Pages

Friday, January 25, 2013

Die vrou van die voortrekker-tyd

http://www.tatham.org.za/0522.html - webtuiste met pragtige kunswerke!

Dit is darem maar nie maklik om 'n vrou te wees nie! Dink jou net in dat jou man en al sy vriende opgewonde is oor 'n reuse-avontuur, almal praat van die "beloofde land" anderkant die berg, daar waar die gevaar minder is en die grasvelde groot en oop is. Maar jy is lief vir jou huisie in die dorp, en die mense om jou en die gemak van alles. Nou staar jy dit in die gesig om vir maande aaneen dalk in 'n wa te woon. In ons terme sou dit seker 'n karavaan gewees het, of 'n "Camper".

Selfs vandag is daar vroue vir wie dit net een te veel sou wees. Ander sou dit sien as 'n wonderlike avontuur! Maar tog, wanneer jy begin kinders kry, is avonture nie wat dit eens op 'n tyd was nie. Mens is maar bietjie meer versigtig as vroëer, en neem nie maklik risiko's of gevaarlike besluite nie.

Dit is hoe ek myself indink dit moes gewees het in daardie tyd. Sommiges was vuur en vlam vir die besluit om te trek, en ander was maar sku. Baie mense het getrek, maar daar was ook maar baie wie agter gebly het weens baie redes.

Wat sou ons doen as ons daardie tyd gelewe het? Ek het gelees dat ons dorpe regtig pragtig was - selfs toe. Graaff Reinet was 'n gemaklike dorp met 'n mooi kerk en 'n goeie gemeenskap mense. Die mamma's het klein kindertjies gehad wat sommer maklik kon wegraak in die lang grasse wat soos 'n see gelê het voor die waens uit. Daar was derduisende dier wat saamgetrek het, en blykbaar was daar lank daarna nog 'n brëe pad wat oopgetrap is na die Trekkers in Desember 1836 daar uit Graaff Reinet getrek het.

Winburg was  die eerste oorstaanplek. Naderhand was dit seker so 'n gemaklike dorp, en ook later verklaar as 'n nuwe distrik, dat mense soontoe getrek het van Graaff Reinet en ander distrikte uit die Kaap-kolonie.

Ek kan myself net indink hoe die vrouens die nuutste modes nagevolg het uit die Kaap, en hoe die wie al 'n rukkie lank in Winburg gewoon het, opgewonde gewag het as daar mense van Graaff Reinet en uit die Kaap uit aangekom het. Hulle was sekerlik van kop tot tone deurkyk om te sien hoe lyk die nuwe lappe en pragtige kant.

Die kappies wat hulle gedra het was met die hand gemaak en kon maande neem om klaar te maak. Dink net hoe lank daardie pragtige rokke dan sou neem! Om dan dalk net dit te dra en dan te besef dat die mode weer verander het! Miskien het die tyd darem ook nie so vinnig geloop dat dit sou gebeur het nie.

Net soos nou, was daar toe mense met buitengewone vermoeëns om te skep. Skilders, musikante, naaldwerksters. Blykbaar het elke gegoede Afrikaanse huis 'n klavier gehad. Mense het meubels en plaasgereedskap van oorsee af ingevoer en die offisiële taal was eintlik Engels, hoewel meeste mense nog Afrikaans gepraat het, gemeng met hulle oorspronklike taal - Duits, Hollands of selfs Frans. Baie gesinne het hulle kinders oorsee gestuur om verder te gaan leer, maar die kinders het gewoonlik teruggekom en in Suid Afrika 'n lewe gemaak.

Die vrouens was egter, soos in die res van die wêreld, die moeders en tuiste skeppers. Hulle was altyd maar bedrywig met huislike takies en om om te sien na ander wie siek of honger was. Hulle was slim met hulle werk, en het ook, as hulle welaf was - huisbediendes gehad om te kon help.

Die Afrikaner vrou was onderdanig aan haar man, en sou hom volg - selfs op die Groot Trek. En sy sou by hom bly en hom ondersteun, omdat sy ook 'n gevoel van patriotisme gehad het. Later in ons geskiedenis, was dit gesê, was die Afrikaner vrou - meer as die man - bereid om te sterf en op te offer vir volk en vaderland.

No comments:

Post a Comment