Pages

Friday, November 30, 2012

Papen wat?

Ek vind toe uit dat die naam "Sophia Charlotte" teruggaan tot by die dogter van Heinrich Friederich Papenfus en Catharina Elizabeth Boshoff. Sy was gebore op die 12de Desember 1825 in Graaff-Reinet! Sy was die 9de kind van Heinrich en Catharina se 12 kinders, van wie 10 oorleef het. Haar sussie wat net 2 jaar jonger as sy was, se name was Charlotte Petronella. Dink net - twee dogters wat hulle altwee die naam "Charlotte" gegee het!. En niemand in Heinrich of in Catharina se familie het hierdie naam gehad nie.

Daar was wel 'n prinses uit die dorpie Mecklenburg-Strelitz, waar Heinrich gebore is in 1784, met die name Sophia Charlotte!
skildery op wikipedia gekry
So, ons boek verander sommer self in 'n effense fëe-verhaal met 'n regte egte prinses en alles! Daar is nie regtig baie Papenfusse in Suid-Afrika nie, en daar is ook nie verskriklik baie inligting oor hulle op die internet nie, maar hoe wonderlik dat ons Sophia Charlotte vernoem is na die prinses.

Wat ook wonderlik is (ek weet - ek word so vinnig opgewonde oor goed!) is dat sy toe met koning George getrou het - die een wat mal geword het - en dat sy so 'n goeie vrou vir hom was, dat dit opgeteken is in die geskiedenis-boeke.

Ons boek sal natuurlik nie net geskiedkundige vertellings wees nie - dit is fiktief, want ons weet natuurlik nie hoe die karakters gelyk het nie, en hoe hulle was nie. Maar ons baseer baie van die storie-detail op goed wat ons ontdek in ons navorsing.

Die boek sal nou oor 6 geslagte "Sophia Charlotte" 's gaan. En ons eerste karakter se naam is Sophia Charlotte Papenfus. Haar bynaam was Feitjie.

Thursday, November 29, 2012

Die begin van 'n avontuur

Vroeg in die jaar het ek 'n boek gelees - "Hanna's daughters" (http://www.amazon.com/Hannas-Daughters-Ballantine-Readers-Circle/dp/0345433491) wat vir dae lank my gedagte wêreld oorheers het. Dis die storie van 3 vroue - die ouma, die ma en die dogter en hoe hulle lewens oormekaar gevloei het. Iets het binne in my wakker geword vir die feit dat ons soveel dinge - wetend en onwetend by ons ma's leer, en dit weer op ons beurt aan ons dogters oordra. Sommige dinge is so diep in ons hart weggebêre dat ons nie eers altyd besef dat ons dit by ons ma's kry nie. Gedagte-patrone, maniere waarop ons besluite en keuses maak. Ons keuse van die man waarmee ons trou, die manier wat ons dinge in ons kinders inbou, en hoe ons oor onsself voel.

Soos ek in my eie gedagte wêreld oor en oor aan hierdie boek en die interessante implikasies wat dit kan hê, gedink het, het ek besef dat daar definitief 'n storie in ons geslag vrouens moet wees. My ma is onbetwyfeld 'n vrou vol stories. Dit bedoel ek nou nie soos dit klink as jy dit sê nie. Om dit beter te kan verduidelik, kan mens maar sê dat van al die kleinkinders se ouma's, staan sy bekend as die "storie-ouma". Jy kan maar weet as 'n kleinkind op haar skoot gaan klim, dan is daar een doel voor oë - en dit is vir 'n storie. In my ma se hart is daar kamers vol stories. Sy versamel hulle al van kleins af en wat 'n voorreg om te kon grootword en baie van die stories te kon hoor!

Nouja - dit is waar die idee toe gebore word. My ma se naam is Sophia Charlotte. Haar ma se naam is ook Sophia Charlotte. My oudste suster se naam is net Charlotte. Daar is toe nou sommer klaar ons weergawe van "Hanna's Daughters"! Hoe opwindend! Ek noem toe aan my ma in een van ons geselsies dat ek die gedagte het dat ons 'n storie het, maar dat sy definitief dit sal moet skryf, aangesien ek nie een is met stories in my hart nie. Sy is toe dadelik opgewonde, en ons begin toe met die navorsing.

Hierdie blog is ons reis saam met ons karakters en hopelik tot by die "geboorte" van ons boek. Ek sal probeer om boek te hou van alles wat ons bymekaar maak, en die proses om die boek bymekaar te sit. Dit is vir ons baie lekker om daaraan te werk en ons kan nie wag om die boek eendag te publiseer nie!