Pages

Wednesday, December 26, 2012

'n Dag van ontdekking!

Die groot dag het aangebreek! Een van baie sulke dae-hoop ek! Ons gaan more Middelburg toe ry en die plase gaan soek waar ons Sophias gebly en grootgeword het. Onder andere, sal ons die witkerk in Middelburg en die konsentrasie-kamp begraafplaas gaan besoek! Ek kan nie wag nie!

Ons roete sal so lyk:

 Ons sal more oggend uit Pretoria vertrek, en reguit ry na die GPS koordinate wat ek op die internet gekry het vir die plaas Wintershoek. Dit is waar Sophia Charlotte Scheepers (nee van der Merwe) oorlede is. Van daar af sal ons weer na die plaas Roodepoort toe ry waar die Scheepers familie kerkhof is, en waar daar 'n gedenksteen opgerig is vir Gideon Scheepers. Ek wil graag kyk hoe ver is die twee plase van mekaar af, want op die geslagsregisters is dit aangeteken dat ons Sophias op altwee gewoon het. Ons het op 'n vorige keer die plaas Roodepoort gekry op so 'n wonderlike manier, dat dit amper nie waar klink nie, en die volgende foto's geneem:

Hierdie is 'n mooi ou klip-"wiel" naby die huidige ingang - dit was waarskynlik nie destyds die ingang gewees nie.

Ek is nie seker wat hierdie was nie - en wanneer dit gebou was nie - een van die baie vrae wat nog geantwoord moet word


Hier stap ons af na 'n ou klip geboutjie - ook nie heeltemal seker of dit dalk 'n huis kon wees nie.


Hier is Gideon Scheepers se gedeksteen


Die ou grafstene wat met leiklip bedek was dop almal af.


Hier is ons volgende karakter se grafsteen langs haar man




Sophia Charlotte Papenfus - ons eerste "karakter" se graf op die plaas Roodepoort

Die grafskrif van so 'n bietjie nader beskou

Ek het maar elke moontlike hoek gebruik om dit af te neem - een van die dae sal al die leiklip afgedop wees!

Ons vermoed dat hierdie Sophia Charlotte Liebenberg se graf was. Sy is oorlede in 1915




Hierdie was nog een van die grafte se stukkie leiklip wat darem daar naby op die grond gelê het. Dit was Hester Liebenberg - Sophia Charlotte Liebenberg se dogter se graf.

Hier staan my ma langs Sophia Charlotte Papenfus se graf. SC Papenfus was gebore op die 12de Desember 1825 en het getrou met Schalk Willem van der Merwe - ons dink sy graf is langs hare (agter my ma op die foto)






Destyds is die kerkhof mooi onderhou en die muurtjie is om dit gebou. Hier is ook 'n gedenkdiens gehou toe Sophia Charlotte 98 was vir haar seun Gideon wat deur die Britte gefusilleer is.


Kyk net hoe verwaarloos lyk die grafte. Ons neem maar soveel foto's as wat ons kan, gelukkig is dit ook op Eggsa se webtuiste.http://www.eggsa.org/library/main.php?g2_itemId=1459517



Hier staan die ou plaashuis nog! Tannie Babs het gesê dat my oupagrootjie dit gebou het nadat sy kinders groot was. Hier was baie familie byeenkomste gehou nog daarna.



Blykbaar was die "skuur" waar my oupagrootjie gewoon het terwyl hulle hierdie huis (op regterhand in die foto) gebou het.



Tannie Babs sê hierdie was die eintlike voordeur.





Die was die kombuis


Nog deel van die kombuis




Die rondaweltjie was die melk-kamer




Kyk net wat kry ons in een van die laaie - ek wonder waarvoor was dit?


So 'n pragtige huis! Ek wonder hoe lank sal dit nog so bly?


Wednesday, December 19, 2012

Die plaas-lewe


http://agrariannation.blogspot.com/2011/05/may-1840-1851-1857-1858-farmers.html - die prentjie is nou nie eg Suid-Afrikaans nie, maar is tog van die regte tyd af!

Wat is 'n "normale" roetine vir vandag se lewe, wonder ek.

Kom ons kyk - in ons lewe, kan ons tussen 6uur en half-7 opstaan, tee drink en gaan piepie. Teen daai tyd (soms voor ons nog) is die kinders wakker (net 2 in hierdie geval) en die een het waarskynlik 'n nat doek en soek 'n bottel. Die ander een gaan self toilet toe en soek dan dadelik pap, wat sommer in boks-vorm kom en net melk en suiker nodig het. Dan draai ons krane oop met "instant" warm water waarin ons kan stort, bad of was, en dan kan aantrek vir die dag. So teen half-agt kom ons juweel van 'n huishulp in en die wêreld is sommer 'n beter plek, want die tweede koppie tee is oppad, en sy waai haar towerstaffie om al die vuil skottelgoed skoon te kry, en alles netjies te maak.

Kantoorwerk neem dan die meeste van die dag op met onderbrekings elke nou en dan vir tee, middag ete of bietjie aandag aan die kleingoed.Stres-vlakke gaan maar op en af soos die dag se kliënte of ander kollegas dit opjaag of afbring, en teen 4uur of half vyf wanneer ons juweel al sterk oppad is huistoe, begin ons met aandkos, wat soms heel "fancy" kan wees - braaivleis, vars gebakte brood en slaai uit die tuin :-). 6 uur bad ons die kindertjies, 7 uur is dit storie lees, liedjie sing, bid en slaap, en dan is die huis weer rustig.

Ek het een Saterdag beet uit ons groentetuin gehaal, dit gewas en die blare afgeknip. Toe het ek dit gekook totdat dit sag was en daarna die asyn mengsel aangemaak en in bottels gesit. Terselftertyd het ek soveel spinasie geoes as wat ek kon, dit gewas, die harde stingels afgeknip en ook gekook, in sakkies gesit en in die vrieskas gebêre. Dit het my een hele dag geneem en ek het 6 pakkies spinasie gehad en 3 bottels beet.

Maar wat daarvan as ons ons eie leefwyse terugskuif na 1840 miskien? Kom ons kyk - 
As die kleintjie half 7 wakker word en lus is vir tee, dan is daar eerstens geen warm water nie. So, mamma moes sekerlik al opgestaan en aangetrek gewees het teen 6uur, om die vuur aan die gang te kry en om water te gaan haal en dan op die "stoof" te sit. Dan sal die tee gemaak kan word vir sussa. Toilet-geriewe was buite en 'n entjie van die huis af weg, so boeta sou miskien nie alleen kon gaan piepie het nie, of miskien het hy sommer in die tuin gegaan? Boeta se pap is die volgende dillemma. Geen pap in boks-vorm daai tyd nie, so ons sou hopelik meel gehad het in die huis vir mieliepap, en hopelik suiker ook. Melk sou sekerlik ingekom het in die oggend wanneer manlief die koeie gaan melk het, so terwyl moedertjie opstaan, vuur maak en water kook, sou vader die beeste versorg het. Maar sekerlik sou moedertjie vir vadertjie 'n ou koppietjie koffie wou gee voor die dag sou begin, so sy sou al baie vroëer moes opstaan om dit te kan doen vir hom. En wat dan van die stort? Elke kamer sou daardie tyd 'n wasskotteltjie en 'n beker gehad het. Mens sou sekerlik die water moes gaan haal het, warm maak op die stoof en dit dan aandra kamer toe waar jy sou was, afdroog en aantrek. Om water te gaan haal en op 'n vuur aan die kook te kry neem ook natuurlik 'n baie lang tyd.



Dink net hoe dikwels en volop die vuurmaakgoed moes wees om seker te maak die vuur is deurentyd aan die gang vir water wat gekook moes word. En dan moes daar sekerlik ook brood gebak word. En sodra almal dan gewas, aangetrek en ontbyt gegee is (en die spulletjie kinders was waarskynlik nie net 2 soos in my geval nie) was daar sekerlik 'n klomp werk wat gedoen moes word in die groentetuin. Plant, water gee, bossies uittrek, oes, inlê en gaarmaak. En tussenin was klere gemaak, reggemaak, gewas met die HAND en opgehang om droog te word. En kindertjies moes aandag kry - liedjies was gesing, stories vertel en lessies geleer. Nee, wag - die arme vrouens moes sekerlik al 4uur opgestaan het om alles gedoen te kry vir die dag!

In vandag se tyd is ons lewens volop "luxuries". Ons kan amper nie 'n lewe indink daarsonder nie. Van oggend tot aand word ons lewens vergemaklik met 'n kraan met lopende wam en koue water, mikrogolf-oonde wat kitskos gaarmaak, ketels wat vir ons tee en koffie-water gee, kits-kosse wat uit bokse kom, weggooi-doeke en "wet-wipes". Voorbehoed-pilletjies spaar ons arme jong-getroudes van die drukgang van kinders kry en grootmaak, en ons gun onsself soveel tyd vir onsself.

Ek dink "op vakansie gaan" was nie 'n konsep wat geken was in daardie tyd nie. Oumense en siekmense het "gaan rus". Die res van die spulletjie moes werk.

Iets wat seker was van daardie tyd is dit – vrouens het mekaar nodig gehad. As jou dogter haar eersteling verwag het, was jy sekerlik daar om haar by te staan met die geboorte, of dan met die huishouding. As jy nie daar kon wees nie sou ‘n buurvrou sekerlik kom help het. Swaarkry het mense nog altyd nader aan mekaar gebring, en ek is seker daardie tyd was gevorm deur naby-geweefde gemeenskappe.

Vandag het ons hoë mure om ons huise, ons leer om nie met vreemdelinge te praat nie, en ons nooi nie sommer ons bure oor vir ete nie. In daardie tyd het die mense mekaar nodig gehad en mekaar bygestaan, en daarna kan ons verseker verlang.

Tuesday, December 11, 2012

'n Vanne-dans

Nouja, dis seker nou al duidelik dat ons navorsing oor ons familie nie verbonde was aan net EEN van nie. Die van moes elke keer ordentlik nagevors word soos die Sophias trou. Ons Papenfus het van der Merwe geword, en haar dogter Sophia het toe met 'n Scheepers getrou. Scheepers se dogter Charlotte het met 'n Liebenberg getrou en dan loop ons storie 'n draai met 'n Botha, dan 'n Cilliers en dan 'n Stapelberg.

Snaaks hoe dit maar altyd die vrou was wat die minste moes wees en haar man se van oorneem. Nee, ek is nou nie een van daai vrouens wat vreeslik verontreg voel oor simpel goed soos dit nie! Dit was eintlik glad nie snaaks nie. Die mense het maar net aangehou met hulle gebruike soos wat dit oorgekom het van Duitsland, Nederland, Frankryk en waarookal daar nog blink-oog mense vandaan gekom het na hierdie wonderlike kontinent Afrika. En dit het eintlik sin gemaak ook, maar ek wil nou nie eintlik in daardie gesprek ingetrek word nie.

Nee, wat ek probeer sê is dat dit ons storie soveel meer interessant maak. Wie sou nou ooit kon raai dat 'n Stapelbergse Sophia Charlotte, 'n afstammeling is van 'n Papenfus Sophia Charlotte! Hierdie maak eintlik 'n magdom moontlikhede oop, want was Heinrich Papenfus die eerste een om sy dogterjie(s) na die prinses te vernoem? Of was hulle dalk op meer maniere verbind aan mekaar as dat hulle van dieselfde dorpie afkomstig is? En kan dit wees dat alle Sophia Charlotte's van die een prinses se naam afkom?

In elk geval. In ons storie dans ons met vanne. Dit is 'n fees om van die een van na die volgende te spring en te wonder en te droom oor hoe presies ons karakter kon gewees het. Ons ken darem so paar Sophia Charlotte's om ons 'n goeie idee te kan gee!

Hier sit drie van ons Sophia Charlotte's - die baba is my ma - Sophia Charlotte Stapelberg(nee Cilliers); die vrou wat staan links agter was my ouma - Sophia Charlotte Cilliers (nee Botha); en die vrou wie sit op die stoel is my agter-oumagroutjie - Sophia Charlotte Scheepers (nee van der Merwe). Die regterkantste vrou was my oumagrootjie - Catharina Elizabeth Botha (nee Scheepers).





Tuesday, December 4, 2012

My naam is van der Merwe


Ons volgende GROOOOOT struikelblok was die feit dat ons Sophia Charlotte Papenfus toe met 'n van der Merwe trou. Ai! Enige iemand wat al famlienaam-navorsing gedoen het en enigsins op 'n van der Merwe van afgekom het sal weet - dit is NAG om iemand tussen al die van der Merwes te kry! In die geslagsregister wat ons by die Biblioteek gekry het, was daar 26 bladsye vol van die van der Merwes!! Wat ons navorsing toe nog des te meer ingewikkeld maak is die feit dat ONS van der Merwe toe nou Schalk Willem van der Merwe heet, en daar is ONGELOOFLIK baie Schalk Willem van der Merwes!

Die eerste van der Merwe wat in Suid Afrika aangekom het in die 1661 se naam was Schalk Willem. Die van der Merwes het die groei van die Afrikaner-nasie 'n groot hupstoot gegee, want hierdie man het saam met sy vroutjie Elsje Cloete - 13 kinders gehad. Sy vierde seun - ook Schalk Willem, het met Anna Prevot getrou en hulle het 17 kinders gehad. 10 van die 17 was seuns, wat dus gesorg het dat die van voortbestaan in al sy glorie, en saam het Schalk en Anna 135 kleinkinders gehad! 'n Ander interessante storie agter die storie was die feit dat ons eerste van der Merwe (Elsje Cloete se man) ook kinders by 'n slavin gehad het. Nouja - dit beteken maar net dat ons van der Merwes al van vroeg af goed geintegreer was in Afrika!

Ons kry toe UITEINDELIK ons Schalk van der Merwe in die Erfenisstigting se Biblioteek. Hy en sy Sophia Charlotte het toe getrou in Graaff Reinet en hulle het toe self 'n huis vol kinders gehad. Natuurlik was die eerste seun sy oupa se name gegee (ook Schalk Willem) en die eerste dogter het haar ouma se name gekry (Catharina Elizabeth). Die tweede dogter was genoem "Hester Maria" na die ouma aan die pa se kant en die vierde seun was "Hendrik Frederik Papenfus" van sy oupa "Heinrich Friederich Papenfus" aan sy ma se kant. En ja - moenie bekommerd wees nie - die sesde kind se naam was Sophia Charlotte. Sy was die ma van Gideon Scheepers - 'n boereheld in die Anglo-boere oorlog.




Monday, December 3, 2012

Name en Vanne

Die oumense was baie seker oor name en vanne. Dit was "die-regte-ding-om-te-doen" om jou familiename oor te dra aan jou kinders. Die eerste dogter se naam was gewoonlik vanaf die ouma aan die ma se kant, en die eerste seun se naam was die oupa s'n aan die pa se kant. So het hulle dit deurgewerk en hulle kinders eers al die familiename gegee voor hulle met hulle eie kreatiewe name vorendag kon kom. Dikwels was hierdie kreatiwiteit ook onnodig, want daar was reeds soveel name om te kon gee. In die navorsing vir ons boek het hierdie tendens baie duidelik uitgekom en soms het dit die soeke na feite juis bietjie moeilik gemaak ,want jy kom af op 'n persoon met die regte NAME, maar dan draai dit uit dat dit toe ons karakter se niggie of nefie of iemand heeltemal anders is!

'n Mens kan seker dan ook aflei dat wanneer 'n ouma of oupa NIE vernoem is soos dit die gebruik was nie, dan was daar sekerlik een of ander familie-skeur, of konflik gewees met die tyd van die kind se geboorte. Waar geslagsregisters inkonsekwent was, moes ons hierdie afleiding maak en kon die fiktiewe kreatiwiteit inskop. Nog 'n interessante ding wat ons opgetel het, was dat hulle nie snaaks daarvan gedink het om 'n naam weer te gebruik nie. Soos wanneer 'n kind gesterf het, sou hulle maklik die volgende kind die oorlede kind se name gegee het. Ek is seker dat daar allerhander bygelowe hier kon inskop, soos dat dit dieselfde kind kon wees, of dat hulle dieselfde siel gekry het. So 'n tema het nogal deurgeskemer in Marianne Frederikson se boek, "Hanna's daughters".

In daardie tyd was daar baie redes vir familie-skeurings. Een groot ding was seker maar die besluit - om te trek, of om nie te trek nie. Die Groot Trek was voorafgegaan met "die Voorste mense" - gesinne wat getrek het opsoek na beter weiding en landerye. Toe was dit die Groot Trek, maar selfs daarna het mense nogsteeds Noord getrek. 'n Ander rede vir 'n breuk, was maar (soos nou nog) die politiek. In baie opsigte was Godsdiens destyds nou verbind met politiek ook, en interessante brokkies wat deurskemer is dat die sendelinge nie regtig in al die Afrikaner-kringe gerespekteer was nie, en dat die kerke nie die Trek ondersteun het nie.

Ten spyte van al hierdie dinge weet ons almal tog dat die Afrikaners vreeslike godsdienstige mense was (party van ons is nogsteeds!). Maar, net om die prentjie mooi te bederf, wil ek net graag almal herinner dat godsdienstigheid ongelukkig nie paralel staan met morele waardes nie. Soos die bekende skrywer geskryf het, dat daar "niks nuuts onder die son" is nie. Dit beteken dat hierdie romantiese prentjie van ons van die "ou tyd" baie vinnig uitmekaar uit rafel met mans wat hulle vroue verneuk, politici wat bedrog pleeg, moorde, diefstal en prostitusie.

Die menslikheid in ons almal is 'n waarborg dat sulke aaklighede gebeur het, huidiglik gebeur en nog sal aanhou om te gebeur. Daar is 'n vrot hart in elkeen van ons wat ons onsself elke dag mee bedrieg, ten spyte van ons vroomheid. Dit maak darem ons storie soveel meer interessant!

In elk geval - terug by name - dink net daaraan hoe verwarrend dit kon raak as jou eerste dogter dieselfde naam gekry het as jou ander vyf susters se eerste dogter! En jou eerste seun. En hoe die oupa's en ouma's dalk hulle naamgenote sou voortrek tot die spyt van die res van die kleinkinders. Siestog!

Byname was darem ook daar om die verwarring te kon vermy. Dit het ons ook dikwels raakgeloop in hierdie familieverhaal. Soms het byname sin gemaak, "Catharina" het dalk Katriena geword, of "Petrus" het "Peet" geword. Op 'n stadium, net so voor die Boere-oorlog het die name ook baie verengels - "Gideon" het "John" geword, "Catharina" het "Kate" geword en "Willem" het "Bill" geword.

Ons sit vandag nog met familie-name, hoewel dit nie meer soos die ou name klink nie. My klein-niggie se naam is "Rina", vernoem na haar ouma - "Catharina Elizabeth". My ousus se dogter se naam is "Carli", vernoem na "Charlotte". So die name gaan tog wel aan, al is dit so 'n bietjie verbloem onder moderne klanke!

Saturday, December 1, 2012

Groot gesinne, nee wag MASSIEWE gesinne!

Deesdae as jy 3 kinders het, dan is daar al klaar so bietjie van 'n hoër-wenkbrou-kyk van seker mense af as hulle jou ontmoet. Wat nog te sê as jy 4 kinders het! Sulke mamma's lyk asof hulle "super-powers" het, as hulle met hulle mini-bussies die wêreld vol jaag met 'n kar vol kinders om inkopies te doen, of die kinders na musieklesse, of swemlesse of skool toe te vat.

Ek het net 2 kinders, my seuntjie is 5 en my dogtertjie is 2. En daar is party dae wat ek regtig nie EEN ding wat ek mee begin, kan klaarkry nie. Ek verwonder my aan mamma's wat so op die oog af lyk of hulle alles onder beheer het - die kindertjies is gelukkig, die huis is skoon en netjies en die kos wat hulle kook is heerlik!

My ma het 9 kinders gehad - een dogtertjie is oorlede toe sy 2 daggies oud was. My ma is so ietsie van 'n legende en mense glo amper nie as ek vertel wat ek julle nou gaan vertel nie. Sy was vir 15 jaar lank swanger, of besig om te borsvoed. My oudste suster - Charlotte - is 15 jaar ouer as ek. My ma het al haar kinders by een man gehad, en met die eerste 4 het sal al haar huiswerk self gedoen! Ons praat gereeld oor wie nou eintlik haar gunsteling onder die klomp kinders was, maar ek sê nou vir julle - dit was ek!

Ek dink soms daaraan dat dit dikwels 'n eensame reis moes gewees het vir my ma, want dink net hoe hulle vriende hulle al minder en minder genooi het vir kuiers (want - wat gaan ons met al hulle kinders maak!?). Maar daar was darem twee ander gesinne wat net so baie kinders gehad het as my ma-hulle. Dit was die Lessings, en die Koekemoers. Ek is seker dat dit lekker was om so 'n avontuur met hulle aan te pak. Nou kon hulle saam gesels oor die kassiere in Checkers wat hulle snaaks aankyk met die trollie vol gesnyde brode, grondboontjie botter en melk. Of die ontvangsdame in die dokters-spreekkamer wat verward raak as die Stapelbergs instap en ewe skielik is die ontvangs-area vol. Of dalk die dokter wat met 'n frons op sy gesig aangestap kom, want Mev. Stapelberg is ALWEER swanger!

Maar in die tyd wat ons boek begin, was dit glad nie snaaks om kamers vol kinders te hê nie. O nee, dit was andersom - as jy net 3 of 4 kindertjies gehad het, dan was daar seker maar iets fout gewees. Ons eerste karakter het self 12 kinders gehad, haar dogter het 10 kinders gehad. Hulle het op plase gebly en alles self gedoen. Daar was nie krag of loopwater of winkels waar jy gou "ready-made-woolworths-meals"  kon gaan kry as jy 'n besige dag gehad het nie. En toe met swaar tye - toe die mans op kommando was, moes die vrouens -  met hulle hordes kinders en al - die boerderye ook nog bestuur!

Nuwejaarsfees Desember 2010

My ma (Sophia Charlotte Stapelberg) se 60ste verjaardag in 2006
Vroue daai tyd was eggenoot, moeder, huishoudster, verpleegster, tuin-ingeneur, en boer. Dit is net ongelooflik wat hulle alles kon vermag!

Graaff Reinet - waar ons storie eintlik begin


Die Muller-gesin op Graaff-Reinet. C.T. Muller het in 1790 van Duitsland na die Kaap toe gekom. Hy het met R.C. Boshoff getrou en hulle het eers op Swellendam gewoon en toe in 1812 na Graaff-Reinet verhuis, waar hy ’n handelsaak opgerig het. Sy vrou en vier dogters is om hom besig met naaldwerk, lees, skryf en musiek maak. - http://nuwegeskiedenis.co.za/deel-1-hoofstuk-2-n-vestigingskolonie-die-plattelandse-lewe/
Regina Catharina Boshoff en Theodorus Carel Muller het in 1812 na Graaff Reinet getrek. Graaff Reinet was die derde distrik wat verklaar was in Suid Afrika. Die Kaap was eerste, toe was dit Swellendam, en daarna was dit Graaff-Reinet. Met al 8 die grensoorloë teen die Xhosa's, was Graaff Reinet redelik beskerm, en dit was 'n veilige dorp om in te woon. Gert Maritz, die trekleier het in Graaff Reinet gewoon, en Johannes Meintjies, die voorsaat van die bekende kunstenaar, was soos 'n eiendoms agent in daardie tyd wat onder andere die trekkers gehelp het om hulle eiendomme te verkoop voor hulle getrek het..

Dit was so lekker om die lyne so stukkie vir stukkie te ontrafel - ons het vreeslik gesukkel om die Papenfusse se name almal te kry, maar toe ons dit eers het, toe word dit lekker om hulle gedaante te begin gee in die storie. Ek kom ook uit 'n groot gesin, en natuurlik het my ma haar vreeslik ingeleef om die dinamiek in so groot gesin uit te beeld in die boek!

Daar is vreeslik baie geskiedenis nog oor in Graaff Reinet, wat eintlik ongelooflik is. Die ou kerk, byvoorbeeld, is al 220 jaar oud (website : http://www.graaffreinet.co.za). Hier is 'n foto wat op die website geplaas is:


Friday, November 30, 2012

Papen wat?

Ek vind toe uit dat die naam "Sophia Charlotte" teruggaan tot by die dogter van Heinrich Friederich Papenfus en Catharina Elizabeth Boshoff. Sy was gebore op die 12de Desember 1825 in Graaff-Reinet! Sy was die 9de kind van Heinrich en Catharina se 12 kinders, van wie 10 oorleef het. Haar sussie wat net 2 jaar jonger as sy was, se name was Charlotte Petronella. Dink net - twee dogters wat hulle altwee die naam "Charlotte" gegee het!. En niemand in Heinrich of in Catharina se familie het hierdie naam gehad nie.

Daar was wel 'n prinses uit die dorpie Mecklenburg-Strelitz, waar Heinrich gebore is in 1784, met die name Sophia Charlotte!
skildery op wikipedia gekry
So, ons boek verander sommer self in 'n effense fëe-verhaal met 'n regte egte prinses en alles! Daar is nie regtig baie Papenfusse in Suid-Afrika nie, en daar is ook nie verskriklik baie inligting oor hulle op die internet nie, maar hoe wonderlik dat ons Sophia Charlotte vernoem is na die prinses.

Wat ook wonderlik is (ek weet - ek word so vinnig opgewonde oor goed!) is dat sy toe met koning George getrou het - die een wat mal geword het - en dat sy so 'n goeie vrou vir hom was, dat dit opgeteken is in die geskiedenis-boeke.

Ons boek sal natuurlik nie net geskiedkundige vertellings wees nie - dit is fiktief, want ons weet natuurlik nie hoe die karakters gelyk het nie, en hoe hulle was nie. Maar ons baseer baie van die storie-detail op goed wat ons ontdek in ons navorsing.

Die boek sal nou oor 6 geslagte "Sophia Charlotte" 's gaan. En ons eerste karakter se naam is Sophia Charlotte Papenfus. Haar bynaam was Feitjie.

Thursday, November 29, 2012

Die begin van 'n avontuur

Vroeg in die jaar het ek 'n boek gelees - "Hanna's daughters" (http://www.amazon.com/Hannas-Daughters-Ballantine-Readers-Circle/dp/0345433491) wat vir dae lank my gedagte wêreld oorheers het. Dis die storie van 3 vroue - die ouma, die ma en die dogter en hoe hulle lewens oormekaar gevloei het. Iets het binne in my wakker geword vir die feit dat ons soveel dinge - wetend en onwetend by ons ma's leer, en dit weer op ons beurt aan ons dogters oordra. Sommige dinge is so diep in ons hart weggebêre dat ons nie eers altyd besef dat ons dit by ons ma's kry nie. Gedagte-patrone, maniere waarop ons besluite en keuses maak. Ons keuse van die man waarmee ons trou, die manier wat ons dinge in ons kinders inbou, en hoe ons oor onsself voel.

Soos ek in my eie gedagte wêreld oor en oor aan hierdie boek en die interessante implikasies wat dit kan hê, gedink het, het ek besef dat daar definitief 'n storie in ons geslag vrouens moet wees. My ma is onbetwyfeld 'n vrou vol stories. Dit bedoel ek nou nie soos dit klink as jy dit sê nie. Om dit beter te kan verduidelik, kan mens maar sê dat van al die kleinkinders se ouma's, staan sy bekend as die "storie-ouma". Jy kan maar weet as 'n kleinkind op haar skoot gaan klim, dan is daar een doel voor oë - en dit is vir 'n storie. In my ma se hart is daar kamers vol stories. Sy versamel hulle al van kleins af en wat 'n voorreg om te kon grootword en baie van die stories te kon hoor!

Nouja - dit is waar die idee toe gebore word. My ma se naam is Sophia Charlotte. Haar ma se naam is ook Sophia Charlotte. My oudste suster se naam is net Charlotte. Daar is toe nou sommer klaar ons weergawe van "Hanna's Daughters"! Hoe opwindend! Ek noem toe aan my ma in een van ons geselsies dat ek die gedagte het dat ons 'n storie het, maar dat sy definitief dit sal moet skryf, aangesien ek nie een is met stories in my hart nie. Sy is toe dadelik opgewonde, en ons begin toe met die navorsing.

Hierdie blog is ons reis saam met ons karakters en hopelik tot by die "geboorte" van ons boek. Ek sal probeer om boek te hou van alles wat ons bymekaar maak, en die proses om die boek bymekaar te sit. Dit is vir ons baie lekker om daaraan te werk en ons kan nie wag om die boek eendag te publiseer nie!