toe die ambulanswa daar staan.
Toe my seuntjie sien dat hy hospitaal-toe moes gaan, skiet
sy ogies vol trane. “Ag Mammie, sal ek dan nie daar doodgaan nie?” vra hy vir
my. Ek het self behoefte aan troos gehad, daar ek siek was en net ter wille van
my kinders op die been gebly het, maar so goed soos ek kon, het ek vir hom
getroos. So is hy uitgedra; weens swakheid en verdriet kon ek hom amper nie
volg nie.
By my in die tent het twee kinders siek gelê en twee in die
hospitaal. Twemaal in die week mog ek vir hulle gaan besoek. Die eerste kind
was net vel en been – heeltemal vermaer. Na ‘n maand mog sy na die tent
terugkom; sy was so swak dat ek vir haar soos ‘n babetjie moes versorg.
Die seuntjie het ook beter geword. Nog ‘n week het verloop,
en toe het hulle gesê dat ek sy kleertjies na die hospitaal moes bring. Die
koors het hom verlaat, en hy het begin eetlus kry. Hy het kos gevra, maar die het
hy nie gekry nie, net melk met brandewyn, en dit kon hy nie drink nie.
Toe hy vyf dae op was, kry hy die kinkhoes en daarna
inflammasie in die longe. Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het
genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. As ek vir hom vra, hoe
dit met hom gaan, was sy antwoord, “Mammie, beter, maar ek het tog so honger.”
Sy laaste woord was “honger”.
Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was
nie so groot soos die van ‘n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die
tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek
die rugraat voel.
Geen tong of pen kan die bittere smart wat ons moes verduur,
beskryf nie! As daar een moeder is wat van daardie hospitaal weet, is dit ek!
Vyf maande en drie en twintig dae het ek dag vir dag na die hospitaal gegaan.
En dan het ons nog nie die voorreg gehad om vry in te mag gaan nie. Daar was ‘n
wit streep getrek en daar moes ons staan. Daar het ek meermale drie keer per
dag gestaan om te hoor hoe dit met my kinders gaan…. My dierbare kind is dood
van verwaarloosheid en van honger.