Pages

Saturday, August 17, 2013

Ons nuutste boek - "Moedertjie"

Net om julle solank lus te begin maak - hier is 'n uittreksel uit ons nuwe boek.



Roodepoort, April 1877

            “Shepstone het die ZAR geannekseer vir die Britse kroon!”

            Koos storm ontsteld die kombuis binne waar Sophie besig is om pampoenkoekies te bak. Charlottha’tjie wat op die vloer gesit en speel het, begin hartseer huil. Sophie tel haar op en kyk verskrik na Koos.

            “Koos, hoe laat skrik jy my nou! Wat sê jy, my man?”

            “Ons Boererepubliek is deur die vervlakste Engelse ingeneem. Almal is in rep en roer, die manne praat van gewere regkry en perde opsaal.”

            Sophie sus die kermende Charlottha’tjie op haar linkerheup en draai behendig die pampoenkoekies een vir een om met die spaan in haar regterhand. Sy skud die pan en roep vir Selina nader om die bakkery oor te neem. Sy stoot die koffieketel oor die vuur en draai om.

            “Koos, ek gaan net die baba bors gee en in haar bedjie sit, dan sluit ek by jou aan in die voorkamer. Wag ‘n bietjie vir my, dan drink ons lekker koffie en praat rustig. Selina, dek ‘n skinkbord met bekers en gooi vir ons koffie in sodra dit warm is. Haal ook beskuit uit. Neem die skinkbord voorkamer toe.”

            In die slaapkamer gaan sit Sophie in die groen brokaatstoel wat moeder Feitjie vir haar as trougeskenk gegee het. Sy paai haar ontstelde baba en gee haar bors. Ingedagte streel sy oor die verweerde lap van die stoel en glimlag as sy aan haar moeder dink. Binnekort sal ek hierdie stoel met nuwe lap moet oortrek, dink Sophie.

Sophie sukkel om die baba aan die drink te kry. Hierdie dogtertjie van haar is ‘n vreemde kind. Sy huil asof sy honger is, maar wanneer sy ‘n paar slukkies geneem het, los sy die bors en lê en kyk Sophie intens aan. Sophie gesels saggies met haar en probeer die baba laat lag, maar die kind bly ernstig. Uiteindelik drink sy weer en raak aan Sophie se bors aan die slaap. Sophie lê haar versigtig neer en staan ‘n oomblik na haar eersteling en kyk. Dit voel vir haar asof sy na ‘n vreemde se kind kyk. Asof die kind nie aan haar behoort nie. Sy kan die trane nie keer wat oor haar wange loop nie, maar stop by die deur, vee die trane vinnig met die agterkant van haar hand weg en bring haar emosies onder beheer. Saggies trek sy die deur toe en stap na waar haar man wag.

            “Vertel my wat het gebeur en waarom is jy so ontsteld daaroor.”

            Koos roer sy koffie hewig en neem eers ‘n paar slukke voordat hy begin vertel.

            “Theophilus Shepstone, jy weet mos, die goewerneur van Natal, het met ‘n klein troepemag van om en by dertig man Pretoria ingery en die Zuid Afrikaanse Republiek geannekseer. Kan jy glo, Sophie, sonder enige onderhandeling of beraadslaging. Hulle het ’n groot fees vir die inwoners gefinansier. By hul vertrek op die twaalfde van hierdie maand het hulle die Britse vlag op Kerkplein gehys en die hele gebied noord van die Vaalrivier vir Brittanje geannekseer.” Koos beduie met ‘n swaai van sy arm die omvang van die anneksasie. “Britse troepe is besig om Middelburg binne te stroom. Ek is bitter teleurgesteld in die Britte.”

            “Waarom sou hulle dit gedoen het?” Sophie is uit die veld geslaan.

            “Daar is glo ‘n ryk goudrif ontdek anderkant Pretoria. Bid jou dit aan. Nou skielik wil hulle ons Republiek hê. Daar is groot onweerswolke in die lug vir hierdie Republiek.”

            “Koos, wat praat die mans, wil hulle weer kommando’s vorm en oorlog maak?”

            “Dis die algemene gevoel, Sophie, die manne is ontsteld, veral die jongeres. Ek hoor jou broers en jou swaer Daniel is vuur en vlam om te gaan veg.”

            “Wat van my vader Schalk?” Sophie kyk haar man deurdringend aan. Sy móét weet van Vader.

            “Vader Gideon sê jou vader is woedend, en praat van perd opsaal. Hy weier egter steeds om iets met die Scheeperse te doen te hê.”

            Sophie kyk na haar hande op haar skoot. Sy haal haar sakdoekie uit haar voorskootsak en druk vererg die halstarrige trane droog, dan prop sy dit weer in die sak en vou haar hande op haar skoot. Sy probeer hard om niks te wys van haar innerlike ontstuimigheid nie. Die feit dat sy met haar nuwe babatjie sukkel is nou klein in vergelyking met hierdie konstante hartseer in haar hart. Sy verlang na vader Schalk. Sy bid elke dag dat daar versoening sal plaasvind tussen hulle. Sy kan maar net aanhou hoop. Maar sy is nog steeds kwaad omdat hy haar uit sy huis gejaag het. Wanneer sy praat, hoor Koos die opgekropte woede in haar stem.

            “Koos, wat gebeur as al die mans op kommando gaan? As die vroue en kinders alleen op die plase agterbly tussen die vyandige Pedigroepe hier in die omtrek?” Haar hande verduidelik wat haar woorde nie kan nie.

            Koos vat albei haar rustelose hande in syne.

            “Kyk vir my, Sophie.”

            Sy kyk op in sy liefdevolle gesig. Hy glimlag vir haar.

            “Ons sal oor daardie struikelblok klim wanneer ons daar kom, my Dierbaarste. Op hierdie stadium weet ons nog nie wat gaan gebeur nie. Gelukkig het ons geen Pedi werkers meer op die plaas nie, slegs Hotnots en ‘n Zoeloe of twee. Ek sal moet wag totdat die oproep kom om kommando toe te gaan. Toe, drink jou koffie. Hierdie beskuit wat my vroutjie gebak het is heerlik. Probeer dit gerus.”
            Sophie glimlag vir haar Koos en tel haar koffiebeker op. Met al die konflik in haar binneste, kry sy nog steeds nie reg om vir haar Koos kwaad te bly nie. Hy is vir haar ‘n bemoediger. Hy bring elke dag vir haar iets om oor te lag.

No comments:

Post a Comment