Pages

Monday, December 3, 2012

Name en Vanne

Die oumense was baie seker oor name en vanne. Dit was "die-regte-ding-om-te-doen" om jou familiename oor te dra aan jou kinders. Die eerste dogter se naam was gewoonlik vanaf die ouma aan die ma se kant, en die eerste seun se naam was die oupa s'n aan die pa se kant. So het hulle dit deurgewerk en hulle kinders eers al die familiename gegee voor hulle met hulle eie kreatiewe name vorendag kon kom. Dikwels was hierdie kreatiwiteit ook onnodig, want daar was reeds soveel name om te kon gee. In die navorsing vir ons boek het hierdie tendens baie duidelik uitgekom en soms het dit die soeke na feite juis bietjie moeilik gemaak ,want jy kom af op 'n persoon met die regte NAME, maar dan draai dit uit dat dit toe ons karakter se niggie of nefie of iemand heeltemal anders is!

'n Mens kan seker dan ook aflei dat wanneer 'n ouma of oupa NIE vernoem is soos dit die gebruik was nie, dan was daar sekerlik een of ander familie-skeur, of konflik gewees met die tyd van die kind se geboorte. Waar geslagsregisters inkonsekwent was, moes ons hierdie afleiding maak en kon die fiktiewe kreatiwiteit inskop. Nog 'n interessante ding wat ons opgetel het, was dat hulle nie snaaks daarvan gedink het om 'n naam weer te gebruik nie. Soos wanneer 'n kind gesterf het, sou hulle maklik die volgende kind die oorlede kind se name gegee het. Ek is seker dat daar allerhander bygelowe hier kon inskop, soos dat dit dieselfde kind kon wees, of dat hulle dieselfde siel gekry het. So 'n tema het nogal deurgeskemer in Marianne Frederikson se boek, "Hanna's daughters".

In daardie tyd was daar baie redes vir familie-skeurings. Een groot ding was seker maar die besluit - om te trek, of om nie te trek nie. Die Groot Trek was voorafgegaan met "die Voorste mense" - gesinne wat getrek het opsoek na beter weiding en landerye. Toe was dit die Groot Trek, maar selfs daarna het mense nogsteeds Noord getrek. 'n Ander rede vir 'n breuk, was maar (soos nou nog) die politiek. In baie opsigte was Godsdiens destyds nou verbind met politiek ook, en interessante brokkies wat deurskemer is dat die sendelinge nie regtig in al die Afrikaner-kringe gerespekteer was nie, en dat die kerke nie die Trek ondersteun het nie.

Ten spyte van al hierdie dinge weet ons almal tog dat die Afrikaners vreeslike godsdienstige mense was (party van ons is nogsteeds!). Maar, net om die prentjie mooi te bederf, wil ek net graag almal herinner dat godsdienstigheid ongelukkig nie paralel staan met morele waardes nie. Soos die bekende skrywer geskryf het, dat daar "niks nuuts onder die son" is nie. Dit beteken dat hierdie romantiese prentjie van ons van die "ou tyd" baie vinnig uitmekaar uit rafel met mans wat hulle vroue verneuk, politici wat bedrog pleeg, moorde, diefstal en prostitusie.

Die menslikheid in ons almal is 'n waarborg dat sulke aaklighede gebeur het, huidiglik gebeur en nog sal aanhou om te gebeur. Daar is 'n vrot hart in elkeen van ons wat ons onsself elke dag mee bedrieg, ten spyte van ons vroomheid. Dit maak darem ons storie soveel meer interessant!

In elk geval - terug by name - dink net daaraan hoe verwarrend dit kon raak as jou eerste dogter dieselfde naam gekry het as jou ander vyf susters se eerste dogter! En jou eerste seun. En hoe die oupa's en ouma's dalk hulle naamgenote sou voortrek tot die spyt van die res van die kleinkinders. Siestog!

Byname was darem ook daar om die verwarring te kon vermy. Dit het ons ook dikwels raakgeloop in hierdie familieverhaal. Soms het byname sin gemaak, "Catharina" het dalk Katriena geword, of "Petrus" het "Peet" geword. Op 'n stadium, net so voor die Boere-oorlog het die name ook baie verengels - "Gideon" het "John" geword, "Catharina" het "Kate" geword en "Willem" het "Bill" geword.

Ons sit vandag nog met familie-name, hoewel dit nie meer soos die ou name klink nie. My klein-niggie se naam is "Rina", vernoem na haar ouma - "Catharina Elizabeth". My ousus se dogter se naam is "Carli", vernoem na "Charlotte". So die name gaan tog wel aan, al is dit so 'n bietjie verbloem onder moderne klanke!

2 comments:

  1. Are you children's names variations of family names passed down?

    ReplyDelete
    Replies
    1. "Charma" is our version of Charlotte, although it doesn't really originate from the name :-). Declan's name was found in a book!

      Delete