Pages

Sunday, February 16, 2014

'n Lewe vol avontuur

Ons het een Saterdag einde laasjaar weer gaan rondry op die plase, en net die laaste paar vrae beantwoord. Dit was betowerend - om die minste te sĂȘ. Die keer het ons ook op Grootlaagte gaan draai maak ook. Dit was 'n Botha-plaas, en behoort nou ('n gedeelte daarvan) aan Gawie van Rensburg.

Oom Kobie verduidelik vir ons waar die lanings bloekombome was wat Emily Hobhouse aangeplant het om te help met die opbouing van die Boere republieke na die oorlog
Gawie en oom Kobie het ons rondgewys op Wonderfontein - waar die plaas-skooltjie was en waar my ouma ook 'n ruk lank skool gegaan het. Ons het die Visser, Marx'e en 'n ongemerkte Engelsman se graf daar gaan kyk, en heerlik gedroom oor wat was.
In hierdie gang is die Engelsman doodgeskiet

Hierdie was die Engelsman se graf wat my oupagrootjie Botha (of een van sy broers) doodgeskiet het in hulle huis.


Wintershoek was ook lekker om te besoek, want Almarie was saam met ons gewees.

Almarie staan by haar ouma Lettie se graf op Wintershoek


Almarie is die dogter van ons "Moedertjie" - Sophia Charlotte Scheepers, se dogter Aletta Maria Beukes, se dogter Sophia Charlotte Schoeman (Charl). Vir alle praktiese doeleindes was dit vir haar soos om terug te gaan huistoe, want sy was so lief vir hulle plaas. Dit was heerlik. Charl en Pieter (Almarie se ouers) het vir ons kaarte geteken van waar alles was toe Ant Lettie-hulle nog op die plaas gebly het. Dit is darem maar regtig mooi wereld daar, en mens kan verstaan hoekom ons voorgeslagte daar sou wou woon.

'n stukkie wat oor is van Ant Lettie se huis

Die hoogtepunt van die dag was egter toe ons weer terug gegaan het Roodepoort toe, en die huis gaan soek het waar oumagrootjie Scheepers gewoon het ("Moedertjie"). En danksy oom Pieter se kaart en Almarie se neus :-) het ons die huisie gekry! Dit was te wonderlik!

Oumagrootjie Scheepers se huis - hier is baie familiefoto's geneem
Nouja, dit was ook nie die einde nie, want met die bakens op oom Pieter se kaart wat so bymekaar gekom het, weet ons toe ook presies waar my oupagrootjie Botha se huis moes gewes het, en hy staan nog daar in sy volle glorie:

My oupagrootjie Botha se huis op Roodepoort

Die een-dag trippie was genoeg om my en my ma weer vuur en vlam te maak vir die boek. Dit maak so 'n verskil as jy 'n idee het van die omgewing en hoe die huisies gelyk het, om jou beter te kan inleef in die boek in.

Die eerste twee boeke is nou beskikbaar om te koop, en die derde boek is sterk oppad!

Kontak gerus vir my of my ma indien jy die boeke wil koop.

No comments:

Post a Comment