Ons laaste stop op ons avontuur (sien die post "twee dae se pret") was by die sendingdorpie - Botshabelo. Die Sendingstasie is gestig deur twee Duitse sendelinge - Alexander Merensky en Heinrich Grutzner in 1865. Merensky het die plaas Boschhoek van Jan Abraham Joubert gekoop, en dit is waar hy die Sendingstasie ontwikkel het. Daar was 'n Fort gebou om hulle mense te beskerm nadat hulle vorige sendingstasie aangeval was deur die Pedi's onder leiding van Sekhukhune.
Die "dorpie" het vinnig ontwikkel en het landerye, tuine, winkels, huisies en selfs 'n skool gehad. Daar was 'n steenmakery, 'n bakkery en wit en swartmense het saamgeleef soos die post-apartheid Suid Afrika seker maar net van kon droom.
In 1873 is die groot kerk gebou (op die foto) - die eerste en vir baie lank die grootste kerkgebou in Transvaal. In dieselfde jaar was daar ook 'n skool vir die kinders gestig en in 1878, 'n skool vir evangeliste. Teen hierdie tyd was Botshabelo se bevolking groter as Middelburg s'n! In 1906 was daar 'n opleidingskool vir onderwysers gestig. In die 1930's was daar 'n verdere lareskool gebou en in 1940 'n hoërskool met 'n koshuis.
Teen 1873 was daar reeds 1360 mense wat op Botshabelo gebly het.
In 1962 het die Berlynse Sending Organisasie (wie vir Merensky en Grutzner gestuur het) begin ontrek uit Suid Afrika weens finansiele druk, en in April 1971 het die ou kerkklok gekraak gedurende 'n kerkdiens. Die mense het dit gesien as 'n slegte teken en het binne 'n jaar begin wegtrek.
Volgens 'n verslag wat die Kommisaris van die "land-claims" vir die minister van "agriculture and land affairs" geskryf het in 2003 is Botshabelo en 8 plase rondom se mense in 1938 verklaar as "squatters". In 1960 was daar toe besluit dat hierdie "squatters" moes hervestig word in die afgebakende dele waar swartmense mag gewoon het. In Augustus 1970 het die Berlynse Sending organisasie Botshabelo verkoop aan die Middelburgse Munisipaliteit en in daardie selfde jaar is 160 famlies geskuif na Motetema.
Na 'n suksesvolle "land-claim" in 2002 is daar nou vir 700 huishoudings grond teruggegee wat Botshabelo en die 8 plase rondom insluit.
Ons besoek was egter ontsaglik hartseer. Daar gaan duidelik niks aan nie. Die mense wie nou op die grond woon sien nie na die omgewing om nie, en dit is basies nou 'n spook-dorpie.
Die ou huis waar Merensky en sy gesin gewoon het, staan oop, en oudhede lê elke vetrek se vloer vol gestrooi. Foto-albums, klere, en huis gereedskap. Maar ons moes toegangsfooie betaal om in te gaan!
Die ou winkelstjies staan almal toe, die perde by die perdry-ritte is weg, die gras groei oral deur en die mense waarsku ons om nie by al die plekke rond te loop nie, want daar is slange en perdebye!
Ag, so wat sal mense daarvan sê?
Die konsep daarvan om land terug te gee vir mense wie onder die apartheids-wette geforseer is om iewers anders te gaan bly, is goed en reg. Die hartseer lê seker maar net daarin dat die plekke dan gewoonlik afgeskeep en tot niet gaan. Ons kan nie toelaat dat ons emosioneel raak daaroor nie, want dit is die verloop van die lewe. In elke land, en in elke volk se geskiedenis het daar uiteindelik 'n tyd gekom waar die wie onderdruk was hulle kans waarneem en enige herinnering wil uitroei van die wie hulle onderduk het (nie dat almal nou so voel noodwendig nie, maar dit lyk tog of dit so gebeur).
Die goeie ding is dat ons darem nog 'n beurt gehad het om dit te kon sien. Ons het foto's geneem, en dit sal ook in ons boek "feature" en so bewaar ons darem so 'n stukkie van wat nou verlore is.
Die werk wat die sendelinge daar gedoen het is ewig, en dit wat ons op aarde het is tydelik. Daarom hoef ons nie hartseer te wees oor die verwoesting wat nou plaasvind nie - ons het nogsteeds stories om te vertel om te kan onthou.
Kyk gerus al die foto's op my facebook profile -
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151204901088981.467235.715933980&type=3
No comments:
Post a Comment