Pages

Wednesday, July 24, 2013

'n Bietjie Humor

Soos ek genoem het in 'n vorige "post" is ek besig om Elria Wessels se boek "Kwinkslag - Humor in die Anglo-Boereoorlog te lees, en ek wil graag so bietjie daarvan deel met julle.

bl. 9 "In die Stryd":
Na die slag by Spioenkop gelewer is, kom 'n tommie by een van ons burgers en vra:"Hoe het julle die slag gewen?". In Engels antwoord die Boer: "The Lord was on our side." Die tommie bly 'n oomblik lank stil en antwoord toe ewe droogweg:"He must be a good one; we have six in the regiment and they are not worth a damn!" - Herinnering van J.B Wessels 5000/149

bl. 17 "In die stryd":
Na die insident op Klipkraal tussen Richmond en Victoria-Wes was ons buit groot. Ek het tussen die gevangenis rondgestap en orals gehoor hoe teleurgesteld hulle was oor die lokval. Aan allerlei beskuldigings en verskonings het ook nie ontbreek nie.
Een van die burgers het aan 'n soldaat gevra:"Wat beteken die letters K.F.S op julle skouers?" Hy het geantwoord: "Kitchener's Scouts."
"Maar waarvoor staan die F?"
Bedeesd het die Engelsman geantwoord:"Fighting."
Verontwaardig het die burger uitgeroep:Maar waarom veg julle dan nie?" - Robert de Kersauson de Pennendrif, Ek en die Vierkleur, p.30

bl. 23 "In die stryd":
'n Jong kêrel wat aan sy eerste geveg deelgeneem het, het hoogs paniekerig by die veldkornet aangehardloop gekom nadat die geveg verby is en benoud geskree:"Veldkornet, hoe ruik bloed?"
Die veldkornet wat alreeds hoogs geirriteerd was omdat hy gesukkel het om die burgers tydens die geveg byeen te hou, het kortaf geantwoord:"Dit ruik soos k-k."
"Dan, Veldkornet, is ek dodelik gewond!"
-Aangepas uit R.W Schikkerling, Hoe ry die Boere

bl.24 "In die Stryd"
Een van die Hottentotspioene wat ons gevang het se naam was Ou Jan. Ou Jan was goed bekend aan die burgers. Die kommandant het hom eers 'n goeie preek afgesteek en die ou het aandagtig geluister. Daarna is twee burgers beveel om hom agter 'n sekere damwal te gaan doodskiet. Die burgers het hom egter goed geken en dit was vir hulle 'n baie onaangename taak. Hulle het gehoop hy sou weghardloop, want dan sou die skietery soveel makliker wees. Hy het dit egter nie eens gewaag nie.
Toe hulle met hom agter die damwal kom, het hulle hom beveel om maar aan te loop sodat hulle hom van agter kon skiet. Ou Jan het gehoorsaam en aangestap. Toe hy so paar tree weg was, het die twee burgers hulle gewere so saggies moontlik oorgehaal.
Ou Jan het dit egter gehoor en terwyl hy sy kop so skuins na agter gedraai het en met sy regterduim oor sy skouer gewys het, het hy gesê:"Here, kyk die verneukery hier agter my!"
Die twee burgers het die ou teruggeroep en aan hom gesê,"Kyk, Ou Jan, ons sal jou nuttelose lewe hierdie keer spaar, maar as jy weer gevang word, sal daar geen genade vir jou wees nie. Gaan huis toe en pas op dat jy nie weer in ons hande val nie!"
Ou Jan het hom nie twee keer laat nooi nie en het so vinnig moontlik die pad gevat.
Al die burgers het nou onder die indruk verkeer dat Ou Jan dood is, maar na die oorlog het een van die burgers die ou iewers in die Vrystaat ontmoet. "My wêreld, Ou Jan, jy is mos doodgeskiet in die oorlog! Wat soek jy dan hier? Of is dit dalk jou gees?"
"A nee a, Basie!" sê ou Jan. "Weet Basie dan nie die gebed van 'n regverdige vermag veel?"
-Aangepas uit Avonture uit die Tweede Vryheidsoorlog uit die dagboek van C.C. Snyman, p.27

bl. 31 "In die Stryd:
Waar hulle kon, het die kommando's ons op die plaas gehelp. Dit was al so te sê pikdonker toe 'n kommando een aand papnat gerëen daar aangekom het. Vanwëe die geweldige storm wat die middag losgebars het, kon ons nie melk nie. 'n Paar van die burgers het dadelik aangebied om te gaan melk. Nie een van hulle het enige besware gemaak nie, al was almal doodmoeg. Ongeveer 'n halfuur later het hulle teruggekom met die melk. Almal het egter geskater van die lag.
"Wat was die grap?" wou een van die mans weet wat intussen by die huis gebly het en hout gekap het.
"Oom," het een van die melkers begin vertel, maar hy het so begin lag dat dit moeilik gegaan het om te praat, "ons het ons boeglam gesukkel om een van die koeie gemelk te kry. Ons het naderhand die hele kraal op horings gehad met die vervlakste koei." Toe het die lagbuie hom so oorval dat hy nie verder kon praat nie.
"Nou toe nou," het die oom tussenbeide gekom, "is dit nou iets om jou 'n boggeltjie oor te lag? Ek het in my lewe al baie gesukkel om 'n koei gespan en gemelk te kry - en ek kan jou die versekering gee dat ek nie juis daaroor gelag het nie. Vra maar die koei wat gebeur het as jy haar ooit eendag sien."
"Ja, oom," het die verteller 'n verdere poging aangewend om te praat, "ek het ook al vantevore gesukkel...maar vanaand se koei was heeltemal anders..."
"Jy bedoel natuurlik dat die koei nie meer sulke onhandige mans gewoond is nie," het die oom gespot.
"Wie weet, oom. In elk geval, ons was naderhand verplig om almal hand by te sit. Ons was almal wel nat van die rëen, maar ons was ook papnat van die sweet toe ons die onskuldige bees op langelaas met geweld aan 'n paal vasgemaak, teen die muur vasgedruk en gespan het. Ek het die emmer gevat, maar toe ek naby kom, het daar 'n verdere gespook gevolg. Mens sou waarlik sê dat dit winter is, so het die dier gebewe van die vrees. Eindelik het ek reg gesit, met die dopemmer styf tussen my bene vasgeklem, want ek het 'n skop verwag. Helaas, eers toe ek na die spene voel, het ek tot die ontnugtering gekom dat ons al die tyd met 'n os te doen het!"

No comments:

Post a Comment