Dit was my ouma s'n wat sy oorgemaak het aan my boetie, Hein. Hier onder lyk dit asof dit oorspronklik my oupa s'n was (kyk hoe is die letters gemerk om aan te dui dat dit S.P Botha se boek is).
Dit is nou al deel van ons afrikaner geskiedenis, of 'Africana', en so boek kos al oor die R700!! Maar ek kan onthou dat my ouma die boek gehad het in haar boekrak toe sy by ons kom bly het, en ek was so bly toe ek die boek in my boetie se boekrak ontdek het! My ouma het vreeslik koerant uitknipsels en briewe gehou, en sy het self ook boeke soos die gelees en ge'edit', so sy het tipies van die name wat Gustav Preller in sy boek gesit het, doodgetrek en die regte name ingeskryf (soos die scan hieronder wys).
Nouja, ek was al baie keer spyt dat die dinge my nie geinteresseer het toe my ouma nog gelewe het nie, want dan sou sy baie "grys areas" bietjie verlig het, (en sy sou waarskynlik die dagboek vir MY gegee het en nie vir my boetie nie...haha).
Blykbaar was my oumagrootjie, Catharina Elizabeth Scheepers, haar boetie Gideon se biograaf vir alle praktiese doeleindes, en daar moes baie erfstukke gewees het wat sy bewaar gehou het. Dit is net nogal interessant dat haar ma toe by Ant Lettie, wie die jonger sussie was, gaan bly het. Ek dink dit moet wees omdat sy graag op haar oorlede ouers se plaas wou wees.
In elk geval, so tussen deur die opwinding van ons volgende boek, "Moedertjie" (wat Vrydag bekengestel sal word by die Alkantrant Biblioteek hier in Pretoria), het ek die boek gelees, en ek bly verstom staan oor hoe besonder lief Gideon was vir sy ma. Hy het vir haar sulke mooi briewe geskryf (daar is so paar ook in "moedertjie" gesit.) daar was 'n spesiale band tussen hulle en dit moes vir haar vreeslik swaar gewees het om hom te laat gaan op so jong ouderdom (hy was maar sestien) om opleiding te kry.
My seuntjie is nou in Graad R en hy het ook nou begin om vir my briefies te skryf, hier onder is so een van sy briewe. Dink net hoe trots moes sy ma gevoel het, ek dink sy moes elke briefie so bewaar het van kleintyd af al.
Hier onder is een van my seun se briefies, ek dink ek staan 'n kans om briewe soos die van Gideon te kry as hy groot is..
Al wat behoue gebly het van sy dagboek is die laaste paar dae voor sy teregstelling. Iewers was daar definitef vuilspel betrokke van die Engelse se kant af ten opsigte van sy persoonlike goed, die res van sy dagboek, die briewe wat hy geskryf het vir sy ma, sy verloofde en ook sy sussies. Hy noem dit in sy dagboek (die deel wat behoue gebly het) - elkeen van die goed wat hy agterlaat (geld ook, om hom te herbegrawe op die familieplaas onder andere), maar niks was terug besorg aan sy ma nie. Op een of ander manier het die koerante sy dagboek voor sy familie in die hande gekry, en dit begin publiseer nog voor dit terugbesoeg is aan sy ma.
Ons verbeeldings kan ook natuurlik ver draaie met ons loop met sulke fondasies vir 'n storie, maar ons het reggekry om onsself redelik in toom te hou, en ons het nie sy storie en die baie verdraaiings daarvan soveel in ons boek genoem nie.
Ek self hou ook dagboek hou, ek dink die moderne weergawe van 'n dagboek is seker maar 'n blog, en dit is fantasties vir ons navorsing om so 'n stukkie goud te ontdek!
Ek wonder soms daaroor dat as my agter-agter-kleinkinders eendag wil uitwerk wie ek was en wie my ma hulle en kinders ens was, dan gaan dit eintlik vir hulle baie maklik wees, want ek het hierdie blog, ek is op facebook, ek het ons familieboom op wikitree gesit!