Pages

Tuesday, June 4, 2013

konsentrasie-kampe

Ek hoop nie ek verveel iemand met my uittreksels uit boeke uit nie. Vir my is dit soos 'n skatkis vir al ons navorsing. Dit is net ongelooflik om te dink deur hoeveel swaarkry hierdie vrouens was. Ek dink nie eers die mans wie op kommando was, kon soveel gely het nie.

Hier is die laaste uittreksels uit "Mag ons vergeet?" van mevrou E Neethling, voor ek sal aanskuif na ander boeke toe.




Pres. Steyn – De Vriend des Volks, 18 Des 1918 (In Afrikaans oorgesit) By die onthulling van die Vrouemonument.
..Gelukkig is ‘n volk wat sulke vroue het; en ‘n volk wat uit sulke moeders gespruit het, het vir sy toekoms niks te vrees nie.”


Mev Anna Sophia du Toit (geb Neethlings), Klipkopjes, Pretoria
Nou die sieke in my tent beter was, het ons niks anders gekry as blikkiesvlees (“corned beef), witbrood en swart koffie nie, en van niks was daar genoeg om die honger te stil nie; ons het byna van honger omgekom.
Toe kry die mense seer monde en seer kele en los tande. O, dit was aaklig om dit te sien! Later het party verskriklik opgeswel. Die dokter het gesê dat dit van die blikkiesvlees was, maar hulle het nie vir ons ander vlees gegee nie. Die meel, die koffie, suiker en rys wat ons gekry het, het so vreeslik na karbol geruik dat ons dit amper nie kon eet nie.
Ons moes eers sukkel totdat ons genoeg grysappelworteltjies uitgegrawe het om die oond warem te maak; en as die brood amper gaar was, moes ons die oonddeur oopmaak om die reuk ‘n bietjie te laat wegtrek. Ons het ook blou vitrieol in die meel gekry en nog iets wat rooi vlekke in die brood gemaak het. Vet het ons in die begin glad nie gekry nie, later twee onse in die week; nooit het ons kerse gekry nie, en eenkeer in die week ‘n kwart steentjie blouseep vir elke tent.

Susara Maria Magdalena Pienaar (geb Nel)
… In Augustus 1901 is ons verplaas na die kamp op Balmoral. Ek het verwag dat dit daar beter sou gaan, maar het gevind dat dit net so treurig gesteld was met kos en vuurmaakgoed. Die kampkommandant, Harvey, het nie die minste belang gestel in die mense of in die behandeling van die siekes nie.
Ek onthou nog so goed toe op ‘n stormagtige nag in November 1901 die hospitaaltent aan die brand geraak  en vier kindertjies verbrand het en hoe rasend van verdriet die vier arme moeders was, wat nie eers die lykies van hulle kindertjies kon sien nie. Net die bene het oorgebly.
Nou moet ek nog van die treurige geberutenisse vertel. ‘n Sekere mev. Van Niekerk het eendag dood neergeval. Die bure het die dokter laat roep. Na ondersoek het hy verklaar dat sy van die honger dood is. Met mev. Pieterse was die dieselfde geval, en dr. Lee het ook dieselfde verklaring afgelê.
Maar die treurigste geval was die van mev. Liebenberg. Sy het uit die kamp gegaan om in ‘n veekraal misbredie te pluk om dit te kook. Net toe kom daar ‘n kaffermeid met aartappels verby. Sy vra die meid om haar tog ‘n paar te gee om in die bredie te kook, en die ou kaffervrou gee haar toe twee aartappels.
“Aia”, roep sy, “ek sterf van die honger”, en sy val dood neer met haar voorkop op ‘n doringdraadheining.

Mev. J Kriegler, Heidelberg
Heidelberg was toe net ag dae in die hande van die Engelse, en die Boere was nog orals in die distrik rond; maar hulle het streng waggehou, en niemand mog die dorp inkom of uitgaan nie. Die kosvoorraad het ook al begin skaars word, en dadelik het hulle ‘n aanvang gemaak met die soldatewinkels (“dry canteens”) . Kaartjies is uitgereik aan diegene wat daar mag koop. Die families wat nog mans of seuns in die veld had, kon daar niks koop nie, en die ander net klein voorraad elke dag. Wat sou nou van die getroues word? En daar was baie, want oor die algemeen het die Heidelbergers getrou buite gebly. Ons besluit toe om ‘n kommissie te vorm wat dit op hulle sou neem om fondse en goed te versamel vir die lewensonderhoud van die mense. Die kommissie het uit die volgende lede bestaan: ds. en mev. Louw, menere Freislich, Alberts, Rosenbrock en myself.
Spoedig het ons ‘n goeie voorraad mielies, mieliemeel, koringmeel en ook geld gehad, en daagliks het ons hiervan aan die families uitgedeel. Dit was moeilik om suiker en vlees te kry. Die militêre het die slaghuise in beslag geneem en die vlees is amper uitsluitlik vir hulle gebruik. Of die Engelse wat hier op die dorp gewoon het, vlees kon kry, dit weet ek nie, maar ons Afrikaners het niks anders as die afval of die lewer gekry nie. Dit kon die vroue wat nie kaartjies gehad het nie, nie eers kry nie. Ons wat dit kon doen, het dan soveel moontlik gekoop, ook in die “dry canteens” en saam met ander gedeel…
.. Hierna moes ons na die kamp op Merebank toe. Ons was treurig, want so baie liewe vriende moes agterbly. En – Merebank was eintlik ‘n strafkamp.
‘n Paar dae na ons aankoms daar, kom daar ‘n koelie in die kamp met vrugte. Hy kon ons nie genoeg bejammer nie en sê:”All die here. Us no live here in summer, Indians go to hills.”
Die koelie se woorde is ook spoedig bewaarheid, want die kerkhof langs die onheilspellende swarte meer was elke dag getuie van baie begrafnisse…
Op Merebank was die brood taamlik goed, maar verder amper niks meer nie: die “ysvlees” was so onsmaaklik; en as die aartappels afgelaai word, dan kon ‘n mens dit deur die hele kamp ruik.
Dit was ‘n aaklige aardigheid om die ry vroue en kinders, elkeen met ‘n skotteltjie, te sien staan wag – partykeer urelank – vir hul rantsoen. Wie nie lander kon wag nie, laat haar skottel op haar plek in die ry staan om eers noodsaaklike werk in haar kamertjie te doen, of na ‘n sieke te kyk, en daarna neem sy weer haar plek in die ry in by die skottel. Wanneer meneer dit goed vind, begin hy die rantsoen uit te deel. Dit het op die ry afgegaan en as my maat voor of agter my nog nie terug was nie, dan neem ek haar skottel en “ticket” ook mee. Hierdie kaartjie was die bewys dat ek geregtig was op ‘n sekere hoeveelheid kos, bereken na die grootte van my gesin, en die ouderdom van my kinders. Kinders onder vyf jaar het vier blikkies melk per week gekry en ‘n sekere hoeveelheid meel, maar g’n vlees of ander kos nie. Daarom kry die vrou aan my regterhand amper niks as melk en meel, terwyl my linkerbuurvrou weer soveel vlees en brood kry dat sy aan ander ook kan gee. Maar almal was nie mededeelsaam nie, en derhalwe het die huisgesinne, waar daar net klein kinders was, dan ook bepaald honger gely as hulle nie geld gehad het nie..
Ons is met sulke minagting – lae minagting – behandel deur mense wat tuis aan ons agterdeur sou moes geklop het; orals heen en vir alles moes ons ‘n permit hê, en dit moes ons by die kommandant se kantoortjie kry. Meneer sit binne en skryf, te lees of te rook, en ons moes maar buite wag totdat sy hoogheid wou opkyk en vra:”What do you want?”

Mev. Barend Greyling, Rietfontein, Bethal
…Op ‘n Maandag het ons in die kamp gekom. Op Donderdag het my oudste suster en ek na die kampkommandant gegaan om hom te smeek om tog ‘n tent en ‘n katel vir ons te gee. In plaas dat hy ons help, het hy ons gevloek en weggestuur.
Toe gaan ons na die hospitaalsuster, suster Barrett. Sy het met ons saamgeloop; en toe sy ons hoekie sien, slaan sy haar hande saam in verbasing. Sy het vir my gedoen wat sy kon, en het vir my ‘n kateltjie gegee.
Teen die aand het die Here vir my ‘n liewe dogtertjie gegee. Toe het ek ondervind wat dit was om sonder die sorg van my liefhebbende eggenoot te wees. Dog onder al die gewoel van die een-en-sestig siele, behalwe vir die geraas daar buite, het dit baie beter gegaan as ek gevrees het, en daarvoor kan ek die Here nooit genoeg dank nie.
Later is die kamp verplaas en opgeslaan op die wal van die Vaalrivier; daar was elke huisgesin in ‘n ronde tent. Ons was nie lank daar nie of ons kinders word almal siek aan die masels, skarlakenkoors, kinkhoes, benoude bors of influenza. Al die siektes het tergelykertyd geheers….
Toe het die Liewe Heer my tent besoek. Op 24 Oktober 1901 het Hy my jongste dogtertjie van vier maande oud weggeneem na ‘n siekte van ses dae.
My dogtertjie, Hendrina, wat nou my jongste was, was ook siek. Op ‘n dag sê sy aan my: “Mammie sal sien dat die Heer my baie siek sal maak en ek sal ook doodgaan.” Haar siekte het daagliks toegeneem. Net toe word die kamp verplaas; en omdat daar g’n slote gegrawe was nie, was ons maar weer so op die nat grond sonder katels. Daar het my kinders weer kou gevat, en dit was baie nadelig vir hulle.
Omtrent drie dae voor die dood van my klein Hendrina sit my seuntjie bitterlik en huil. Ek vra hom waarom hy dan so huil? Hy sê :”Ma, sien Ma dan nie dat die kakies ons hier op ‘n hoop gery het, sodat ons almal moet doodgaan nie? Klein Sussie is al dood, daar lê Drinatjie. Ma sal vir haar en my ook moet afgee. Annie sal vir die laaste oorbly. En ek weet nie of my arme pa nog leef nie.” O, dit was soos ‘n swaard deur my hart! Hoe ek ook probeer om hom te troos en van hierdie gedagte aft e kry, hy bly maar daarby.
Op 19 November het my klein Hendrina gesterf; sy was drie en ‘n half jaar oud. Die ander twee kinders het gedurig gekla, en ek moes sien hoe hulle dag na dag uitteer.
Op 4 Desember is my dierbare man gevange geneem op Oshoek saam met ons ou vader, een broer, twee swaers en nog baie ander familiebetrekkings en vriende, ook ons leraar. Op 7 Desember is hulle Standerton ingebring, en met hulle ook baie vroue, wat die vyand gevange geneem het. My broer Adrian was gewond, en nie lank daarna nie is hy weggestuur. Sy vrou lê toe baie siek in die hospitaal, maar hulle wou hom haar nie eens laat groet nie.
O, dit was bitter, bitter om te weet dat ons dierbaarstes so naby ons was, en ons is nie toegelaat om hulle te sien voor hulle na Indië vertrek het nie. Op die dorp het my man van die dood van ons twee kinders gehoor.
Op 18 Desember is my liewe seuntjie, Abraham, oud vyf jaar en vyf dae dood na ‘n uitterende siekte van ses weke.
En op die 24ste Januarie het die doodsengel nog eenmaal my tent binnegetree en my enigste kind wat nog oorbgebly het weggeneem; my oudste kind, Anna, in die ouderdom van sewe jaar en sestien dae. Dit was regtig net soos haar broertjie gesê het: sy het vir die laaste oorgebly.


Thursday, May 30, 2013

Nog uittreksels uit "Mag ons vergeet?"



Op die erfenisstigting se facebook page, post Riana-hulle soveel mooi foto's en het al soveel mooies opgesit van die Boere-oorlog. Al die foto's wat ek op die laaste paar blog-posts gesit het, het ek van daar af gekry.

Die paar foto's hier onder, het ek egter op die volgende webblaaie gekry:


'n Mens kan amper nie glo dat daar 'n tyd was toe die haat vir die Engelse die hoof-besprekeing was in Suid Afrika nie. In die tyd van die Boere-oorlog was daar 'n term wat gebruik was vir die gevoel wat die Britte teenoor enige ander volk gehad het - "jingoism". Hulle het 'n absolute gevoel van meerderwaardigheid gehad, en is Suid Afrika was dit dieselfde. Afrikaners is beskou as 'n lae-klas mens, en swartmense nog laer as die afrikaners.

Natuurlik was dit nie almal nie, baie Engelse het hulle geskaam vir die houding, en name soos Olive Schreiner en Emily Hobhouse kom dadelik op. Maar uit die onderstaande sal mens sien dat daar nie baie was wie hulle geskaam het daarvoor nie.



Mej. M Els
…Onder ons was daar ‘n mev. Coetzee; sy het ag kinders gehad, en nou was vier al dood. Eendag gaan ek verby haar tent, en daar op die grond op die kakiekomberse sien ek drie seuntjies lê, en die miere wemel oor hulle. Die moeder wat kraamkoors gehad het – haar pasgebore seuntjie was al dood – lê op ‘n kateltjie. Naas haar lê ‘n meisie van sewe jaar, ook siek. Om hulle ellende te vererger was die tent vol kakieluise.

(sy het verder vertel van die opstand wat toe in die Brandfort konsentrasie kamp begin het op 25 November 1901.)

Aletta Maria du Toit, Welgedacht, Fauresmith, OVS
…Gedurig het ‘n mens die gehoes en die gekerm van die siekes gehoor. Hier hoor ek iemand van pyn kerm, daar hoor ek ‘n ander ween by ‘n sterwende, op ‘n ander plek bid iemand, weer êrens anders roep iemand om hulp en nog een smeek om ‘n lig, want sy wou sien of haar kind nie al dood was nie. Menige dierbare het so in die donker gesterwe. Partymaal het ‘n moeder haar kind buitentoe gedra om by die lig van die maan te sien of hy nog leef. Gaan ons die nodigste goed vra, dan word ons beledig… Twee maal in die week, Dinsdag en Vrydag, mog die mense hule dierbares besoek (in die hospitaal). As ‘n kind aan sterwe was word die moeder geroep; partymaal was die kindjie al dood as sy daar aankom.


Mev Anna Botha, Breipaal, Smithfield.
Op 4 Oktober 1901 is ek met my vyf kinders gevange geneem. Toe ons ‘n klein afstand van ons huis was, bars my vyf-jarige seuntjie in trane uit:”Ag, mammie”, sê hy, “sal ons dan nie almal in die kamp doodgaan nie?” Dit was vir my te veel! Op die oomblik kon ek hom nie troos nie, maar later het ek aan hom gesê:”My kind, ons moet nou die liewe Heer om troos en krag vra. As dit nie Sy wil is nie, dan sal ons nie sterf nie.”

Op 6 Oktober kom ons vermoeid en half dood van die honger in die kamp op Bethulie aan. Iemand slaan met ‘n stok op my tent. Ek vra wat dit dan beteken en kry as antwoord dat  k vlees moes gaan haal. Ek het na die groot tent gegaan en toe ek by die deur kom slaan die damp van bederfde vlees in my neus op. Ag, wat moes ek sien! Al die skaapvlees was bederwe, vol maaiers en wurms. In my tent het ek die vlees goed deurgekyk, maar het g’n enkele stukkie wat bruikbaar was, gekry nie. So het dit ag dae lank geduur voordat ek ‘n stukkie gekry het wat ek kon kook. Toe ek dit klaargemaak het, was dit oneetbaar van die dipstof.

Dieselfde dag is my dogtertjie hospitaal-toe gestuur, en dit het vier maande en vyftien dae geduur eer sy weer teruggekom het. Onderwyl het ek met al my kinders siek geword. Die dokter het gesê dat ek hospitaal-toe moes gaan. Ek kon geen mens kry by wie ek die ander kinders kon laat nie. Met my sterwende kind, amper nakend, is ek na die ander kant van die draadheining gebring. Daar was ek ‘n dag en ‘n half en toe sterf my kind.

Dink tog hoe swaar dit vir my was! Ek was so siek dat ek my oë byna nie oop kon hou nie en daar was niemand wat my kon help nie. Hoe swaar was dit nie om haar ogies toe te druk nie, haar uit te trek en die lykie toe te speld nie! Dit was nie in eie krag date k dit kon doen nie, maar in die krag van die liewe Heer.

Toe alles klaar was moes ek by die draadheining staan om my seuntjie van nege jaar te roep. Daar kom een van die “hensoppers” en hy neem die lykie van my. Ek gee hom toe drie sjielings met die versoek om ‘n kassie te koop en ‘n doodskissie te maak.

Om eenuur is die lykie van my liefling weggedra, en om twee-uur is ‘n paar lyke begrawe, want dit het tweemal per dag plaasgevind. Ek het gemeen dat die lykie eers die volgende dag begrawe sou word, maar die polisiedienaar kom terug, gee my die geld terug en sê dat die kommandant orders gegee het dat my kind dadelik begrawe moes word, want sy is aan ‘n besmetlike siekte dood en mag nie oorlê nie. “Ek het beloof” sê die man “dat ek heeltemal alleen die lykie sou begrawe net so gou die kissie klaar was, want ek het vir jou jammer gevoel, maar die kommandant het geweier en wou nie ‘n minuut langer wag nie.”

Ek was rasend van droefheid, maar dit het nie gehelp nie. Die lykie, wat vir my so dierbaar was, moes in ‘n kakiekombers in die graffie gelê word! En my kindjie was aan die kroep dood. Gedurende die siekte het ek nooit een nag ‘n liggie gehad nie!

Dit was toe Desember, en ses dae na die dood van my dogtertjie, word die seuntjie van vyf jaar oud siek. Ek moes dit rapporteer, en die volgende dag kom die dokter en ‘n verpleegster. Hy moes sy tongetjie uitsteek. “Ja, die kind moes hospitaal-toe.” Amper elkeen wat na die hospitaal gedra is, het ‘n prooi van die dood geword. Ek bars hard in trane uit; ek moes al een kindjie afgee en ‘n ander een lê in die hospitaal. “Ag dokter, smeek ek, “laat my kind tog maar by my bly!” Al my gesoebat het nie gehelp nie. Dit was nie ‘n uur later nie toe die ambulanswa daar staan.

Toe my seuntjie sien dat hy hospitaal-toe moes gaan, skiet sy ogies vol trane. “Ag Mammie, sal ek dan nie daar doodgaan nie?” vra hy vir my. Ek het self behoefte aan troos gehad, daar ek siek was en net ter wille van my kinders op die been gebly het, maar so goed soos ek kon, het ek vir hom getroos. So is hy uitgedra; weens swakheid en verdriet kon ek hom amper nie volg nie.

By my in die tent het twee kinders siek gelê en twee in die hospitaal. Twemaal in die week mog ek vir hulle gaan besoek. Die eerste kind was net vel en been – heeltemal vermaer. Na ‘n maand mog sy na die tent terugkom; sy was so swak dat ek vir haar soos ‘n babetjie moes versorg.

Die seuntjie het ook beter geword. Nog ‘n week het verloop, en toe het hulle gesê dat ek sy kleertjies na die hospitaal moes bring. Die koors het hom verlaat, en hy het begin eetlus kry. Hy het kos gevra, maar die het hy nie gekry nie, net melk met brandewyn, en dit kon hy nie drink nie.

Toe hy vyf dae op was, kry hy die kinkhoes en daarna inflammasie in die longe. Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. As ek vir hom vra, hoe dit met hom gaan, was sy antwoord, “Mammie, beter, maar ek het tog so honger.” Sy laaste woord was “honger”.

Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie so groot soos die van ‘n kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die rugraat voel.

Geen tong of pen kan die bittere smart wat ons moes verduur, beskryf nie! As daar een moeder is wat van daardie hospitaal weet, is dit ek! Vyf maande en drie en twintig dae het ek dag vir dag na die hospitaal gegaan. En dan het ons nog nie die voorreg gehad om vry in te mag gaan nie. Daar was ‘n wit streep getrek en daar moes ons staan. Daar het ek meermale drie keer per dag gestaan om te hoor hoe dit met my kinders gaan…. My dierbare kind is dood van verwaarloosheid en van honger.

Sunday, May 26, 2013

Engeland - die Verdrukker (uittreksels uit "Die vrou van die anglo boereoorlog" - Pets Marais)

Olive Schreiner het gesê "Al leef ek tot 'n gryse ouderdom, sal ek nooit die naam van Engeland hoor of geskrywe sien sonder dat die woord 'verdrukker' ook gefluister word nie."




"Onderweg (na 'n kamp) het 'n kind van een van die vrouens gesterwe. 'n Engelse offisier het by haar gekom, die kind uit haar arms geruk en hom in 'n sloot lans die pad gegooi en die drywers vand ie waens beveel om voort te gaa. Die Engelse het geen gevoel gehad nie." (Raath en Louw, Die konsentrasiekamp te Springfontein)

Op 25 Oktober 1947 , skryf 'n mnr. C.R.G. Lewis van Turnbridge Wells, Sussex die volgende brief wat op10 Desember 1947 in 'Die Volksblad' gepubliseer is:

Waarde Heer,
Ons glo dat U blad 'n belagrike Boerekoerant in ons Suid Afrikaanse kolonie is. Ons hoop dus dat U die brief uit Brittanje sal publiseer.
Waarom is julle Boere vir 'n republiek en daarteen om 'n kolonie van ons te weers? Vir 'n agterlike minderheid met geen eie kultuur en geen leiers nie, is julle baie gelukkig om onder ons bewind te staan. Suid-Afrika het groot rykdom, maar daardie rykdom moet ingespan en na die regerende land, Brittanje, teruggebring word. Julle het groot oop ruimtes - dit moet beskikbaar gestel word vir ons landsburgers wat begerig is om na Suid-Afrika te emigreer. Wanneer hulle aankom, verdien hulle die beste werk en goeie huise: omdat hulle veel beter tipes as julle Boere is.

NIE EENS DIALEK
Met betrekking tot taalbevoegdhede: Jul baster-taal, Afrikaans, moet geheel en al verbied word - dit is lelik en het geen affiniteit met ons wonderlike Engelse taal nie. Ons Britte was gewis nooit van plan om dit te leer of dit as 'n taal te erken nie. Dit is nie eens 'n dialek nie!
Daarom, Boere en Afrikaners, hou jul monde oor 'n republiek of 'n oorwinning in die verkiesing. As julle lastig begin word, sal ons Britte julle gou-gou nog 'n pak gee soos ons in die Boereoorlog  gedoen het. En hierdie keer sal jul vroue en kinders veel langer in die konsentrasiekampe bly!
"Rule Brittanie" - en weg met Afrikaans en die Afrikaners. Met Smuts aan ons kant, sal Suid-Afrika 'n Britse kolonie bly.

Die Uwe,

CHARLES R.G. LEWIS 

Op 2 Januarie 1948 antwoord kaptein Henri Slegtkamp hom as volg:

Dear Sir,
Referring to your disdainful letter to one of our Afrikaans newspapers "Die Volksblad", I would gladly reveal my and other Africaners' feelings to you and your, to my mind, entire ignorance of our tradition and history.
Your slanderous utterances that the extermination of Boer-women and children was a valid undertaking that should, if needs be, repeated, is the most disdainful, mean and vulgar expression I ever heard from an Englishman. Luckily you are in the minority and of the lowest alloy. The Arikaner nation rejects your thoughts with the contemptibility which it deserves.
I'll now tell you something. I know what I am talking about because I had the rank of Captain int he Boer Commando's during your aggressing war of 1899-1902, and fought to the bitter end. On your bragging that if we started to be a nuisance "again", you, British people, will very soon give us another hiding like that of the Anglo-Boer War, I have only one comment to make, and this is, just try. Are you aware that at the end of the war ther were 430,000 British men in die field against a small 22,000 Boers? And if it wasn't for the cruel massacre of 26,000 women and children in your Belsen camps, we would never have given in, and the "mighty: British army would have left these coasts faster than they arrived here.
You talk of "British Fairplay":Shame! Your men could do nothing against the unarmed Boers, so the ppor women and children had to suffer. They were dragged out of their homes, the dwellings with their contents, as well as the produce on their lands were burned to ashes, their fowls, pigs, sheep etc., stabbed to death by bayonets, shot or burned to death in thousands. Very valiant, eh? I wonder whether you and your sort fought during the last two world wars to help your country out of its trouble.
It's a pity, my nation was too much of a christian nation, too human to prisoners and to their foe. If they are stilla llive, ask Capt. Healy (Royal Engineers), Capt. Beard (Intelligence) and Capt. Carlton who was taken prisoner with 170 men on Spioenkop and taken by me to Pretoria,a nd who, on departure, handed me his card with the words that if ever we are madeprisoners we must be treated like gentlemen.
Concerning our language. We are proud of it, and your sort of Englishmen will never understand it, but if ever you come to this country, I'll advise you to start learning that "despicable" language NOW, for you will need it badly.
Your quasi "Rule Brittania" is something of the past. Your greatness, your illustriousness has fallen to NIL. Your sun is disappearing in the west. Don't forget God's mill grinds slowly but sure, and your country is in the mill. Our aim and strife is a Free Republic, and it is coming. Further we aim at a sincere friendship towards every good Englishman, but not towards your sort. Through your sort your country is in that trouble today, and you will rather flee from your country than to sacrifice a small bit towards its safety.
You have sent you blasphemous letter to one of our greatest Afrikaans Newspapers. I now challenge you to publish this letter in one of your greatest newspapers, so as to convince your people that the Boer Nation is a noble nation that always forgives, but NEVER forgets.
I don't believe that there are many people in your country that will sympathise with you, but I am convinces that you will be abhorred and despised by every noble and christian Englishman.
You have already received our disdain.

Yours faitfully,
CAPT. H.F. SLEGTKAMP D.T.D.

Saturday, May 25, 2013

Die konsentrasie-kampe

Ek dink die volgende paar "posts" gaan basies uittreksesl wees wat ek raaklees, en dit sal in klein brokkies wees, want dis nie asof ure en ure se lees-tyd inkry nie!

Ons was so rukkie Gouritz toe gewees, en die huis waarin ons gebly het het so paar baie kosbare boeke gehad. Ek kon regkry om EEN deur te lees (ek weet, alles raak bietjie stadiger as mens klein kindertjie het :-) !!) en dit was "Mag ons vergeet?" deur Mevrou E. Neethling.
Hierdie is 'n foto van Nonnie de la Rey (dankie erfenisstigting se facebook blad vir al die foto's op hierdie post!)

Mev. E. Neethling het verskeie briewe ontvang van vroue wie die konsentrasie-kampe deurgemaak het, en hulle ervarings daarin vertel het. Dit is 'n verskriklike en eerlike blik op daardie deel van ons geskiedenis, en dit gee mens 'n goeie idee waarvandaan ons "Afrikaner-nasionalisme" gekom het. Die Afrikaners het baie seer gekry in die Anglo-boere oorlog, en veral die vroue en kinders in die konsentrasie-kampe het vreeslike goed beleef en ervaar. Wat vir my uitgestaan het terwyl ek al die briewe gelees het, was nie net die ongelooflike stories, en die vroue se vaste geloof in 'n goeie God nie, maar ook die taalgebruik van daardie tyd en die verfyndheid van die vroue!

Ek deel graag so paar uittreksels uit die boek:

Die huise is verbrand of opgeblaas - die "verskroeide aarde beleid" van Kitchener


Martha Kriel, Conovium, Ladybrand. OVS –
Op ‘n Maandagoggend het die vyand ons weer so amper in die hande gekry, maar binne weinige minute het ons ingespan en die bult oorgeja. ‘n Paar families is die oggend daar met hulle waens gevang, onder ander ‘n vrou wat die nag bevalle was. Wat moes ons Afrikaanse vroue tog nie alles deurmaak nie!
Die tog was so swaer en koud dat ons huis-toe gegaan en besluit het om nie weer te vlug nie. Dit het ‘n paar maande geduur voordat kolonnes weer hier aangekom het. Dit was hard om hulle nader te sien kom. Die soldate was so parmantig, veral die swartes. Hulle het die rytuie wat hulle in die hande kon kry, verbrand en al ons vee doodgemaak. Van my is in Januarie 1902 tweehonderd bokke op ‘n krans vermoor. Die volgende more het ek na die plek gegaan om die vreeslike skouspel te bekyk.
Ek het nog ‘n baie goeie melkkoei oorgehou en het die melk gebruik vir my seun, wat siek was aan ‘n slangbyt. Maar so onbeskaamd was hulle dat hulle my enigste koei ook doodgeskiet het. Daar sit Boer se vrou nou met haar siek kind! Maar in al die gevare en in die verdrukkinge het ons nog altyd die volle hoop gekoester om ons vryheid terug te kry.
By ons liewe Heer was dit anders besluit, daarom moet ons tevrede wees.
 

Baie vrouens het probeer vlug van die plase af toe die Engelse die plase begin afbrand het en die vroue en kinders weggevoer het na die konsentrasie-kampe toe. Genl de la Rey se vrou - Nonnie de la Rey - het dit ook gedoen, en was een van die min vroue wie nooit gevang was nie.

I.v.m die swartmense - dit was alombekend dat die Engelse die swartmense gemanipuleer en gedreig het om deel te word van hulle weermag. In sommige gevalle was dit sekerlik vir die geld wat die mense dan begin saamveg het, maar in hierdie storie van Martha Kriel lyk dit amper asof hulle wraak geneem het en dit geniet het om die vrouens en kinders af te knou. Maar dan is daar ook baie gevalle waar die "joiners" net so wreed, of dalk erger was met die vrouens en kinders. Oorlog laat mense snaakse dinge doen - dis verseker.

Hier is nog een:



E.M van der Walt, Walfryt, Distr Bethlehem –

My swaer, F. Muller, was krygsgevangene op Kroonstad. Sy vrou het ‘n goeie melkkoei gehad. Deur een generaal is sy toegelaat om die koei te behou omdat sy ‘n tweeling gehad het wat bottelbabetjies was. Later word die koei van haar afgeneem. Sy gaan na die generaal wat toe oor die soldate was, wys hom die twee babetjies en smeek hom om haar tog haar koei terug te laat kry. “Gee die kinders water om te drink”, was sy wrede antwoord:” daar is ‘n oorvloed van water in die rivier.” Sy moes die kleintjies op pap en swart, bitter koffie grootmaak. So het ons gesukkel; groot en klein was ons saam met dertien in die huis, en die meeste van ons het so nou en dan aanvalle van die koors gekry.
Op die land het ons die mieliepitte opgetel wat die duisende perde en beeste nie opgevreet het nie. Ons het die mielies in ‘n koffiemeul gemaal en pap daarvan gekook. Van ons vee – groot of klein – het ons nie een oorgehou nie. Onder die 450 000 soldate wat daar verbygetrek het, het ek net een ontmoet wat ‘n menslike gevoel getoon het. Sy maats het al ons kos uit ons huis geneem: maar toe dit die nag sy beurt was om op wag te staan, het hy vir ons ‘n bietjie koffie, suiker, sout en kerse gebring.
Na die vrede het ek “die ellende” ondervind om van die vyand se kos te ontvang. Dit word toe bekend gemaak dat skadevergoeding uitbetaal sou word; maar sover ek weet, was die driemiljoen net op papier. Ek het ook my lys met ‘n eis vir skadevergoeding opgestuur; ek het niks gekry nie – nie eers die papier waarop dit geskryf was nie!


En die laaste een vir die aand: (kyk net hoe verfynd was die boerevrou)


Mev. P Botha (Philippolis, Vrystaat)
Ons moes nou per trein verder. Drie treine het naas mekaar gestaan, en ons moes deur twee stap om in die derde een ons plek te kry. Die kinders het gou daarin gesit, maar ek bly by my goed staan.’n Engelsman vra my waarom ek nie na die trein gaan nie. Ek antwoord: “Ek wag dat iemand my goed moet oordra” (Sien ek was gewoond om soos ‘n dame behandel en bedien te word; ek het nie kon droom van sulke behandeling as my nog te beurt sou val nie.)
Die Engelsman lag en sê “Dra dit maar self oor”. Gelukkig sien iemand wat my vroëer ontmoet het, my in hierdie moeilikheid en kom my help.
…Die volgende oggend kook ek ‘n bietjie pap van die hawermeel wat ek saamgebring het, en sit daar plat op die grond rondom die pot saam met my kinders en eet. So ‘n gevoel van skaamte het my oormeester; ek het vir myself onder sulke omstandighede nie geken nie.Ek sê aan een van my dogters:”Maak tog die tentdeur toe dat ander mense ons nie kan sien nie. Ek skaam my vreeslik.”