Pages

Wednesday, May 8, 2013

Dag een - Winburg en Bloemfontein (updated)

Ons sit nou in ons kamer by die "Angel's Haven" gastehuis in Bloemfontein na 'n lekker vol dag van geskiedenis. Ek dink nie ek het ooit geweet dit sal SO lekker wees om so rond te ry en "ou" goed te bekyk nie!

Ons het 6h00 vetrek vanuit Daleside, by my ma-hulle se huis, en dit was pragtig mistig tot anderkant Sasolburg.



Die kaal velde van die Vrystaat het vinnig begin verby ons vlieg en voor ons mooi agterkom dat ons al so ver ry, is ons toe in Winburg. 

Dit lyk asof dit 'n pragtige dorpie was. Mooi, ou huise en geboue is oral te siene. 




Ons het eerste die Voortrekkermonument gesoek en hom ook gekry, maar alles was toe agter slot en grendel. Ek dink Estelle het gesê dat die Erfenisstigting die plek nou sal oorneem, mens kan sien dat daar iets in die ou museum met "bubble-wrap" gedoen word, maar verder is die grasse lank, enige iets wat tekens van koper gehad het is afgebreek, uitgehaal en weggevat. 

Hier was 'n koper-plaat op, wat uitgekap is

al die beligting en kabels is uitgeruk


Dit is regtig 'n indrukwekkende plek, wat definitief pragtig moes wees.







President Steyn se geboorteplek was destds 'n museum. Die bord is nog daar,en die ou kliphuisie, maar die deur is oopgebreek en die huisie is leeg.



Net buitekant die monument-gronde is die Wessels-familiekerkhof met pragtige ou grafte van die Voortrekker tyd.



Ons het toe ook natuurlik die konsentrasie-kamp grafte gaan soek, en dit is toe mooi op die vullis-gronde! Hoe verskriklik! Mens kan darem ook sien dat daar onlangs skoongemaak is - seker ook die erfenisstigting se harde werk gewees?




Laastens het ons gou na die Winburg-kerkie gaan kyk. Hier het Feitjie en Schalk (in "Skrywertjie") gewoon en  Gideon Scheepers se ma is gebore, voordat hulle op die plaas Wonderfontein gaan bly het naderkant Middelburg.






Hierdie was moontlik die Dominee wie by die kerk geleer het toe Feitjie en Schalk daar gewoon het


Dit is hoe die kerkie gelyk het toe Schalk en Feitjie in Winburg gewoon het




Charmatjie het haar baie mooi gedra en was die hele pad baie soet en oulik!

Van Winburg af het ons Bloemfontein toe gery, en natuurlik was die groot doel om die Vrouemonument te gaan sien met die mooi standbeelde! En dit is regtig asemrowend mooi! 




Ongelukkig was die museums, die restaurant en basies alles on renovasies, wat 'n bietjie van 'n teleurstelling was. Johan van Zyl was darem so gaaf om ons die nuwe kinder-museum te wys. Blykbaar gaan hulle 'n groot seremonie hou op die 9de Augustus en alles weer oopmaak. Op vrouedag en die dag sal handel oor die lyding van vroue en kinders. Klink heerlik! Hier is gedenkstene van sommige van die konsentrasie-kampe waar ons Sophia Charlotte's in was.





Die Banneling:
 Die bitter-einder



Toe raak die dag bietjie lank vir my klein Charma-kind, en sy is toe nie lus om na die Bram Fischer-huis, of die ou presidensie of enige van die ander mooi ou geboue te gaan kyk nie. Ons het darem Hendrik Frederik Dietlof Papenfus se graf gekry in die "Brand-kerkhof". President Brand se dogter het met hom getrou.



Laastens het ons toe na die gebou by die stasie gaan kyk waar Milner en Kruger die besprekings gehou het voor die Anglo-boereoorlog toe hulle wou kyk of hulle nog die oorlog kon vermy. Dit was die enigste gebou in Bloemfontein wat 'n groot genoeg ronde tafel en saal gehad het vir al die afgevaardigdes om te ontmoet.

Nouja - nou is my popsie honger en dors en sy moet gebad en in die bed gesit word. More is dit Graaff Reinet!

Thursday, May 2, 2013

'n Road Trip saam met 'n Sophia Charlotte!

Ons gaan op 'n road-trip! Ek en my ma en my dogtertjie Charma (wie Sophia Charlotte sou wees as ons nog baie op tradisie gefokus was). 'n Egte Sophia Charlotte road-trip waar ons gaan ry en stop en skryf en praat en musiek luister en oorslaap en eet en alles!

Ons ry volgende week Woensdag uit Meyerton, Winburg toe. Daar sal ons gaan kyk na die Winburg se Voortrekker museum. Ons eerste karakter - Sophia Charlotte Papenfus (wie met Schalk van der Merwe getrou het) - of "Skrywertjie", het haarself daar bevind in 1856, toe haar dogter - Sophia Charlotte - gebore is.

In Winburg is daar ook 'n konsentrasie kamp gewees, waar ons sal rondloop.

Van daar af sal ons Bloemfontein toe ry - net so 120km verder, waar ons sal oorslaap.

In Bloemfontein is daar natuurlik nogal BAIE geskiedenis. Maar ons is op soek hoofsaaklik na 'n mooi foto van die Anton van Wouw standbeeld van die uitgeteerde kind, wat die ongev. 27 000 vroue en kinders gedenk wie gesterf het in die konsentrasiekampe.

So het Bloemfontein gelyk in omtrent 1900 (dankie aan Wikipedia!)

Ons sal definitief na die Oorlogsmuseum toe gaan en die Vrouemonument.

EN DAN... die grooooot "event", sal natuurlik wees Graaf Reinet.

Eerstens natuurlik om Skrywertjie se ma en pa te gaan soek in die begraafplaas, en ook natuurlik om ons "Scheepers-trots" - Gideon Scheepers se gedenksteen te gaan soek. Dit gaan baie interessant wees, en ons sal baie foto's neem en hopelik baie stories veramel op pad.

Wednesday, May 1, 2013

Boekbekendstelling foto's - Erfenisstigting

Ag wat 'n heerlike reis is dit nie sover nie!

Ek het gou vanaand die foto's gaan haal by my boetie en my niggie van die foto's en video's wat geneem is van ons bekendstelling wat by die Voortrekker monument, by die erfenisstigting gehou is op die 20ste April.

Hier is 'n oulike artikel wat op LitNet gesit is deur my boetie - Hein:
http://www.litnet.co.za/Article/boekbekendstelling-skrywertjie


Kyk net die mooi sentrum wat by die Voortrekkermonument is!

Dit was 'n heerlike aand, met nog 'n paar interessante fondse deur 'n ander Sophia Charlotte se dogter - Almarie. Kyk net hierdie mooi foto's van oumagrootjie Scheepers (die volgende boek se hoofkarakter):


 Kyk net hierdie kosbare briefie wat Almarie gebring het om te wys - oumagrootjie Scheepers (my oor-oumagrootjie) het dit geskryf toe sy al 100 jaar oud was.
 Hierdie pragtige voorskoot het sy vir Almarie gemaak met die hand!


Die huis waarin oumagrootjie gebly het op Wintershoek (bo) en op Roodepoort (onder) soos dit vandag lyk:




Hier is die res van die foto's op my facebook-profiel, gaan kyk gerus!
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151430719108981.1073741828.715933980&type=1&l=255c706edf

Wednesday, April 24, 2013

Ons is in die koerant!

Kyk nou net! Is dit nie mooi nie?

Die storie is nie heeltemal reg nie - prinses Sophia Charlotte het met George III van Engeland getrou en ongelukkig nooit in Suid Afrika kom woon nie, maar die res klink redelik korrek!

Thursday, April 18, 2013

Sophia Charlotte, die tweede

Nouja, mens kan nie vir altyd bly op een plek nie, en ek is saam met die opgewondenheid oor ons eerste boek, amper nog MEER opgewonde oor die tweede een!

Maar laat ek myself nie nou een voorspring nie.

Pets Marais het 'n boek geskryf met die naam "Die vrou in die Anglo-boereoorlog". Daarin beskryf sy hoe die Afrikaners was voor die oorloë. (Die eerste en tweede vryheidsoorloë). Sy sê dat ons mooi dorpe gehad het, op Europese standaarde, met goeie skole, parke en 'n lewendige sosiale en kultuur-program. Afrikaanse vrouens was gesteld op hulle voorkoms, en het al die nuutste modes gevolg soos die nuus deurgekom het van oorsee af. Meubels en klere en huislike ware is selfs ingevoer van Europa en Brittanje af.

Ons praat nou van die jare so van 1850 tot so 1880, die Groot Trek is verby en die mense is gevestig in Die Oranje Vrystaat en in die Zuid Afrikaanse Republiek. Die ZAR is erken na die ondertekening van die Sandrivier konvensie in 1852. In die kolonie is ook Afrikaners, maar die kolonie is nog onder Britse beheer. Vrouens het pragtig gelyk met hare wat opgevat is, en uitklok rokke.
Vrouens het egter nogsteeds hard gewerk, BAIE kinders gehad en was baie godsdienstig. Die taal Afrikaans het begin om 'n taal te word in sy eie reg, met die GRA (Genootskap vir Regte Afrikaners) wat pos gevat het en begin veg het vir die taal in sy eie reg. Meeste boeke en dokumente was in Nederlands, en natuurlik was baie in Engels.

Die posdiens was redelik goed gevestig al, en so ook biblioteke, en treindienste. Die telefoon het sy verskyning gemaak nader aan die draai van die eeu.

Op hierdie blog: http://mieliestronk.com/poskantore.html  skryf hy die volgende oor posdienste:

Die eerste werklike poskantoor aan die Kaap het eers ’n paar jaar voor die einde van die Kompanjie se bewind tot stand gekom. Op 2 Maart 1792 het waarnemende goewerneur Johan Isaac Rhenius ’n proklamasie uitgevaardig dat daar ’n poskantoor aan die Kaap geopen sou word. A.V. Bergh is as posmeester aangestel, en die kamer langs die spens in die Kasteel sou as poskantoor ingerig word. Benewens die posmeester was daar een posbode of briewebesteller.

Maar dit was eers in 1805, onder die Engelse bewind, dat ’n begin met ’n gereelde binnelandse posdiens gemaak is.

In 1849 is die Oranjerivier-Soewereiniteit se eerste poskantoor geopen, gevolg deur vier in 1850 in KwaZulu-Natal. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (voormalige Transvaal) se eerste poskantoor by Ferreira’s Camp het al die pos na die goudmyne gehanteer.  

Teen 1899 was alle dele van Suid-Afrika deur poskoetsroetes verbind. ’n Gereelde posdiens is ingestel en ’n posunie het tot stand gekom tussen wat nou die nege provinsies van Suid-Afrika en Mosambiek is.

Wat die seepos betref, het skepe wat na en van Indië gereis het, van 1815 af een keer per maand pos uit Engeland aan die Kaap afgelewer. Die seereis van 114 dae is tot 58 dae verkort toe die eerste stoomskip, die Enterprise, in 1825 in Tafelbaai aangekom het. In 1857 het die Union Line die Kaapse seeposdiens oorgeneem. In 1900 het die Union en die Castle Line saamgesmelt om die Union-Castle Mail Steamship Company te vorm. Die laaste posskip, die Windsor Castle, het in September 1977 uit Tafelbaai vertrek. 

So dis lekker om te weet dat ons "karakters" vir mekaar kon skryf oor nuus van oral oor. Want wat nou gebeur het, is dat ons storie oorskuif na die Transvaal toe. Vir die wie ons eerste boek - "Skrywertjie" nou al gelees het, Feitjie en Schalk het in Graaff Reinet getrou, maar in ons volgende boek, is hulle Sophia Charlotte gebore, en hulle woon op die plaas Wintershoek, naby Middelburg.

 


 

Monday, April 15, 2013

Ons eerste boekbekendstelling - by Randvaal Biblioteek.

Ons het ons eerste boekbekendstelling gehou in Randvaal se biblioteek en dit was so lekker!

Ek dink 'n mens kry min die voorreg om so 'n droom te sien waar word, en dit was heerlik om dit met my ma te deel.

Fourie Ackerman se sketse wat ons in die boek gebruik het

My sussie Naomi en haar vriendin, Lisa het die dekor vir ons gedoen - 
 

Sy het foto's gemanipuleer en gebruik vir ons uitstalling van prinses Sophia Charlotte, en ook van Carli, wie geposseer het as ons karakter, Feitjie. Carli is my oudste sussie, Charlotte, se dogter.


Soos belowe, was daar musiek!! Ek op die fluit en my sussie Maria op die kitaar.


Hier is die skildery van Feitjie en die prinses in die agtergrond wat ons boek se voorblad is. Die stoel sal julle ook raaklees in al die boeke!


My sussie Maria het gesing ook - ons het net afrikaanse volkliedjies en so paar liedjies van Coenie de Villiers en Louis Britz gebruik.




My pa het gehelp om die boek verkope te beman. Onthou dat julle boeke kan bestel op ons blog, of stuur net 'n e-pos vir my of my ma. As julle naby ons bly, dan kan ons die boek sommer vir jou bring ook!


Wat sal mens tog sonder familie doen?? My sussie Maria het die eetgoed en drinkgoed vir ons gedoen - dit het vreeslik mooi gelyk met mooi afrikaanse sê-goed en gedigte op papiertjies op elke bordjie.



Ons het altwee elke boek onderteken wat verkoop is - 


Selfs Midvaal se burgermeester was daar - Timothy Nast, en hy het 10 boeke gekoop vir die biblioteke in Midvaal!


Tannie Rita Otto het vir ons seremonie meester gespeel -


Hier staan ek gereed om my toespraak te lewer!


Dit was vir my so 'n besonderse dag gewees!


My moeder het ook gepraat en vir ons voorgelees uit ons VOLGENDE boek - net om almal lus te maak daarvoor!


My sus het ook baie mooi voorgelees - uit Skrywertjie.



 Nou lê die Pretoria boekbekendstelling nog voor, en ek kan omtrent aan NIKS anders dink nie!

As jy dit kan bywoon - kom asseblief! Laat weet my as jy kom, of as jy dit nie sal maak nie - koop 'n boek!