Pages

Saturday, December 1, 2012

Groot gesinne, nee wag MASSIEWE gesinne!

Deesdae as jy 3 kinders het, dan is daar al klaar so bietjie van 'n hoër-wenkbrou-kyk van seker mense af as hulle jou ontmoet. Wat nog te sê as jy 4 kinders het! Sulke mamma's lyk asof hulle "super-powers" het, as hulle met hulle mini-bussies die wêreld vol jaag met 'n kar vol kinders om inkopies te doen, of die kinders na musieklesse, of swemlesse of skool toe te vat.

Ek het net 2 kinders, my seuntjie is 5 en my dogtertjie is 2. En daar is party dae wat ek regtig nie EEN ding wat ek mee begin, kan klaarkry nie. Ek verwonder my aan mamma's wat so op die oog af lyk of hulle alles onder beheer het - die kindertjies is gelukkig, die huis is skoon en netjies en die kos wat hulle kook is heerlik!

My ma het 9 kinders gehad - een dogtertjie is oorlede toe sy 2 daggies oud was. My ma is so ietsie van 'n legende en mense glo amper nie as ek vertel wat ek julle nou gaan vertel nie. Sy was vir 15 jaar lank swanger, of besig om te borsvoed. My oudste suster - Charlotte - is 15 jaar ouer as ek. My ma het al haar kinders by een man gehad, en met die eerste 4 het sal al haar huiswerk self gedoen! Ons praat gereeld oor wie nou eintlik haar gunsteling onder die klomp kinders was, maar ek sê nou vir julle - dit was ek!

Ek dink soms daaraan dat dit dikwels 'n eensame reis moes gewees het vir my ma, want dink net hoe hulle vriende hulle al minder en minder genooi het vir kuiers (want - wat gaan ons met al hulle kinders maak!?). Maar daar was darem twee ander gesinne wat net so baie kinders gehad het as my ma-hulle. Dit was die Lessings, en die Koekemoers. Ek is seker dat dit lekker was om so 'n avontuur met hulle aan te pak. Nou kon hulle saam gesels oor die kassiere in Checkers wat hulle snaaks aankyk met die trollie vol gesnyde brode, grondboontjie botter en melk. Of die ontvangsdame in die dokters-spreekkamer wat verward raak as die Stapelbergs instap en ewe skielik is die ontvangs-area vol. Of dalk die dokter wat met 'n frons op sy gesig aangestap kom, want Mev. Stapelberg is ALWEER swanger!

Maar in die tyd wat ons boek begin, was dit glad nie snaaks om kamers vol kinders te hê nie. O nee, dit was andersom - as jy net 3 of 4 kindertjies gehad het, dan was daar seker maar iets fout gewees. Ons eerste karakter het self 12 kinders gehad, haar dogter het 10 kinders gehad. Hulle het op plase gebly en alles self gedoen. Daar was nie krag of loopwater of winkels waar jy gou "ready-made-woolworths-meals"  kon gaan kry as jy 'n besige dag gehad het nie. En toe met swaar tye - toe die mans op kommando was, moes die vrouens -  met hulle hordes kinders en al - die boerderye ook nog bestuur!

Nuwejaarsfees Desember 2010

My ma (Sophia Charlotte Stapelberg) se 60ste verjaardag in 2006
Vroue daai tyd was eggenoot, moeder, huishoudster, verpleegster, tuin-ingeneur, en boer. Dit is net ongelooflik wat hulle alles kon vermag!

2 comments:

  1. Nice one Rut! Net gou 'n fout korreksie deur Grammar Nazi:
    My ma het al haar kinders by een man gehad, en met die eerste 4 het sal al haar huiswerk self gedoen!
    *moet sê "... het sy al...".

    You're welcome ;-)

    ReplyDelete