Pages

Wednesday, December 19, 2012

Die plaas-lewe


http://agrariannation.blogspot.com/2011/05/may-1840-1851-1857-1858-farmers.html - die prentjie is nou nie eg Suid-Afrikaans nie, maar is tog van die regte tyd af!

Wat is 'n "normale" roetine vir vandag se lewe, wonder ek.

Kom ons kyk - in ons lewe, kan ons tussen 6uur en half-7 opstaan, tee drink en gaan piepie. Teen daai tyd (soms voor ons nog) is die kinders wakker (net 2 in hierdie geval) en die een het waarskynlik 'n nat doek en soek 'n bottel. Die ander een gaan self toilet toe en soek dan dadelik pap, wat sommer in boks-vorm kom en net melk en suiker nodig het. Dan draai ons krane oop met "instant" warm water waarin ons kan stort, bad of was, en dan kan aantrek vir die dag. So teen half-agt kom ons juweel van 'n huishulp in en die wêreld is sommer 'n beter plek, want die tweede koppie tee is oppad, en sy waai haar towerstaffie om al die vuil skottelgoed skoon te kry, en alles netjies te maak.

Kantoorwerk neem dan die meeste van die dag op met onderbrekings elke nou en dan vir tee, middag ete of bietjie aandag aan die kleingoed.Stres-vlakke gaan maar op en af soos die dag se kliënte of ander kollegas dit opjaag of afbring, en teen 4uur of half vyf wanneer ons juweel al sterk oppad is huistoe, begin ons met aandkos, wat soms heel "fancy" kan wees - braaivleis, vars gebakte brood en slaai uit die tuin :-). 6 uur bad ons die kindertjies, 7 uur is dit storie lees, liedjie sing, bid en slaap, en dan is die huis weer rustig.

Ek het een Saterdag beet uit ons groentetuin gehaal, dit gewas en die blare afgeknip. Toe het ek dit gekook totdat dit sag was en daarna die asyn mengsel aangemaak en in bottels gesit. Terselftertyd het ek soveel spinasie geoes as wat ek kon, dit gewas, die harde stingels afgeknip en ook gekook, in sakkies gesit en in die vrieskas gebêre. Dit het my een hele dag geneem en ek het 6 pakkies spinasie gehad en 3 bottels beet.

Maar wat daarvan as ons ons eie leefwyse terugskuif na 1840 miskien? Kom ons kyk - 
As die kleintjie half 7 wakker word en lus is vir tee, dan is daar eerstens geen warm water nie. So, mamma moes sekerlik al opgestaan en aangetrek gewees het teen 6uur, om die vuur aan die gang te kry en om water te gaan haal en dan op die "stoof" te sit. Dan sal die tee gemaak kan word vir sussa. Toilet-geriewe was buite en 'n entjie van die huis af weg, so boeta sou miskien nie alleen kon gaan piepie het nie, of miskien het hy sommer in die tuin gegaan? Boeta se pap is die volgende dillemma. Geen pap in boks-vorm daai tyd nie, so ons sou hopelik meel gehad het in die huis vir mieliepap, en hopelik suiker ook. Melk sou sekerlik ingekom het in die oggend wanneer manlief die koeie gaan melk het, so terwyl moedertjie opstaan, vuur maak en water kook, sou vader die beeste versorg het. Maar sekerlik sou moedertjie vir vadertjie 'n ou koppietjie koffie wou gee voor die dag sou begin, so sy sou al baie vroëer moes opstaan om dit te kan doen vir hom. En wat dan van die stort? Elke kamer sou daardie tyd 'n wasskotteltjie en 'n beker gehad het. Mens sou sekerlik die water moes gaan haal het, warm maak op die stoof en dit dan aandra kamer toe waar jy sou was, afdroog en aantrek. Om water te gaan haal en op 'n vuur aan die kook te kry neem ook natuurlik 'n baie lang tyd.



Dink net hoe dikwels en volop die vuurmaakgoed moes wees om seker te maak die vuur is deurentyd aan die gang vir water wat gekook moes word. En dan moes daar sekerlik ook brood gebak word. En sodra almal dan gewas, aangetrek en ontbyt gegee is (en die spulletjie kinders was waarskynlik nie net 2 soos in my geval nie) was daar sekerlik 'n klomp werk wat gedoen moes word in die groentetuin. Plant, water gee, bossies uittrek, oes, inlê en gaarmaak. En tussenin was klere gemaak, reggemaak, gewas met die HAND en opgehang om droog te word. En kindertjies moes aandag kry - liedjies was gesing, stories vertel en lessies geleer. Nee, wag - die arme vrouens moes sekerlik al 4uur opgestaan het om alles gedoen te kry vir die dag!

In vandag se tyd is ons lewens volop "luxuries". Ons kan amper nie 'n lewe indink daarsonder nie. Van oggend tot aand word ons lewens vergemaklik met 'n kraan met lopende wam en koue water, mikrogolf-oonde wat kitskos gaarmaak, ketels wat vir ons tee en koffie-water gee, kits-kosse wat uit bokse kom, weggooi-doeke en "wet-wipes". Voorbehoed-pilletjies spaar ons arme jong-getroudes van die drukgang van kinders kry en grootmaak, en ons gun onsself soveel tyd vir onsself.

Ek dink "op vakansie gaan" was nie 'n konsep wat geken was in daardie tyd nie. Oumense en siekmense het "gaan rus". Die res van die spulletjie moes werk.

Iets wat seker was van daardie tyd is dit – vrouens het mekaar nodig gehad. As jou dogter haar eersteling verwag het, was jy sekerlik daar om haar by te staan met die geboorte, of dan met die huishouding. As jy nie daar kon wees nie sou ‘n buurvrou sekerlik kom help het. Swaarkry het mense nog altyd nader aan mekaar gebring, en ek is seker daardie tyd was gevorm deur naby-geweefde gemeenskappe.

Vandag het ons hoë mure om ons huise, ons leer om nie met vreemdelinge te praat nie, en ons nooi nie sommer ons bure oor vir ete nie. In daardie tyd het die mense mekaar nodig gehad en mekaar bygestaan, en daarna kan ons verseker verlang.

No comments:

Post a Comment