Pages

Saturday, May 11, 2013

Graaff-Reinet

Ons roete van Bloemfontein na Graaff Reinet was regtig pragtig. Ek was verbaas oor die mooi pad! Ons heel eerste missie in Graaff Reinet was om Feitjie se ma en pa se grafte te probeer kry. Heinrich Frederich Papenfus en Catharina Boshof (haar moeder was eers met 'n Boshof getroud, en toe met 'n Muller - haar nooiensvan was Rogge) was die twee wie ons na gesoek het.

My GPS het net een begraafplaas gekry, en ons kon dadelik sien dat daar nie ou grafte daar was nie. Ons het op en af gestap in elke ry grafte, maar die oudste grafte was klaar in die vroëe 1900's en dit is te "onlangs" vir ons soektog. Dit was erg - om so ver te ry en so teleurgesteld te voel. Ons gaan boek toe maar in by ons gastehuisie, "The Red Geranium", drink 'n ou teetjie, en praat mekaar moed in.



Graaff Reinet is 'n pragtige dorpie. Daar is heelwat erfenis-terreine wat alles baie goed opgepas word. Ons begin toe by die ou kerkie, en vra toe sommer daar of daar nie 'n ouer begraafplaas is nie. Die antwoord was toe ook redelik mismoedig. Elke kerk het blykbaar sy eie begraafplaas, en die een waar ons reeds was is die enigste een van die NG Kerk in Graaff Reinet.

Nouja - toe is ons erg teleurgesteld..

Net voor ons vertrek uit Daleside, het my skoonsus, Yolanda my gebel en gesê hoe baie sy ons eerste boek geniet het, en my bemoedig om in Graaff Reinet 'n boekwinkel te soek en die boek daar te probeer bemark, juis omdat as mense van die eerste boek hou - sal hulle waarskynlik die opvolgende boeke ook koop.

Ons parkeer toe in kerk straat, en daar is toe 'n boekwinkeltjie. In ons mismoedige toestand, spoor ons mekaar toe aan om daar in te stap en uit te vind of hulle sou belangstel in ons boek. Ons is toe nie een baie dapper na ons teleurstelling nie, maar ons stap toe in en vind toe dat 'n juweel van 'n winkeltjie is.

My ma skep toe genoeg moed - net toe ek buitentoe vlug met my woelwater-kleuter om spasie te probeer kry, en sy knoop toe 'n gesprek aan oor die boek. Nouja - blykbaar leef Gideon Scheepers se storie voort in Graaff Reinet, en toe daar besef word dat ons afstammelinge is van die Scheeperse, toe is hulle baie opgewonde! Hulle het toe 10 van ons boeke vir die boekwinkel geneem EN hulle vertel toe vir ons waar die oudste begraafplaas in Graaff Reinet is!

Tussen Craddock straat en Stockenstroom straat lê die begraafplaas!





Ons was BAIE opgewonde! En die begraafplaas was alles wat so ou juweel in jou verbeelding moet wees - oorgroei, grafstene wat al omgeval het, agter slot en grendel en amper vergete agter hoë mure.



Ons kry toe Regina se graf - sy was Feitjie se oudste suster - wie met 'n Bedford getrou het.


Ons kry toe ook iemand wie lyk soos Regina se dogter, wie miskien met haar nefie getrou het?


Maar daar was geen teken van Heinrich en Catharina nie. Daar was groot oop stukke waar grafte weggesak het, en BAIE grafstene wat onleesbaar geraak het na al die jare. Hulle is definitief daar begrawe - ons kan net nie meer hulle "labels" lees nie!

Die ongelooflike ding is dat Ouma Rogge - Catharina se ma (Feitjie se ouma) se graf nog daar is:




Nouja - toe voel ons sommer weer vrolik en ons gaan sien toe die volgende op die lysie - Gideon se gedenksteen. Sommer so langs die pad, en blykbaar die plek van 'n jaarlikse samekoms.



Ons is toe reg om sommer die dag te vier met lekker karoo-lam, en die Pioneer restaurant was net die regte plek om dit te doen.

Die volgende oggend het ons gebruik om die Ou residensie, die ou sending- of oefeninghuis en die Reinet-huis te gaan sien. Dit alles "feature" in ons eerste boek "Skrywertjie", hoewel ons nou met soveel meer insig na seker dinge kon kyk. Ons sal so paar geringe veranderinge maak met die volgende druk!







Dit was 'n heerlike avontuur saam met my ma, en oppad George toe het sy sommer weer groot dele uit "Skrywertjie" vir my voorgelees. Ek het net weer besef hoe lekker die hele proses is, en hoe mooi die storie regtig is vir my! Ek kan nie meer WAG vir ons volgende boek se druk en uitgee nie. Sy naam is "Moedertjie", en dit sal gaan oor Sophia Charlotte Scheepers (nee van der Merwe). Sy was Gideon Scheepers se ma.

Die res van my foto's is op faceobook - gaan kyk gerus!
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151445261248981.1073741831.715933980&type=1&l=cad0f9c599

Wednesday, May 8, 2013

Dag een - Winburg en Bloemfontein (updated)

Ons sit nou in ons kamer by die "Angel's Haven" gastehuis in Bloemfontein na 'n lekker vol dag van geskiedenis. Ek dink nie ek het ooit geweet dit sal SO lekker wees om so rond te ry en "ou" goed te bekyk nie!

Ons het 6h00 vetrek vanuit Daleside, by my ma-hulle se huis, en dit was pragtig mistig tot anderkant Sasolburg.



Die kaal velde van die Vrystaat het vinnig begin verby ons vlieg en voor ons mooi agterkom dat ons al so ver ry, is ons toe in Winburg. 

Dit lyk asof dit 'n pragtige dorpie was. Mooi, ou huise en geboue is oral te siene. 




Ons het eerste die Voortrekkermonument gesoek en hom ook gekry, maar alles was toe agter slot en grendel. Ek dink Estelle het gesê dat die Erfenisstigting die plek nou sal oorneem, mens kan sien dat daar iets in die ou museum met "bubble-wrap" gedoen word, maar verder is die grasse lank, enige iets wat tekens van koper gehad het is afgebreek, uitgehaal en weggevat. 

Hier was 'n koper-plaat op, wat uitgekap is

al die beligting en kabels is uitgeruk


Dit is regtig 'n indrukwekkende plek, wat definitief pragtig moes wees.







President Steyn se geboorteplek was destds 'n museum. Die bord is nog daar,en die ou kliphuisie, maar die deur is oopgebreek en die huisie is leeg.



Net buitekant die monument-gronde is die Wessels-familiekerkhof met pragtige ou grafte van die Voortrekker tyd.



Ons het toe ook natuurlik die konsentrasie-kamp grafte gaan soek, en dit is toe mooi op die vullis-gronde! Hoe verskriklik! Mens kan darem ook sien dat daar onlangs skoongemaak is - seker ook die erfenisstigting se harde werk gewees?




Laastens het ons gou na die Winburg-kerkie gaan kyk. Hier het Feitjie en Schalk (in "Skrywertjie") gewoon en  Gideon Scheepers se ma is gebore, voordat hulle op die plaas Wonderfontein gaan bly het naderkant Middelburg.






Hierdie was moontlik die Dominee wie by die kerk geleer het toe Feitjie en Schalk daar gewoon het


Dit is hoe die kerkie gelyk het toe Schalk en Feitjie in Winburg gewoon het




Charmatjie het haar baie mooi gedra en was die hele pad baie soet en oulik!

Van Winburg af het ons Bloemfontein toe gery, en natuurlik was die groot doel om die Vrouemonument te gaan sien met die mooi standbeelde! En dit is regtig asemrowend mooi! 




Ongelukkig was die museums, die restaurant en basies alles on renovasies, wat 'n bietjie van 'n teleurstelling was. Johan van Zyl was darem so gaaf om ons die nuwe kinder-museum te wys. Blykbaar gaan hulle 'n groot seremonie hou op die 9de Augustus en alles weer oopmaak. Op vrouedag en die dag sal handel oor die lyding van vroue en kinders. Klink heerlik! Hier is gedenkstene van sommige van die konsentrasie-kampe waar ons Sophia Charlotte's in was.





Die Banneling:
 Die bitter-einder



Toe raak die dag bietjie lank vir my klein Charma-kind, en sy is toe nie lus om na die Bram Fischer-huis, of die ou presidensie of enige van die ander mooi ou geboue te gaan kyk nie. Ons het darem Hendrik Frederik Dietlof Papenfus se graf gekry in die "Brand-kerkhof". President Brand se dogter het met hom getrou.



Laastens het ons toe na die gebou by die stasie gaan kyk waar Milner en Kruger die besprekings gehou het voor die Anglo-boereoorlog toe hulle wou kyk of hulle nog die oorlog kon vermy. Dit was die enigste gebou in Bloemfontein wat 'n groot genoeg ronde tafel en saal gehad het vir al die afgevaardigdes om te ontmoet.

Nouja - nou is my popsie honger en dors en sy moet gebad en in die bed gesit word. More is dit Graaff Reinet!

Thursday, May 2, 2013

'n Road Trip saam met 'n Sophia Charlotte!

Ons gaan op 'n road-trip! Ek en my ma en my dogtertjie Charma (wie Sophia Charlotte sou wees as ons nog baie op tradisie gefokus was). 'n Egte Sophia Charlotte road-trip waar ons gaan ry en stop en skryf en praat en musiek luister en oorslaap en eet en alles!

Ons ry volgende week Woensdag uit Meyerton, Winburg toe. Daar sal ons gaan kyk na die Winburg se Voortrekker museum. Ons eerste karakter - Sophia Charlotte Papenfus (wie met Schalk van der Merwe getrou het) - of "Skrywertjie", het haarself daar bevind in 1856, toe haar dogter - Sophia Charlotte - gebore is.

In Winburg is daar ook 'n konsentrasie kamp gewees, waar ons sal rondloop.

Van daar af sal ons Bloemfontein toe ry - net so 120km verder, waar ons sal oorslaap.

In Bloemfontein is daar natuurlik nogal BAIE geskiedenis. Maar ons is op soek hoofsaaklik na 'n mooi foto van die Anton van Wouw standbeeld van die uitgeteerde kind, wat die ongev. 27 000 vroue en kinders gedenk wie gesterf het in die konsentrasiekampe.

So het Bloemfontein gelyk in omtrent 1900 (dankie aan Wikipedia!)

Ons sal definitief na die Oorlogsmuseum toe gaan en die Vrouemonument.

EN DAN... die grooooot "event", sal natuurlik wees Graaf Reinet.

Eerstens natuurlik om Skrywertjie se ma en pa te gaan soek in die begraafplaas, en ook natuurlik om ons "Scheepers-trots" - Gideon Scheepers se gedenksteen te gaan soek. Dit gaan baie interessant wees, en ons sal baie foto's neem en hopelik baie stories veramel op pad.

Wednesday, May 1, 2013

Boekbekendstelling foto's - Erfenisstigting

Ag wat 'n heerlike reis is dit nie sover nie!

Ek het gou vanaand die foto's gaan haal by my boetie en my niggie van die foto's en video's wat geneem is van ons bekendstelling wat by die Voortrekker monument, by die erfenisstigting gehou is op die 20ste April.

Hier is 'n oulike artikel wat op LitNet gesit is deur my boetie - Hein:
http://www.litnet.co.za/Article/boekbekendstelling-skrywertjie


Kyk net die mooi sentrum wat by die Voortrekkermonument is!

Dit was 'n heerlike aand, met nog 'n paar interessante fondse deur 'n ander Sophia Charlotte se dogter - Almarie. Kyk net hierdie mooi foto's van oumagrootjie Scheepers (die volgende boek se hoofkarakter):


 Kyk net hierdie kosbare briefie wat Almarie gebring het om te wys - oumagrootjie Scheepers (my oor-oumagrootjie) het dit geskryf toe sy al 100 jaar oud was.
 Hierdie pragtige voorskoot het sy vir Almarie gemaak met die hand!


Die huis waarin oumagrootjie gebly het op Wintershoek (bo) en op Roodepoort (onder) soos dit vandag lyk:




Hier is die res van die foto's op my facebook-profiel, gaan kyk gerus!
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151430719108981.1073741828.715933980&type=1&l=255c706edf