Roodepoort, April 1877
“Shepstone het die ZAR geannekseer
vir die Britse kroon!”
Koos storm ontsteld die kombuis binne
waar Sophie besig is om pampoenkoekies te bak. Charlottha’tjie wat op die vloer
gesit en speel het, begin hartseer huil. Sophie tel haar op en kyk verskrik na Koos.
“Koos, hoe laat skrik jy my nou! Wat
sê jy, my man?”
“Ons Boererepubliek is deur die
vervlakste Engelse ingeneem. Almal is in rep en roer, die manne praat van
gewere regkry en perde opsaal.”
Sophie sus die kermende Charlottha’tjie
op haar linkerheup en draai behendig die pampoenkoekies een vir een om met die
spaan in haar regterhand. Sy skud die pan en roep vir Selina nader om die
bakkery oor te neem. Sy stoot die koffieketel oor die vuur en draai om.
“Koos, ek gaan net die baba bors gee
en in haar bedjie sit, dan sluit ek by jou aan in die voorkamer. Wag ‘n bietjie
vir my, dan drink ons lekker koffie en praat rustig. Selina, dek ‘n skinkbord
met bekers en gooi vir ons koffie in sodra dit warm is. Haal ook beskuit uit.
Neem die skinkbord voorkamer toe.”
In die slaapkamer gaan sit Sophie in
die groen brokaatstoel wat moeder Feitjie vir haar as trougeskenk gegee het. Sy
paai haar ontstelde baba en gee haar bors. Ingedagte streel sy oor die
verweerde lap van die stoel en glimlag as sy aan haar moeder dink. Binnekort
sal ek hierdie stoel met nuwe lap moet oortrek, dink Sophie.
Sophie sukkel
om die baba aan die drink te kry. Hierdie dogtertjie van haar is ‘n vreemde
kind. Sy huil asof sy honger is, maar wanneer sy ‘n paar slukkies geneem het,
los sy die bors en lê en kyk Sophie intens aan. Sophie gesels saggies met haar
en probeer die baba laat lag, maar die kind bly ernstig. Uiteindelik drink sy
weer en raak aan Sophie se bors aan die slaap. Sophie lê haar versigtig neer en
staan ‘n oomblik na haar eersteling en kyk. Dit voel vir haar asof sy na ‘n
vreemde se kind kyk. Asof die kind nie aan haar behoort nie. Sy kan die trane
nie keer wat oor haar wange loop nie, maar stop by die deur, vee die trane
vinnig met die agterkant van haar hand weg en bring haar emosies onder beheer. Saggies
trek sy die deur toe en stap na waar haar man wag.
“Vertel my wat het gebeur en waarom
is jy so ontsteld daaroor.”
Koos roer sy koffie hewig en neem
eers ‘n paar slukke voordat hy begin vertel.
“Theophilus
Shepstone, jy weet mos, die goewerneur van Natal, het met ‘n klein troepemag van
om en by dertig man Pretoria ingery en die Zuid Afrikaanse Republiek
geannekseer. Kan jy glo, Sophie, sonder enige onderhandeling of beraadslaging. Hulle het ’n groot fees vir die inwoners gefinansier. By
hul vertrek op die twaalfde van hierdie maand het hulle die Britse vlag op
Kerkplein gehys en die hele gebied noord van die Vaalrivier vir Brittanje
geannekseer.” Koos beduie met ‘n swaai van sy arm die omvang van die
anneksasie. “Britse troepe is besig om Middelburg binne te stroom. Ek
is bitter teleurgesteld in die Britte.”
“Waarom sou hulle dit gedoen het?” Sophie is uit die veld
geslaan.
“Daar is glo ‘n ryk goudrif ontdek anderkant Pretoria.
Bid jou dit aan. Nou skielik wil hulle ons Republiek hê. Daar is groot
onweerswolke in die lug vir hierdie Republiek.”
“Koos, wat praat die mans, wil hulle
weer kommando’s vorm en oorlog maak?”
“Dis die algemene gevoel, Sophie,
die manne is ontsteld, veral die jongeres. Ek hoor jou broers en jou swaer
Daniel is vuur en vlam om te gaan veg.”
“Wat van my vader Schalk?” Sophie
kyk haar man deurdringend aan. Sy móét weet van Vader.
“Vader Gideon sê jou vader is
woedend, en praat van perd opsaal. Hy weier egter steeds om iets met die
Scheeperse te doen te hê.”
Sophie kyk na haar hande op haar
skoot. Sy haal haar sakdoekie uit haar voorskootsak en druk vererg die
halstarrige trane droog, dan prop sy dit weer in die sak en vou haar hande op
haar skoot. Sy probeer hard om niks te wys van haar innerlike ontstuimigheid
nie. Die feit dat sy met haar nuwe babatjie sukkel is nou klein in vergelyking
met hierdie konstante hartseer in haar hart. Sy
verlang na vader Schalk. Sy bid elke dag dat daar versoening sal plaasvind
tussen hulle. Sy kan maar net aanhou hoop. Maar sy is nog steeds kwaad omdat hy
haar uit sy huis gejaag het. Wanneer sy praat, hoor Koos die opgekropte woede
in haar stem.
“Koos, wat gebeur as al die mans op
kommando gaan? As die vroue en kinders alleen op die plase agterbly tussen die
vyandige Pedigroepe hier in die omtrek?” Haar hande verduidelik wat haar woorde
nie kan nie.
Koos vat albei haar rustelose hande
in syne.
“Kyk vir my, Sophie.”
Sy kyk op in sy liefdevolle gesig.
Hy glimlag vir haar.
“Ons sal oor daardie struikelblok klim
wanneer ons daar kom, my Dierbaarste. Op hierdie stadium weet ons nog nie wat
gaan gebeur nie. Gelukkig het ons geen Pedi werkers meer op die plaas nie,
slegs Hotnots en ‘n Zoeloe of twee. Ek sal moet wag totdat die oproep kom om
kommando toe te gaan. Toe, drink jou koffie. Hierdie beskuit wat my vroutjie
gebak het is heerlik. Probeer dit gerus.”
Sophie
glimlag vir haar Koos en tel haar koffiebeker op. Met al die konflik in haar
binneste, kry sy nog steeds nie reg om vir haar Koos kwaad te bly nie. Hy is
vir haar ‘n bemoediger. Hy bring elke dag vir haar iets om oor te lag.