Ons was so rukkie Gouritz toe gewees, en die huis waarin ons gebly het het so paar baie kosbare boeke gehad. Ek kon regkry om EEN deur te lees (ek weet, alles raak bietjie stadiger as mens klein kindertjie het :-) !!) en dit was "Mag ons vergeet?" deur Mevrou E. Neethling.
Hierdie is 'n foto van Nonnie de la Rey (dankie erfenisstigting se facebook blad vir al die foto's op hierdie post!) |
Mev. E. Neethling het verskeie briewe ontvang van vroue wie die konsentrasie-kampe deurgemaak het, en hulle ervarings daarin vertel het. Dit is 'n verskriklike en eerlike blik op daardie deel van ons geskiedenis, en dit gee mens 'n goeie idee waarvandaan ons "Afrikaner-nasionalisme" gekom het. Die Afrikaners het baie seer gekry in die Anglo-boere oorlog, en veral die vroue en kinders in die konsentrasie-kampe het vreeslike goed beleef en ervaar. Wat vir my uitgestaan het terwyl ek al die briewe gelees het, was nie net die ongelooflike stories, en die vroue se vaste geloof in 'n goeie God nie, maar ook die taalgebruik van daardie tyd en die verfyndheid van die vroue!
Ek deel graag so paar uittreksels uit die boek:
Die huise is verbrand of opgeblaas - die "verskroeide aarde beleid" van Kitchener |
Martha Kriel, Conovium, Ladybrand. OVS –
Op ‘n Maandagoggend het die vyand ons weer so amper in die
hande gekry, maar binne weinige minute het ons ingespan en die bult oorgeja. ‘n
Paar families is die oggend daar met hulle waens gevang, onder ander ‘n vrou
wat die nag bevalle was. Wat moes ons Afrikaanse vroue tog nie alles deurmaak
nie!
Die tog was so swaer en koud dat ons huis-toe gegaan en
besluit het om nie weer te vlug nie. Dit het ‘n paar maande geduur voordat
kolonnes weer hier aangekom het. Dit was hard om hulle nader te sien kom. Die
soldate was so parmantig, veral die swartes. Hulle het die rytuie wat hulle in
die hande kon kry, verbrand en al ons vee doodgemaak. Van my is in Januarie
1902 tweehonderd bokke op ‘n krans vermoor. Die volgende more het ek na die
plek gegaan om die vreeslike skouspel te bekyk.
Ek het nog ‘n baie goeie melkkoei oorgehou en het die melk
gebruik vir my seun, wat siek was aan ‘n slangbyt. Maar so onbeskaamd was hulle
dat hulle my enigste koei ook doodgeskiet het. Daar sit Boer se vrou nou met
haar siek kind! Maar in al die gevare en in die verdrukkinge het ons nog altyd
die volle hoop gekoester om ons vryheid terug te kry.
By ons liewe Heer was dit anders besluit, daarom moet ons
tevrede wees.
Baie vrouens het probeer vlug van die plase af toe die Engelse die plase begin afbrand het en die vroue en kinders weggevoer het na die konsentrasie-kampe toe. Genl de la Rey se vrou - Nonnie de la Rey - het dit ook gedoen, en was een van die min vroue wie nooit gevang was nie.
I.v.m die swartmense - dit was alombekend dat die Engelse die swartmense gemanipuleer en gedreig het om deel te word van hulle weermag. In sommige gevalle was dit sekerlik vir die geld wat die mense dan begin saamveg het, maar in hierdie storie van Martha Kriel lyk dit amper asof hulle wraak geneem het en dit geniet het om die vrouens en kinders af te knou. Maar dan is daar ook baie gevalle waar die "joiners" net so wreed, of dalk erger was met die vrouens en kinders. Oorlog laat mense snaakse dinge doen - dis verseker.
Hier is nog een:
E.M van der Walt, Walfryt, Distr Bethlehem –
My swaer, F. Muller, was krygsgevangene op Kroonstad. Sy vrou
het ‘n goeie melkkoei gehad. Deur een generaal is sy toegelaat om die koei te
behou omdat sy ‘n tweeling gehad het wat bottelbabetjies was. Later word die
koei van haar afgeneem. Sy gaan na die generaal wat toe oor die soldate was,
wys hom die twee babetjies en smeek hom om haar tog haar koei terug te laat
kry. “Gee die kinders water om te drink”, was sy wrede antwoord:” daar is ‘n
oorvloed van water in die rivier.” Sy moes die kleintjies op pap en swart,
bitter koffie grootmaak. So het ons gesukkel; groot en klein was ons saam met
dertien in die huis, en die meeste van ons het so nou en dan aanvalle van die
koors gekry.
Op die land het ons die mieliepitte opgetel wat die duisende
perde en beeste nie opgevreet het nie. Ons het die mielies in ‘n koffiemeul
gemaal en pap daarvan gekook. Van ons vee – groot of klein – het ons nie een
oorgehou nie. Onder die 450 000 soldate wat daar verbygetrek het, het ek
net een ontmoet wat ‘n menslike gevoel getoon het. Sy maats het al ons kos uit
ons huis geneem: maar toe dit die nag sy beurt was om op wag te staan, het hy
vir ons ‘n bietjie koffie, suiker, sout en kerse gebring.
Na die vrede het ek “die ellende” ondervind om van die vyand
se kos te ontvang. Dit word toe bekend gemaak dat skadevergoeding uitbetaal sou
word; maar sover ek weet, was die driemiljoen net op papier. Ek het ook my lys
met ‘n eis vir skadevergoeding opgestuur; ek het niks gekry nie – nie eers die
papier waarop dit geskryf was nie!
En die laaste een vir die aand: (kyk net hoe verfynd was die boerevrou)
Mev. P Botha (Philippolis, Vrystaat)
Ons moes nou per trein verder. Drie treine het naas mekaar
gestaan, en ons moes deur twee stap om in die derde een ons plek te kry. Die
kinders het gou daarin gesit, maar ek bly by my goed staan.’n Engelsman vra my
waarom ek nie na die trein gaan nie. Ek antwoord: “Ek wag dat iemand my goed
moet oordra” (Sien ek was gewoond om soos ‘n dame behandel en bedien te word;
ek het nie kon droom van sulke behandeling as my nog te beurt sou val nie.)
Die Engelsman lag en sê “Dra dit maar self oor”. Gelukkig
sien iemand wat my vroëer ontmoet het, my in hierdie moeilikheid en kom my
help.
…Die volgende oggend kook ek ‘n bietjie pap van die
hawermeel wat ek saamgebring het, en sit daar plat op die grond rondom die pot
saam met my kinders en eet. So ‘n gevoel van skaamte het my oormeester; ek het
vir myself onder sulke omstandighede nie geken nie.Ek sê aan een van my
dogters:”Maak tog die tentdeur toe dat ander mense ons nie kan sien nie. Ek
skaam my vreeslik.”
No comments:
Post a Comment