Net om julle bietjie in die "loop" te hou...
Ons het seker nog so 80 boeke oor van "Skrywertjie" die eerste boek in die reeks. Dit is mos nou Sophia Charlotte Papenfus se storie. So as julle nog 'n boek wil hê, laat my weet, of bestel een op ons boekwinkel, dan kan ek dit vir jou pos, of ek kan dit vir jou bring. 'n Boek kos maar R150.00. Klier hier om een te bestel.
Ons tweede boek se naam is "Moedertjie". Ons sal seker teen die einde van die jaar die boek in druk hê, en ook weer 'n boekbekendstelling of twee hou. Sy was Sophia Charlotte van der Merwe. Sy het mos met JJ Scheepers getrou en was Gideon Scheepers se ma. Dit is hoekom ek so aanhoudend oor die boere oorlog skryf, want dit is die tydperk waarin "Moedertjie" geleef het. Ons derde boek is Sophia Charlotte van der Merwe wie met Liebenberg getrou het, en sy het ook in daardie tyd gelewe. So, ek gaan nog vir 'n geruime tyd my blog-posts vul met interessanthede oor daardie tyd.
Maar hier gaan ons weer terug na uittreksels uit "Kwinkslag":
bl.42 In die stryd"
Nie ver anderkant die Vaalrivier nie, in die Heidelberg-distrik, kom ons by 'n plaashuis aan waar twee vosperde voor die huis in die tuin loop. Ek sê vir my maar: "Hier is ons man."
Ons klop aan die deur en die vrou van die huis maak die deur oop. Daar sit hy toe ook op 'n stoel net langs die deur. Sy geweer staan langs hom. Ek sê:"Haai, ou maat, ek is agter jou bloed!" Sy vrou is op daardie oomblik in die kombuis.
Ek vra aan hom:"Hoekom loop jy dan weg?"
"Ja-nee, daar is tog nie nou vegtery nie en ek het maar besluit om huistoe te kom."
Op daardie oomblik kom sy vrou uit die kombuis met die koffie wat sy pas gemaak het. Sy kyk haar man so aan en vra:"En het jy tog nie weggeloop nie?"
Ek antwoord:"Ja, Mevrou, hy't weggeloop en ons het hom kom vang!"
Sy kyk hom aan en sê dadelik, sonder om hom 'n kans te gee om iets te sê:"Kyk hierso, jy moet dadelik klaarmaak en teruggaan. 'n Man kan ek aldae weer kry, maar nie 'n land nie!"
Verwerk uit die oorlogsherinnering van kommandant Japie Neser OM 6060/1
bl. 51 "Agterryers"
Met die afsaal van Generaal de Wet se kommando was 'n kwartier skaars verby of die roep "Opsaal" het gekom. 'n Klompie van die skrikkerige burgers het geen tweede uitnodiging nodig gehad nie en hulle het dadelik die pad gevat. Dit het naderhand so erg geword dat ons nie meer rus gekry het nie, behalwe as die generaal self daar was. 'n Kêrel, wat maar stadig was, het egter 'n agterryer gehad met die naam Opsaal. Die stadige burger het gewoonlik opgedaag net nadat die eerste burgers al afgesaal het. Wanneer Opsaal se baas egter opgedaag het, gewoonlik sowat vyftien minute later as die ander, het hy na Opsaal begin roep sodat hy kon begin met die vuurmaak. Chaos het gevolg. Die burgers het nie geweet wat aangaan nie en het dadelik gereageer op die bevel, min wetende dat die stadige kêrel eintlik na sy agterryer opsoek was. Gou het die bevel die rondte gedoen en soos dit maar met sulke dinge gaan, het dit nie net by "Opsaal" gebly nie. Dit het gou verander in "Opsaal, kêrels! Kakie kom!" So het dit aangegaan. Die offisiere self was later self hopeloos in die war, want voordat hulle kon uitvind wie die bevel gegee het, was helfte van die burgers alweer op pad. Die kommando het later snuf in die neus gekry en nader ondersoek ingestel en tot hulle ontsteltenis uitgevind dat "Opsaal" eintlik 'n agterryer was. Opsaal is herdoop en die goeie orde van die kommando is herstel.
-Verwerk uit C.A Vieweg se Herinneringe uit die Anglo-Boereoorlog
bl. 72 "Strydosse"
Terwyl ons vir die vyand moes vlug, kon een van die burgers maar net nie wegkom nie. Die Engelse was al baie naby aan hom en die muil, waarop hy gery het, was ongelukkig baie steeks. Daar was gevaar dat hy met die muil en al in die hande van die Engelse kon beland. Toe ek by hom verbygaan, het ek verneem hoe dit met hom gaan.
"Dit gaan sleg, Meneer," was sy antwoord,"ek is die hel in."
"Foei tog," het ek gesê "daardie plek is al te warm. Hoe eerder jy daaruit kom, des te beter."
R.D Mcdonald, 'n Terugblik op my oorlogsjare.
bl. 85 "Reg en Geregtigheid"
Op Jagersfontein het Rooi Faan van der Merwe soos gewoonlik oponthoud veroorsaak. Sy vel was baie wit van kleur en dus rooi gebrand op kommando terwyl die yl baard op sy wange sulke wit krulle gevorm het sodat hy maar snaaks uitgesien het om die minste te sê.
Faan wou n ie daarvan hoor om van Jagersfontein af pad te gee voordat hy nie eers met 'n seker Engelse offisier afgereken het nie. Die betrokke offisier het baie huise in die distrik afgebrand en net soveel skade en ergenis aangerig as wat hy moontlik kon.
Iemand wys vir Faan die huis van die majoor en Faan is nie links nie en pyl reguit daarheen! Hy draai ook sommer die voordeur oop en stap in met 'n oorgehaalde geweer, reg om die Engelsman te skiet sodra hy sy verskyning maak. Hy stap die lang gang af en sien iemand met 'n geweer na hom toe aankom - so 'n lelike kêrel wat niemand anders as die Engelse majoor kan wees nie. Toe Faan sy geweer lig, tel die ander man syne ook op en Faan trek los om die eerste skoot in te kry. Die Engelsman tel sy geweer ook op en die volgende oomblik lê die spiëel aan die onderpunt van die gang aan flenters. Faan se voete gly onder hom uit - swaar gewond soos hy gemeen het. Stadigaan voel-voel hy so aan homself of daar nie bene stukkend is nie. Toe hy uitvind dat hy niks makeer nie, kom hy ewe sedig uit die huis gestap.
"Het jy hom gekry?" wil ons almal dadelik weet.
"Nee," antwoord hy kortaf.
"Maar ons het jou dan hoor skiet!"
"Ja, man, ek het selfmoord gepleeg. Daar was so 'n groot spiëel en daarin het ek die lelikste Engelsman wat ek nog ooit gesien het met so yl, wit baard..."
Maar toe bars ons almal uit van die lag... en Rooi Faan moes baie lank nog die gespot oor die lelikste Engelsman wat hy nog gesien het, aanhoor.
Hendrina Rabie-van der Merwe, Onthou! In die skaduwee van die galg, pp 121-122
No comments:
Post a Comment