Fourie Ackerman se werk is pragtig! Hierdie is oom Joel Berman in sy winkel in Graaff Reinet |
Wanneer hulle oor die skemer drumpel tree van oom Joel
Berman se Algemene Handelaar voel sy
sommer stukke beter. Binne is al die bekende geure.
“Herzliche goeie mittag Frau Papenfus en die kleine
Mädchen,” groet oom Joel vriendelik.
“Goeiemiddag, Joel,” groet Moeder.
“En wat doen ik vandag voor u?” vra oom Joel sy gewone vraag.
“Mischien een saal voor miester Papenfus se paard? Ik heb vandaag nieuwe gekryg
von miester Bain. Of mischien nieuwe scherpe naalden voor die naaldewerk?”
“Nee, Joel, net die gewone kruideniersgoed. Meel, suiker,
sout, boerseep as jy het, en kerse en lampolie, asseblief. Hier is my houers.”
Catharina haal glas- en blikhouers uit haar groot mandjie en oorhandig dit aan
die kort mannetjie.
“Sekerlik, sekerlik, miesies Papenfus.” Oom Joel begin
werskaf met die skepbak in die sakke agter in die hoek van die winkel. “Miester
Papenfus het al gehoor van die ammunisieverbod?”
“Watter ammunisieverbod, Joel?”
“Governor D’Urban wat geproklameer het ons mag geen lood
of kruit meer aan trekboere verkoop nie.”
“Waarom sou hy so ‘n nare ding doen, Joel?”
“Om die trek na die bieneland te stop. Die beste boere
trek, ook geleerde manne en vakmanne. Die regering wil diet stop. Wat sal nog
verder gebeur, wie weet?”
Oom Joel weeg sorvuldig elke ding terwyl hy gesels. Hy dra
die gevulde houers aan na die toonbank toe.
“Soja, hier is die meel, die sout, die suiker. Net ein
oomblik, dan haalde ik die boerseep en lampolie en kerse.”
Feitjie kyk die kort mannetjie agterna terwyl hy haastig
met sy krom beentjies en die lampolieblik in sy hand na die donkerte van die
agterste rakke verdwyn. Sy wonder oor die koddige ronde dotjie wat hy agterop
sy kop dra en die wit fraaiings wat onder sy baadjie uithang. Sy besluit om
later vir Vader daaroor uit te vra.
Moeder laat oom Joel alles opskryf in sy boek, want Vader
kom hom betaal aan die einde van die maand. Oom Joel kwetter nog aan oor die
nuwe wette, dan groet Moeder al en hulle stap terug in die koel agtermiddag met
hul mandjies propvol.
Baie goed geskryf! Ek sien uit om die boek(e) te lees :-)
ReplyDelete