Hier is die laaste uittreksels uit "Mag ons vergeet?" van mevrou E Neethling, voor ek sal aanskuif na ander boeke toe.
Pres. Steyn – De Vriend des Volks, 18 Des 1918 (In Afrikaans
oorgesit) By die onthulling van die Vrouemonument.
..Gelukkig is ‘n volk wat sulke vroue het; en ‘n volk wat
uit sulke moeders gespruit het, het vir sy toekoms niks te vrees nie.”
Mev Anna Sophia du Toit (geb Neethlings), Klipkopjes,
Pretoria
Nou die sieke in my tent beter was, het ons niks anders
gekry as blikkiesvlees (“corned beef), witbrood en swart koffie nie, en van
niks was daar genoeg om die honger te stil nie; ons het byna van honger
omgekom.
Toe kry die mense seer monde en seer kele en los tande. O,
dit was aaklig om dit te sien! Later het party verskriklik opgeswel. Die dokter
het gesê dat dit van die blikkiesvlees was, maar hulle het nie vir ons ander
vlees gegee nie. Die meel, die koffie, suiker en rys wat ons gekry het, het so
vreeslik na karbol geruik dat ons dit amper nie kon eet nie.
Ons moes eers sukkel totdat ons genoeg grysappelworteltjies
uitgegrawe het om die oond warem te maak; en as die brood amper gaar was, moes
ons die oonddeur oopmaak om die reuk ‘n bietjie te laat wegtrek. Ons het ook
blou vitrieol in die meel gekry en nog iets wat rooi vlekke in die brood gemaak
het. Vet het ons in die begin glad nie gekry nie, later twee onse in die week;
nooit het ons kerse gekry nie, en eenkeer in die week ‘n kwart steentjie
blouseep vir elke tent.
Susara Maria Magdalena Pienaar (geb Nel)
… In Augustus 1901 is ons verplaas na die kamp op Balmoral.
Ek het verwag dat dit daar beter sou gaan, maar het gevind dat dit net so
treurig gesteld was met kos en vuurmaakgoed. Die kampkommandant, Harvey, het
nie die minste belang gestel in die mense of in die behandeling van die siekes
nie.
Ek onthou nog so goed toe op ‘n stormagtige nag in November
1901 die hospitaaltent aan die brand geraak en vier kindertjies verbrand het en hoe rasend
van verdriet die vier arme moeders was, wat nie eers die lykies van hulle
kindertjies kon sien nie. Net die bene het oorgebly.
Nou moet ek nog van die treurige geberutenisse vertel. ‘n
Sekere mev. Van Niekerk het eendag dood neergeval. Die bure het die dokter laat
roep. Na ondersoek het hy verklaar dat sy van die honger dood is. Met mev.
Pieterse was die dieselfde geval, en dr. Lee het ook dieselfde verklaring
afgelê.
Maar die treurigste geval was die van mev. Liebenberg. Sy
het uit die kamp gegaan om in ‘n veekraal misbredie te pluk om dit te kook. Net
toe kom daar ‘n kaffermeid met aartappels verby. Sy vra die meid om haar tog ‘n
paar te gee om in die bredie te kook, en die ou kaffervrou gee haar toe twee
aartappels.
“Aia”, roep sy, “ek sterf van die honger”, en sy val dood
neer met haar voorkop op ‘n doringdraadheining.
Mev. J Kriegler, Heidelberg
Heidelberg was toe net ag dae in die hande van die Engelse,
en die Boere was nog orals in die distrik rond; maar hulle het streng waggehou,
en niemand mog die dorp inkom of uitgaan nie. Die kosvoorraad het ook al begin
skaars word, en dadelik het hulle ‘n aanvang gemaak met die soldatewinkels
(“dry canteens”) . Kaartjies is uitgereik aan diegene wat daar mag koop. Die
families wat nog mans of seuns in die veld had, kon daar niks koop nie, en die
ander net klein voorraad elke dag. Wat sou nou van die getroues word? En daar
was baie, want oor die algemeen het die Heidelbergers getrou buite gebly. Ons
besluit toe om ‘n kommissie te vorm wat dit op hulle sou neem om fondse en goed
te versamel vir die lewensonderhoud van die mense. Die kommissie het uit die
volgende lede bestaan: ds. en mev. Louw, menere Freislich, Alberts, Rosenbrock
en myself.
Spoedig het ons ‘n goeie voorraad mielies, mieliemeel,
koringmeel en ook geld gehad, en daagliks het ons hiervan aan die families
uitgedeel. Dit was moeilik om suiker en vlees te kry. Die militêre het die
slaghuise in beslag geneem en die vlees is amper uitsluitlik vir hulle gebruik.
Of die Engelse wat hier op die dorp gewoon het, vlees kon kry, dit weet ek nie,
maar ons Afrikaners het niks anders as die afval of die lewer gekry nie. Dit
kon die vroue wat nie kaartjies gehad het nie, nie eers kry nie. Ons wat dit
kon doen, het dan soveel moontlik gekoop, ook in die “dry canteens” en saam met
ander gedeel…
.. Hierna moes ons na die kamp op Merebank toe. Ons was
treurig, want so baie liewe vriende moes agterbly. En – Merebank was eintlik ‘n
strafkamp.
‘n Paar dae na ons aankoms daar, kom daar ‘n koelie in die
kamp met vrugte. Hy kon ons nie genoeg bejammer nie en sê:”All die here. Us no
live here in summer, Indians go to hills.”
Die koelie se woorde is ook spoedig bewaarheid, want die
kerkhof langs die onheilspellende swarte meer was elke dag getuie van baie
begrafnisse…
Op Merebank was die brood taamlik goed, maar verder amper
niks meer nie: die “ysvlees” was so onsmaaklik; en as die aartappels afgelaai
word, dan kon ‘n mens dit deur die hele kamp ruik.
Dit was ‘n aaklige aardigheid om die ry vroue en kinders,
elkeen met ‘n skotteltjie, te sien staan wag – partykeer urelank – vir hul
rantsoen. Wie nie lander kon wag nie, laat haar skottel op haar plek in die ry
staan om eers noodsaaklike werk in haar kamertjie te doen, of na ‘n sieke te
kyk, en daarna neem sy weer haar plek in die ry in by die skottel. Wanneer
meneer dit goed vind, begin hy die rantsoen uit te deel. Dit het op die ry
afgegaan en as my maat voor of agter my nog nie terug was nie, dan neem ek haar
skottel en “ticket” ook mee. Hierdie kaartjie was die bewys dat ek geregtig was
op ‘n sekere hoeveelheid kos, bereken na die grootte van my gesin, en die
ouderdom van my kinders. Kinders onder vyf jaar het vier blikkies melk per week
gekry en ‘n sekere hoeveelheid meel, maar g’n vlees of ander kos nie. Daarom
kry die vrou aan my regterhand amper niks as melk en meel, terwyl my
linkerbuurvrou weer soveel vlees en brood kry dat sy aan ander ook kan gee.
Maar almal was nie mededeelsaam nie, en derhalwe het die huisgesinne, waar daar
net klein kinders was, dan ook bepaald honger gely as hulle nie geld gehad het
nie..
Ons is met sulke minagting – lae minagting – behandel deur mense
wat tuis aan ons agterdeur sou moes geklop het; orals heen en vir alles moes
ons ‘n permit hê, en dit moes ons by die kommandant se kantoortjie kry. Meneer
sit binne en skryf, te lees of te rook, en ons moes maar buite wag totdat sy
hoogheid wou opkyk en vra:”What do you want?”
Mev. Barend Greyling, Rietfontein, Bethal
…Op ‘n Maandag het ons in die kamp gekom. Op Donderdag het
my oudste suster en ek na die kampkommandant gegaan om hom te smeek om tog ‘n
tent en ‘n katel vir ons te gee. In plaas dat hy ons help, het hy ons gevloek
en weggestuur.
Toe gaan ons na die hospitaalsuster, suster Barrett. Sy het
met ons saamgeloop; en toe sy ons hoekie sien, slaan sy haar hande saam in
verbasing. Sy het vir my gedoen wat sy kon, en het vir my ‘n kateltjie gegee.
Teen die aand het die Here vir my ‘n liewe dogtertjie gegee.
Toe het ek ondervind wat dit was om sonder die sorg van my liefhebbende
eggenoot te wees. Dog onder al die gewoel van die een-en-sestig siele, behalwe
vir die geraas daar buite, het dit baie beter gegaan as ek gevrees het, en
daarvoor kan ek die Here nooit genoeg dank nie.
Later is die kamp verplaas en opgeslaan op die wal van die
Vaalrivier; daar was elke huisgesin in ‘n ronde tent. Ons was nie lank daar nie
of ons kinders word almal siek aan die masels, skarlakenkoors, kinkhoes,
benoude bors of influenza. Al die siektes het tergelykertyd geheers….
Toe het die Liewe Heer my tent besoek. Op 24 Oktober 1901
het Hy my jongste dogtertjie van vier maande oud weggeneem na ‘n siekte van ses
dae.
My dogtertjie, Hendrina, wat nou my jongste was, was ook
siek. Op ‘n dag sê sy aan my: “Mammie sal sien dat die Heer my baie siek sal
maak en ek sal ook doodgaan.” Haar siekte het daagliks toegeneem. Net toe word
die kamp verplaas; en omdat daar g’n slote gegrawe was nie, was ons maar weer
so op die nat grond sonder katels. Daar het my kinders weer kou gevat, en dit
was baie nadelig vir hulle.
Omtrent drie dae voor die dood van my klein Hendrina sit my
seuntjie bitterlik en huil. Ek vra hom waarom hy dan so huil? Hy sê :”Ma, sien
Ma dan nie dat die kakies ons hier op ‘n hoop gery het, sodat ons almal moet
doodgaan nie? Klein Sussie is al dood, daar lê Drinatjie. Ma sal vir haar en my
ook moet afgee. Annie sal vir die laaste oorbly. En ek weet nie of my arme pa
nog leef nie.” O, dit was soos ‘n swaard deur my hart! Hoe ek ook probeer om
hom te troos en van hierdie gedagte aft e kry, hy bly maar daarby.
Op 19 November het my klein Hendrina gesterf; sy was drie en
‘n half jaar oud. Die ander twee kinders het gedurig gekla, en ek moes sien hoe
hulle dag na dag uitteer.
Op 4 Desember is my dierbare man gevange geneem op Oshoek
saam met ons ou vader, een broer, twee swaers en nog baie ander
familiebetrekkings en vriende, ook ons leraar. Op 7 Desember is hulle
Standerton ingebring, en met hulle ook baie vroue, wat die vyand gevange geneem
het. My broer Adrian was gewond, en nie lank daarna nie is hy weggestuur. Sy
vrou lê toe baie siek in die hospitaal, maar hulle wou hom haar nie eens laat
groet nie.
O, dit was bitter, bitter om te weet dat ons dierbaarstes so
naby ons was, en ons is nie toegelaat om hulle te sien voor hulle na Indië
vertrek het nie. Op die dorp het my man van die dood van ons twee kinders
gehoor.
Op 18 Desember is my liewe seuntjie, Abraham, oud vyf jaar en
vyf dae dood na ‘n uitterende siekte van ses weke.
En op die 24ste Januarie het die doodsengel nog eenmaal my
tent binnegetree en my enigste kind wat nog oorbgebly het weggeneem; my oudste
kind, Anna, in die ouderdom van sewe jaar en sestien dae. Dit was regtig net
soos haar broertjie gesê het: sy het vir die laaste oorgebly.
No comments:
Post a Comment